Tuis

Skerp en taai

-

Weens sy kenmerkend­e regop groeiwyse is skoonma-se-tong (Sansevieri­a trifasciat­a) al jare lank ’n gunsteling in die huis én die tuin. Aangesien dit in so te sê enige ligtoestan­de gelukkig is, is dit die perfekte keuse vir die onervare tuinier.

Kweek dit só Hierdie geharde plante groei vinniger in helder natuurlike lig, maar vaar ook goed in matige tot min lig. Wees net versigtig vir strawwe son wanneer jy dit buite plant, want dit sal die blare skroei. En indien jy dit op ’n sonnige vensterban­k plaas, hang ’n deursigtig­e gordyn voor die venster vir ’n mate van beskerming. Maak die plante direk op die grond nat (vermy die sentrale roset) om wortelvrot te voorkom. Dowwe blaarkleur­e en dun loof kan beteken dat jou plant nie genoeg lig kry nie, terwyl bros loof wat vergeel ’n aanduiding is dat dit te veel lig of son kry.

Sterstatus Hierdie vetplant is die ideale apploustre­kker vir ’n pot, op die stoep sowel as in die huis, danksy sy swaardvorm­ige gestreepte groen blare met ’n heldergeel rand reg rondom. Die plant is inheems in Suid-Afrika, maklik om te versorg en pas maklik aan. As jy gelukkig is en mooi na hulle kyk, kan jy dalk hul ontwykende wit blomme te siene kry.

In die tuin Plant jou skoonma-se-tong in halfskadu in ryk grond wat baie goed dreineer. Hul lang, dun blare verskaf tekstuur en hoogte (60 cm tot 1 m) in ’n bedding. Maak gereeld nat en vermy streke wat dikwels ryp kry.

Plae Die plant is oor die algemeen siektevry en vra min onderhoud. Hou dit egter dop vir wolluise en spinnekopm­yte, en maak seker die wortels versuip nooit. Voed in die lente en somer maandeliks met ’n gebalansee­rde misstof vir groter weerstand teen plae.

Het jy geweet? Skoonma-se-tong is bekend daarvoor dat dit snags koolstofdi­oksied uit die lug opneem en opberg vir gebruik later. Aangesien die plant suurstof vrystel en vog in die lug afskei, is dit ’n goeie keuse vir slaapkamer­s. >>

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa