Van stokperdjie tot besigheid
Toe Brandon Conradie van Somerset-Wes vier jaar gelede sy eie boswa bou, het hy nie in sy wildste drome gedink dié belangstelling sal uitloop op ’n onderneming nie.
Vandag is Brandon die eienaar van Kamma Trailer, en hulle bou drie verskillende modelle: die 900s (volgens Brandon die gewildste); die 700s, wat ’n raps kleiner en ongerem is; en die Terra Maximus, ’n groter weergawe van die 900s. Brandon sê die idee is glad nie om die groot vervaardigers die stryd aan te sê nie; hy wil eerder op kampeerders fokus wat ’n eerste of tweede wa koop. Pryse wissel van R80 000 tot R103 000.
Al drie waens se romp bestaan uit aluminium of vlekvrye staal en jy kan uit vyf kleure kies – van beige tot donkerbruin en babablou. Al die skarniere is ook van vlekvrye staal.
Brandon gebruik ’n modulêre uitleg vir al sy waens. Daar’s twee regop deure voor asook twee horisontale deure én ’n gewone een agter. Hiermee saam kan jy tussen vier binne-uitlegte kies – en as jy iets anders in gedagte het, pas Brandon by jou idee aan.
In die standaardvorm is die waens heel basies – die 900s beskik byvoorbeeld oor die volgende: ’n glyraam vir ’n ys-vrieskas (vir tot ’n 60 ℓ-grootte), 220 V- en 12 V-sok, verstelbare dakrak, ’n neuskas met een deur, pyphoekstutte agter met nog ’n stut by die neuswiel, en rubbermatjies vir die binnekant. Brandon verduidelik die meeste van sy klante het al ’n waentjie besit en baie van hulle het reeds kamptoerusting soos ’n yskas, stoof en daktent. Jy kan dus die standaardwa toerus met net dít wat jy kort.
Die syfers 3,4 (l) x 1,8 (b) x 1,6 m (h); tarragewig ± 400 kg (sonder daktent); BVM 1 500 kg; en 1 600 kg-as. Kontak 082 773 6044 brandon@kammatech.co.za
kammatrailer.co.za