Agterblad
In die Bybelse verhaal, die een in Genesis van Josef en die Farao se skinker en bakker, word die skinker gered en die bakker boet met sy lewe ... Nou hoekom sou mense dan kosmaak? “Wat ’n onsinnige vraag,” sou iemand miskien dink. Dis mos voor die hand liggend: “Om te eet,” sou die antwoord wees.
Miskien moet ek eerder vra, wát maak dat mense kosmaak?
“Dis die versorger – gewoonlik die ma – se plig,” sou iemand sê. Dis soos die gee van moedersmelk – belangrik vir die welsyn van haar welpies – sy’s só geskape. Maar het jy al daaraan gedink of sy dit doen omdat dit van haar verwag word, of omdat dit vir haar lekker is?
En wat van die vrygesel wat vir hom/haarself kosmaak pleks van sommer ’n skrot-kosburger (my eie skepping vir “gemorskos”) of ’n mikrogolf-inplonsbakkie met lasagne op pad huis toe aan te skaf?
Hoekom sal jy ure deurbring om ’n terrien te bou as jy sommer ’n stuk vleis in ’n pan kan gaarskroei – dis nou vir eet?
Wie kry die vet fooitjie in die restaurant? Die mooi kelnerin of die sjef in die warm kombuis?
Hoekom sou iemand hom/haar afsloof om ’n melktert te bak as jy ’n meesterstuk by die tuisnywerheid straataf kan bestel?
Dit laat my terugdink aan ons jonggetroude lewe. Daar in die woonstelle van Sunnyside, Pretoria. Ons was maar bitter arm. Ons resepte-boekrak het uit Kook en Geniet van tannie De Villiers bestaan – bloot omdat ons dit by my ma as trougeskenk gekry het.
Ons was drie paartjies wat oor en weer gekuier het. Ek en Nanna (wat huishoudkunde op skool gehad het), Hynn en Hannetjie Engelbrecht (’n “gordynbloukok” – menende sy’t ’n cordon bleu-kookkursus geslaag) en PC en Mieke van Rensburg (’n prokureur van beroep, wat niks van kosmaak gehou – of geweet – het nie). Een keer ’n week het ons om die beurt by mekaar gaan “eet”. Eintlik net ’n verskoning om uit jou eie woonstel te kom. Maar soos ’n mens se aard nou maar is, het hierdie onthaalaksie ligtelik in ’n kompetisie ontaard. Gegewe Hannetjie se vaardigheid, ongeag beperkte fondse, was die ete by die Engelbrechts gewoonlik die wenner. Met Kook en Geniet was die Bakkes-poging ’n kortkop tweede. By die Van Rensburgs was die plonkrooiwyn ’n wenner. Tot een aand ...
Ons het skemeraand by die Van Rensburgs se woonstel ingestap. Die tafel was keurig gedek met ’n splinternuwe “table classic”-eetservies, wat ’n deur-tot-deur-smous ten duurste (drie maande se salaris) aan Mieke afgesmeer het. Ons het aangesit by flikkerkerse. Uit die kombuis, gevoorskoot, het Mieke skottels vol kos aangedra. Daar was Kaaps-Maleise bobotie, geelrys met rosyne en stomende waterblommetjiebredie en pampoenkoekies. Die verbasing was volkome en die kok het gebaai in die komplimente wat haar kant toe geslinger is ... Tot sy dit nie meer kon hou nie en bieg dat alle kos as wegneem by Toiings, ’n tradisioneel Suid-Afrikaanse restaurant, aangeskaf is!
Wat laat ’n mens ’n kok word (of sou sjef ’n beter woord wees)? Ja, ek weet dit lyk verskriklik bekoorlik en romanties – daai mense wat so woelig op TV kook. Maar wie was al in die kombuis, die enjinkamer van ’n restaurant of hotel?
Ek was bevoorreg om eenkeer vir ’n maand of twee vir De Malle Madonnarestaurant in die Paarl diens te doen as uiekapper. Wat ’n nagmerrie. Die tempo en druk van hel-op-aarde was ongelooflik. ’n Vol restaurant, met ’n skreeuende hoofsjef, verskrikte kelnerinne en honger klante is nie oorvertelbaar nie. En, ja, niemand het kom dankie sê of ons ’n fooitjie in die hand gestop nie. Pootuit het ek gewonder, nou vir wat wil iemand ’n kok word?
Hoekom het my ma haarself op Kersdag afgesloof om ’n tafel kreunend met kos voor te berei? Koue vleise om van te kies en te keur. Liplekker soet en sout terte. ’n Blok camembertkaas met neute, vye en geglasuurde kersies. En om alles af te sluit, ’n poeding ter gedagtenis aan die Russiese balletdanseres Anna Pavlova. Waarna ons dan trommeldik huiswaarts gekeer het, terug na ons eie lewe toe ...
Dan was daar skoonma Kitty se bord boerekos. Skaaptjops, aartappel, rys en tamatieboontjiebredie. Of skoonpa se gunsteling, roly-polypoeding, om ons op Sondae te lok …
Wat maak dat mense kosmaak? My vrou, Nanna, ’n sielkundige en skilder, het dit vir my probeer saamvat: “Kosmaak is ’n skeppende proses, jy doen dit omdat jy liefhet, die ritueel verstewig bande met jou geliefdes en skep die onthou.”
Ons het gisteraand ná jare weer by die Van Rensburgs gaan eet. Die Engelbrechts uit Polokwane was ook daar. Op die tafel was vars aspersies al dente met ’n suurlemoen-mayonnaisesousie en gerasperde cheddar. Gebakte baba-beet met peper, sappig gebraaide beeshaas-medaljons in ’n mosterdsousie en Marokkaanse amandelrys. Alles uit Mieke se kombuis. Sy’t gestraal, want eintlik is dit ’n voorreg om dit vir ander te kan lekker maak.