Expresso
Seisoen 7 SABC3 (*193) 06:30 Leefstyl
Wat oggendmense betref, is Zoë Brown die spanleier in die leefstyloggendreeks Expresso (2010-nou). Sy is borrelend en wip oor die stel, maar die 27-jarige erken 2017 was ’n besige jaar. “Dit was deurlopend – selfs in Desember! Ek was drie dae in Berlyn, Duitsland, vir die Pitch Perfect 3-perskonferensie, Kersnaweek was ek aanbieder van die middagtydgleuf by die radiostasie Kfm, en by Expresso was ons ook besig!”
Het jy enige tyd afgekry in Desember? Ek was huis toe om my familie en vriende in Durban te besoek. Expresso was ’n paar dae van die lug af, daarom was daar laterige oggende in die bed. Jy het van Kaapstad verhuis, nè? Ja, ons het teruggetrek Durban toe toe ek 12 was, en ná skool is ek Stellenbosch-universiteit toe [Zoë het haar baccalareus- en honneursgraad in internasionale betrekkinge onderskeidelik in 2013 en 2014 behaal]. Jy het oggendradioprogramme gedoen, maar wat maak Expresso so anders as ’n oggend-TV-reeks? Ons saai regstreeks uit, dus moet ons improviseer wanneer iets skeefloop. Ons kan met ons kykers en ons gaste kommunikeer – die land is divers en ons probeer vir almal in SuidAfrika voorsiening maak. Was daar ’n episode wat uitgestaan het? Dis onmoontlik om een te hê, maar die vakansieseisoen was pret! Ons het mal streke uitgehaal in komkommertyd en dis gewoonlik meer ontspannend. En waarna sien jy uit die jaar, professioneel en persoonlik? Ons wil graag Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel-Peters (Mej. SA 2017), op die program hê, en ek beplan om meer te reis en avontuur te beleef.