Kamp in die bos by Dinokeng
Dinokeng, die enigste Groot Vyf-reservaat in Gauteng, het nóg ’n kampplek bygekry. Devon en Sherri Symons het op hulle grond van 42ha vyf staanplekke in die bos ingerig en dit genoem na hulle seuns, Kyran en Leuan. Wat die Kyleu-boskamp besonders maak, is dat nóg die staanplekke nóg die kampplek omhein is. Hier kan jy jou maklik verbeel jy sit in die Okavango waar die wilde diere – ook leeus – enige tyd deur jou staanplek kan loop. Boonop staan jy ’n goeie 40 m van jou bure af, wat beteken jy gaan nie regtig van die ander kampeerders weet nie.
Elke staanplek het sy eie badkamer met ’n stort, toilet en opwasplek, maar hier is nie 220 V-krag nie. LED-liggies wat met sonpanele werk, sorg dat ’n mens kan sien as jy laatnag ’n draai wil loop.
Sowat 100m van dié staanplekke af – by ’n stroompie – is nóg twee staanplekke sonder enige geriewe; hulle is bedoel vir mense wat selfvoorsienend kamp. Kampeerders op die bosstaanplekke kry een sak gratis braaihout per dag – as jy nog nodig kry, kan jy teen R15 per sak koop. Devon-hulle bied ook wildritte aan waarop hulle jou die res van Dinokeng en sy diere wys. Dit kos R150 p.p. en neem 2 uur.
Die Symonse het reeds ’n verdere 6 ha toegespan waarin hulle volgende jaar “gewone” staanplekke wil inrig met geriewe soos krag, ’n swembad en winkel. Pryse Bosstaanplekke: R110-R190 p.p.p.n., afhangend van die seisoen en spesifieke dag van die jaar (gratis vir o.6’e) – 8 mense word per staanplek toegelaat. In skoolvakansies en oor naweke moet jy vir ’n minimum van twee nagte bespreek. Rivier staanplekke: R 100 p.p.p.n. (heeljaar). Omdat die kampplek in’ n reservaat is, word geen troeteldiere toegelaat nie. Kontak 060 458 4478
info@kyleu.co.za kyleu.co.za