Laaste sê deur Riana Scheepers
Onlangs lees ek in ’n oorsese tydskrif ’n artikel oor die objekte wat ons lewens bepaal. Die artikel interesseer my nie dadelik nie, maar mettertyd raak ek tóg geboei. Elke mens se bestaan word gedefinieer deur vyf bepalende artikels, sê die skrywer. Die deursnee- moderne mens se bestaan word bepaal deur ’n rekenaar, ’n selfoon, parfuum, gholfstokke en ’n motor.
Kennelik is ek nie ’n deursnee- moderne mens nie. Om die dood kan ek nie dink waarom gholfstokke belangrik is nie. My motor, miskien, maar nie so dat dit my lewe bepaal nie. Ook nie parfuum of ’n selfoon nie. Die enigste objek wat vir my van belang is, is die rekenaar. Wat wel skitter in afwesigheid op hierdie bedenklike lysie, is boeke. En stapstewels. Watter ordentlike, beskaafde, moderne mens kan sinvol leef sonder boeke? En stapstewels? Die lys bevat ook nie klippe nie. Kom na my studeerkamer met my baie boeke (en ’n rekenaar), dan sal jy klippe sien. Baie klippe, en elkeen van hulle bepalend vir my lewe. Maar goed, elke mens het dinge wat belangrik is, en natuurlik sal dit van mens tot mens verskil.
Ek begin die speletjie speel. Ek begin die mense wat ek ken, tipeer met die objekte wat hul lewens bepaal. En toe word dit onverwags ’n prettige oefening. ’n Vriendin se bloedrooi lipstiffie wat haar handelsmerk geword het. Daar is selfs rooi lipstiffiemerke op haar rekenaarskerm.’n Ander vriendin se uitbundige kostuumjuwele. Vrolik en klingelend gaan sy deur die lewe, omring deur die mooi blinkgoed aan haar lyf. ’n Vriend van my is nooit sonder ’n maatband nie. Dinge moet gemeet word om sin te gee aan sy bestaan, want as hy die dimensies verstaan, voel hy veilig. Hy het ’n verstommende versameling meetinstrumente, maar koop gerus vir hom ’n maatband vir sy verjaarsdag, hy gaan hoog in sy skik wees.
Die lekkerte van hierdie klein analise, besef ek gou, is dat dit ’n nuttige instrument vir ’n skrywer is. Hoe skep mens ’n interessante karakter? Jy kyk na die dinge wat die karakter om hom versamel. Of jy géé vir jou karakter ’n aantal objekte – en kyk hoe dit sy lewe bepaal. Hoe meer uiteenlopend en vreemd sy besittings is, hoe opwindender is die mens wat jy skep, ’n mens met dimensies. ’n Karakter wat jou gaan verras. Al is jy nie ’n skrywer nie, kyk in elk geval na mense se besittings. Dalk gaan jy iets belangriks aflei, sonder ’n sielkundige sessie.
My man het een so ’n objek wat hom uniek tipeer. Hy het altyd, áltyd,’n sakdoek by hom. Spierwit en skoon. Toe ek hom leer ken het, was dit vir my ouwêrelds en sjarmant. Baie romanties. Kan jy dit glo, ’n man wat ’n vrou se trane (indien nodig) kan afdroog met ’n sakdoek van suiwer linne? Met ’n bietjie agterdog het ek wel gewonder – hoe sindelik kan dit nou wees? Dis my huishoudster wat die saak in perspektief gestel het. Meneer is ’n gentleman, hy móét ’n wit sakdoek by hom hê. Buitendien, het sy ewe parmantig gesê, het Mevrou nog nie agtergekom dat Meneer nooit sy sakdoek as ’n sakdoek gebruik nie? Ja, my man is ’n ouwêreldse heer. Genoeg rede om ’n man lief te hê. ’n Ouwêreldse, wit sakdoek se gebruik is nog lank nie uitgedien nie. Ek is op besoek by vriende in die buiteland. Toe ek weer met die trein vertrek, is die hele gesin op die perron om my af te sien. Ma, pa en ’n pragtige, plomp dogtertjie van vyf jaar oud. In die laaste oomblikke voor die trein begin beweeg, ek wat nog halflyf by die venster uithang om vir hulle te waai, gebeur die wonderwerk. Almal haal ’n wit sakdoek van êrens vandaan uit en begin vir my wuif. Die trein kom in beweging. Marthatjie, klein liefling, hardloop ’n paar treë saam met die trein en wuif met haar sakdoekie. Totsiens, totsiens! Die trane spring in my oë. Nog nooit het iemand só ontroerend van my afskeid geneem nie. Met ’n wit vlinder van vaarwel.