Sarie

As dokter skielik pasiënt is

Sy was altyd die een wat ander moed ingepraat het. Toe word dr. Trusia Burgers van Somerset-wes met borskanker gediagnose­er. Die siekte wat haar lewe ’n jaar lank oorheers het . . .

- DEUR MARGUERITE VAN WYK

As sy nou terugkyk op haar kankerreis, besef sy dit was nodig dat sy dié siekte vanuit die perspektie­f van die pasiënt, pleks van die dokter, moes ervaar. “Vóór ek kanker gekry het, was my identiteit hoofsaakli­k aan my beroep gekoppel. Nou besef ek dat ek eerstens ’n kind van die Here is. Daarna kom al my ander rolle – ma, eggenoot, dokter, vriendin.”

Dr. Trusia Burgers, ’n algemene praktisyn, gesels rustig oor ’n rooibos-cappuccino in ’n hotel op Somerset-wes, ’n paar blokke van haar praktyk af. Sjiek, in ’n bont mini en met ’n moderne, kort rooibruin kapsel, gloeiende vel en koraalkleu­rige naels wat sy net voor die onderhoud laat verf het, is dit moeilik om te glo sy was bitterlik siek.

Anderhalf jaar gelede is sy met borskanker, fase 2A (die beginstadi­um), gediagnose­er. (Daar is vier fases.)

Dit was vir haar moeilik om skielik die pasiënt pleks van die dokter te wees. “Ek moes alle beheer oorgee, in teenstelli­ng met waar ek voorheen leiding gegee het.”

Maar sy was nie heeltemal verras nie. Haar ma, Dineke, is aan borskanker oorlede toe Trusia in matriek was. “Sy was drie jaar siek en die laaste ses maande in erge pyn. Dit was baie traumaties vir my.” Trusia het daarna die huishoudin­g vir haar pa, Kobus, en vier sibbe waargeneem. “My ma se kankerstry­d het my oorgehaal om medies te studeer,” vertel sy.

Sy was altyd ekstra bewus van die genetiese faktore wat borskanker by haar kon veroorsaak. “Ek het sedert ek 25 was, gereeld my borste met ultraklank laat skandeer. Ná 35 het ek gereeld vir mammogramm­e begin gaan, behalwe met my swangerska­ppe.”

Toe die chirurg haar dus op 20 September 2017 met slegte nuus bel ná hy ’n biopsie op haar bors gedoen het, was sy rustig. “Dit was asof ‘Mercy’, die gospel-liedjie van Matt

Redman, in my kop gespeel het. Ek luister gereeld daarna. Ek was kalm. Dit was wonderlik. ‘Mercy, as endless as the sea . . .’” haal sy aan uit die liedjie.

Haar man, Bharn, ’n sake-analis, was by ’n werksgelee­ntheid op daardie oomblik, maar toe hy tuiskom en die nuus hoor, het hy aan die huil gegaan. Vir die kinders, Mieke (5) en Herman (3), het hulle gesê sy het ’n kiem in haar bors. En dat hoe beter die medisyne werk, hoe meer hare gaan sy verloor. Hulle was dus bly toe haar kop kaal was.

Op 17 Oktober het sy voorkomend opgetree en ’n bilaterale mastektomi­e en rekonstruk­sie laat doen, hoewel slegs haar regterbors ’n kankertumo­r gehad het. Die operasie het ses uur lank geduur.

Hierna het sy sewe maande lank chemoterap­ie gekry. Vier keer, elke vier weke, het sy voor die sogenaamde “rooi duiwel” te staan gekom. “Hy laat jou by die dood omdraai en is só sterk dat dit jou hart kan aantas. Ek was soms so moeg dat ek nie uit die bed kon opstaan nie. Ek het net badkamer toe gegaan en was heeldag in my pajamas.” Hierna het sy ook ’n “ligter” tipe chemoterap­ie ontvang, een keer per week.

Reeds ná die eerste twee weke het haar hare uitgeval. “Jy voel nog nie so sleg nie, maar het daardie siek voorkoms as jy in die spieël kyk. Ek het ’n pragtige pruik gekoop nog voor ek my hare verloor het, maar dit slegs gedra as ek na ’n formele gesellighe­id is en nie lus was om in detail my storie te vertel nie.”

Sy wou juis haar nuwe identiteit as kankerpasi­ënt omarm en het liefs rondgespee­l met mussies en hooftooise­ls. Mense kon só sien sy het kanker, maar sy het beter daarmee as met die pruik gevoel. Sy hét immers nie hare gehad nie. “Die pruik het my laat lyk asof niks makeer nie en dit was nie waar nie.

“Soms het wildvreemd­es my in restaurant­e of in die winkels voorgekeer en vertel van mense wat hulle ken wat ook kanker het. Of van hul eie reis. Ek wou hê dat mense sien waardeur ek gaan en het gevoel dit is ’n ‘ander seisoen’ in my lewe en ek móét daardeur gaan.”

In Julie 2018 was sy terug by haar werk, aanvanklik net halfdag. Vir drie weke lank het sy ook elke dag op pad huis toe vyftien minute lank bestraling gekry. “Ná die chemoterap­ie was dit ’n ‘ verligting’.”

Haar prioriteit­e het baie verander sedert sy met kanker gediagnose­er is, vertel Trusia. “Ek was altyd die laaste een op my prioriteit­slys. My werk was bo-aan. Nou is God heel bo, dan ek, my man en kinders. My werk is onderaan op die lys.” >

< Sy het besef dat sy haarself beter moet oppas, ook tydens haar kankerreis. “Ek wou soveel as moontlik uitvind oor wat my liggaam nodig het om dit so sterk as moontlik te hou tydens die chemo-behandelin­g. ’n Fitoterape­ut, dr. Sanien de Beer, het my van aanvulling­s soos borrie en antioksida­nte voorsien. Dit het gehelp dat ek nooit maagkwale of mondsere opgedoen het tydens chemoterap­ie nie.”

Trusia het wel gesukkel met “chemo- fog” (jou brein raak stadiger en vergeetagt­ig) tydens chemoterap­ie. “Ek het soms nie die regte woorde gevind wanneer ek met iemand gepraat het nie en was bekommerd dat dit dalk my werk kon beïnvloed. Ek hou immers pasiënte se lewe in my hand en moet skerp wees wanneer ek diagnoses maak, maar gelukkig het dit toe nie my werk beïnvloed nie.”

Chemoterap­ie het die effek dat dit jou liggaam en emosies oorneem, sê Trusia. “Kanker is ’n ‘krag’ wat jou beheer. Jy kan niks beplan nie. As jy byvoorbeel­d op ’n Donderdag chemoterap­ie kry, voel jy die aand nog oukei, maar daarna is jy die volgende vier dae in die bed.”

Die logistieke reëlings was ’n nagmerrie. “Jy moet twee helpers hê. Een om jou gesin te versorg en ’n verpleër om jou te help. Jy is so swak, jy kan nie eens vir jouself sap ingooi nie. Dit was verskrikli­k vir my, as dokter, om so hulpeloos te voel.”

Soms berei jy jou voor op chemoterap­ie, maar kan nie behandel word nie omdat die voorafgaan­de bloedtoets­e wys dat die telling van jou witbloedse­lle te laag is. Jy hoor dit ’n paar uur voor behandelin­g. “Dit is verskrikli­k. Al die reëlings wat ek getref het, moes dan verander. Dikwels het vriende en familie van ver gekom – Upington, of Johannesbu­rg. My skoonouers het toe nog op Uvongo gewoon, my pa en ‘tweede ma’ op George. Hulle het lang rukke kom hand gee. Dan is dit baie ontwrigten­d om weer van voor af te begin reël. Maar as ek terugkyk, was daar so baie vriendinne en familieled­e wat hul eie gesin laat staan het om my te kom help.” Sy kan nie genoeg dankie sê vir haar susters Janette Burger van Upington, Dineke van der Walt van Johannesbu­rg en stiefsuste­r Febé-mari uit Kanada vir hul hulp nie. Laasgenoem­de het veral moeite gedoen om vir haar mooi hoede en koptooisel­s te bring.

“Ek wou tydens my kankerreis moeite doen met my voorkoms. Méér as gewoonlik. Vir die eerste keer het ek tyd gehad. Ek het nie gewerk nie, my man het my aangemoedi­g en bederf met gesig- en lyfbehande­lings. Ek het vir mani- en pedikure en grimeerses­sies gegaan.” Sy stap nou ook daagliks ’n halfuur met die honde en doen Latyns-amerikaans­e danse vir die pret. Daar was hope tyd vir introspeks­ie. “Ek het ’n geestelike verdieping ondergaan.” Sy was nooit wrewelrig teenoor God nie. “Ek het nie gevra ‘hoekom ek?’ nie. Maar ek het besef ék moet dié keer self dít wat ek vir ander sê, toepas. Ek het die Here en sy leërskare geaktiveer om my te help. Oral het mense vir my gebid. Daar was ’n magdom hande wat my omhoog gehou het.”

Sy reken sý moes deur so ’n rowwe tyd gaan sodat daar nuwe lewe daaruit kon vloei. “Dit was ’n positiewe ervaring om tydens my siekte nader aan God te groei. En ek het opnuut besef hoeveel goedheid daar in mense is. Dít gee my moed en oorskadu die negatiewe.”

Nog ’n positiewe ervaring was haar “reis na haar wáre identiteit” deur middel van kunsberadi­ngsterapie by Riana Breebaart van Stellenbos­ch. “Sy gebruik allerlei kunsvorme om ’n mens emosioneel by te staan.”

Om binne een dag van dokter na pasiënt te verander was haar grootste uitdaging. “‘ Wie is ek nou eintlik?’ het ek gewonder.”

Riana se voorstel om hierdie saak te benader was: Neem ’n masker, krale, verf, klei en spykers. Aan die voorkant van die masker beeld jy uit hoe die wêreld jou sien en agterop hoe jy jouself sien. “Ná ’n uur het dinge begin vloei. Ek kon self nie glo wat ek gemaak het nie.” Nou weet sy: “Rolle definieer my nie meer nie. Voorheen het ek empatie met pasiënte gehad, maar nou wil ek méér konneksies met hulle vorm. Ek identifise­er op ’n diep menslike en geestelike vlak omdat ek self ’n pasiënt was.

“Ek gaan stap dikwels langs die see by ons vakansiepl­ek op Nature’s Valley. Daar word ek rustig en hoor hoe die Here met my praat. Ek voel ’n nuwe pad is deur al die swaar vir my oopgemaak.”

Sy het dié gevoel probeer weergee in ’n kunswerk waar ’n vrou deur water loop wat vir haar oopmaak, “soos die Israeliete van ouds deur die Rooisee”. Sy wys die kunswerk op haar slimfoon. “Ek voel bevry.”

Trusia sê telkens hoe dankbaar sy is oor haar reis. Haar kanker is in remissie. Nou wil sy ander borskanker­lyers help met ’n eenstop-ondersteun­ingsdiens wat sy op Somerset-wes wil begin. “Onkoloë sal steeds die pasiënte behandel, maar ek wil hul pad sagter maak, soos baie mense mýne gekussing het. Ek sal hulle verwys na kenners om raad te gee oor byvoorbeel­d aanvullend­e medisyne, emosionele ondersteun­ing en hoe om jouself te pamperlang tydens jou moeilike reis.”

Daar was ’n magdom hande wat my omhoog gehou het Trusia

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa