Koel en kalm
Rina Francis van Edenvale, Gauteng, skryf Die soldervertrek in ons huis raak bitter warm. Ons het glaswol-isolering tussen die dakteëls en plafon – wat met hout beklee is – ingesit. Daar is vensters aan weerskante van die solder en die dak is grys geverf. Wat kan ons nog doen om die ruimte doeltreffend te verkoel?
Mark Russell, hoof van tegniese ondersteuning en bemarking by IsoBoard, antwoord Daar is ’n paar belangrike oorwegings waarna jy moet kyk:
1 HITTE-OORDRAG Die solder is hoër as die bome wat natuurlike skadu sou kon verskaf, met ’n groot, donker dak-oppervlak wat hitte absorbeer. Hitte kom die ruimte ook binne deur die vensters en deure aan die ooste- en westekant. Ons stel voor jy bring terugtrekbare sonskerms buite, en gordyne of blindings binne voor die deure en vensters aan vir koelte. Ek sou ook weerkaatsende sonfilm op die glas oorweeg omdat die glas in kothuisvensters gewoonlik net 3 mm dik is en daarom nie veel weerstand teen hitte-oordrag kan bied nie.
2 VENTILASIE Die doel van plafonwaaiers is om lug binne die soldervertrek te sirkuleer. In dié geval kan die warm lug nie ontsnap nie, omdat die vensters aan weerskante te ver van mekaar is vir behoorlike kruisvloei-ventilasie. Dit is ook waarskynlik dat die binnetrap na die solder warm lug van onder af boontoe lei, waar dit dan in die soldervertrek onder die geïsoleerde plafon vasgevang word.
Die warm lug moet kan ontsnap. Omdat die plafon plat is by die hoogste punt, is daar ’n holte tussen die plafon en die dak se nok. In dié ongeïsoleerde ruimte kan die lug gedurende die dag tot 60 ˚C (selfs hoër) styg, en dié hitte word na die solderruimte uitgestraal. Ek sou jou aanraai om ’n dakspesialis te spreek om te bepaal watter soort dakventilasiestelsel die beste sal werk vir dié deel bo die plafon.
As die solder steeds onaangenaam warm is nadat jy skadu by die vensters geskep het en die plafon en die holte daarbo geventileer het, stel ons voor jy installeer IsoBoard teen die bestaande plafon. Omdat daar reeds isolasie is, behoort 30 mm dik IsoBoard die nodige verskil te maak, maar 40 mm sou beter wees. >>
KONTAK isoboard.com