Sarie

DEUR DIE SPIEËL GEFLOUS

- Helena-marie van der Westhuizen, Mosselbaai

Plooie het my nooit gepla nie. Ek vertel nog altyd met oorgawe dat ek nie ’n nag- of dagroom besit nie, en dat ek sommer was met wat in die stort is. (Gelukkig is ek met ’n metroman getroud wat darem sorg dat daar iets is.) Die veertigs staar my in die gesig en ek en my vriendin gesels oor oudword. Sy noem wat sy die meeste van haar twintigs mis, is die moeitelose mooi wees. Verby is die dae van opstaan, kam deur die hare, en siedaar, reg vir die wêreld.

Vanoggend kyk ek goed na myself in die spieël. Met drie kindertjie­s gebeur dit min. Op my voorkop is lyne; hulle sit daar, al frons ek nie! My lagplooitj­ies plooi sonder dat ek lag! Skielik is ek sommer oud. Ek haas my van die spieël na die rekenaar om te google hoe ek die wysters kan terugdraai, en toe sien ek my hande . . . ook vol lyne! Ek gryp die boekie met velsorgpro­dukte langs my en blaai verwoed, soekend na ’n wonderroom. Blaai, blaai, google, google, is dit al te laat? Is Botox my antwoord?

Moedeloos gooi ek myself op die bank neer, want al dié wonderkure kos ’n fortuin.

Manlief kom tuis en ek verwelkom hom met ’n soen. Hy vra uit oor my dag en ek vertel hom van die kinders en lag-lag van die ongemaklik­e situasie waarin ek myself bevind het. Toe ek stilbly, sê hy: “Jy is die mooiste vrou wat ek nog gesien het. Vyftien jaar terug het ek gedink jy is mooi, maar vandag is jy pragtig.” My kraaipootj­ie-plooie, belynde voorkop en ou hande ontspan heerlik toe ek besef dat die spieël my net geflous het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa