HERLAAIPOTPOURRI – DEEL 21
’n Toonaangewende Amerikaanse handlaaier, Dan Hackett, het by geleentheid gesê: “You cannot attend a course, or look at a video, or read a book and then think you can now reload at a master level. If that course, or video, or book, or even casual exposure to reloading makes you eternally curious about the dynamics of reloading, then you have spent your time and money well. Then you are in the right frame of mind to embark on this most satisfying activity. A good handloader never accepts that he knows all about handloading. He is always curious and is ever busy with research to acquire more and more knowledge, either through documented phenomenon or by exploration. He keeps on asking questions, mostly to himself or to someone he thinks that can put his mind on a fair track...”
Net soos die nuuskierigheid die vraagsteller geprikkel het, net so uitdagend is dit om die vraagsteller verder te prikkel tot hoër hoogtes.
VRAAG:
Ek herlaai al etlike jare patrone vir my jaggeweer. Hiervoor gebruik ek gewone RCBS-matryse en is baie tevrede met die patrone se prestasie. Ek het twee jaar gelede ’n .260 Remington gekoop en op aanbeveling ’n stel Redding-kompetisiematryse verkry, met die gedagte om die ammunisie so akkuraat as moontlik te laai. Die nuwe besem het tot my vreugde aanvanklik skoon gevee, maar met die verloop van tyd kon ek nie dieselfde vlak van akkuraatheid handhaaf nie. ’n Goeie geweerbouer het die geweer nagegaan, die kroon weer gesny en selfs die pakking in die kolf “verbeter”. Dit het ongelukkig nie veel gehelp nie. Ek verbeel my die geweer skiet beter met pasgelaaide ammunisie, maar tog het ek al fabrieksammunisie gebruik wat redelik goed presteer het. Is daar iets wat ek dalk met die laai van die patrone miskyk?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Uit die vraag moet ek aflei dat die vraagsteller die meganiese aspekte van handlaai onder die knie het en die kuns om ’n goeie skoot te skiet, bemeester het. Die vraag dui daarop dat die patrone aanvanklik goed presteer, maar dat dit oor verloop van tyd nie die prestasie volhou nie.
Ek het ’n soortgelyke ervaring gehad. Ek gebruik ook die sogenaamde “kompetisiematryse”, naamlik die Wilson-produk wat bussies gebruik vir die nekvorming. Ek het gedurende die eerste week van Oktober 2018 patrone gelaai en getoets vir gebruik tydens ’n kompetisie. Die gemiddelde trompsnelheid uit ’n 28 duim-loop vir ’n 6.5mm Creedmoor met ’n 139gr Lapua Scenar-koeël het 2 881vps gemeet. Die trompsnelheidverspreiding tussen die vinnigste en stadigste skote met drieskootsarsies is geboekstaaf as 12vps. Ek het nie al die patrone gebruik gedurende die skietoefening wat ’n week daarna plaasgevind het nie, en toe weer die patrone wat oorgebly het gedurende die eerste week in Februarie 2019 ge- toets om te sien of die geweer nog goed op skoot is. Groot was my verbasing en ontnugtering toe dieselfde patrone wat vier maande tevore so goed gedoen het, se gemiddelde trompsnelheid verlaag het tot ’n gemiddeld van 2 816vps. Meer kommerwekkend was die feit dat die verspreiding van trompsnelheid tussen die stadigste en vinnigste skote in ’n sarsie van nege skote, 88vps was. Ofskoon die groepering oor 100m nog steeds aanvaarbaar was (ongeveer 12.4mm), was dit nie konstant minder as 10mm soos vier maande tevore nie. Ek het die groepering ongelukkig nie oor langer afstande vergelyk nie, maar verstout my om te dink dat langer skote oor 200 en 300m nie meer so kompeterend sou wees nie.
Ek dink ons moet hier ’n bietjie gesels oor die tipe matrys wat gebruik word en wat die beperkings daarvan is in vergelyking met standaard-matryse. Standaard-matryse se ontwerp is daarop gemik om patrone veilig te laai, goeie akkuraatheid te lewer en te verseker dat die ammunisie wat daarmee gelaai word, oor ’n lang periode met goeie effek gebruik kan word. Fabrieke gebruik hierdie basiese matryse, wat volgens presiese afmetings vervaardig is. Hierdie matryse is ontwerp om ammunisie te laai sodat dit jare na vervaardiging steeds doeltreffend is. Die eienskap van ’n patroon om sy prestasie-eienskappe oor lang periodes te behou, is gesetel in die manier waarop die vormingsmatrys werk.
Soos ons almal teen hierdie tyd weet, speel die dop se nekspanning of “greep” rondom die koeël ’n belangrike rol omdat dit die trompsnelheid beïnvloed. Hiermee saam natuurlik, speel die volgehoue akkuraatheid van die ammunisie ook ’n belangrike rol. Vormingsmatryse wat die dop se nek nouer toedruk as wat nodig is (gewoonlik so .002”) en dan ’n strekknoop gebruik om die nek weer van binne af oop te maak tot op die verlangde deursnee, verseker dat die metaal neig om weer terug te “krimp” na binne. Dit veroorsaak dat die nekspanning beter behou word vir langdurige “greep” om die koeël, en dit het ’n meer eenvormige trompsnelheid oor ’n lang periode tot gevolg. Hoe dikker die dop se wande, veral rondom die dopnek, hoe beter is die dop geskik vir langtermynladings. (Dink maar aan die goeie gehalte-doppe soos Lapua, Petersen en andere.)
Hierteenoor gebruik die sogenaamde “kompetisiematryse” bussies waarvan die grootte presies bereken word om ’n bepaalde nekspanning vir die beste akkuraatheid van die koeël te verkry (daar is geen strekknoop wat die dopnek weer ooprek nie). Die bussie druk die gevuurde doppie se nek nouer sodat die nekopening tussen .001” en .003” kleiner as die koeël se deursnee is. Die metaal is geneig om weer “oop” te rek met verloop van tyd. Dit lei tot die verslapping van die greep rondom die koeël, met die gevolge wat ek tot my ontnugtering ervaar het.
Vormingsmatryse wat met bussies werk, is beslis ’n aanwins vir die kompeterende skut, maar die voorwaarde is dat die patrone nie lank voordat hulle benodig word, gelaai word nie. As ons onthou dat die gedagte van bussiematryse by die akkuraatste kortafstandskietdissipline, naamlik Benchrest, ontstaan het, kan ons weet dat dit die matrysontwerp is wat die beste resultate oplewer. Saam hiermee moet ons ook onthou dat die Benchrest-skut nooit sy patrone vooruit laai nie. Hy laai
sy patrone op die baan, werklik minute voor hy gaan skiet om die beste voordeel uit die berekende nekgreep te kry. Verder skil hy die doppe se nekke dat hulle presies in sy geweer se kamer kan pas en ook om absolute konsentrisiteit van die patroon te bevorder. Die skil van die dopnek veroorsaak ’n dunner nekwand en dit verlaag die metaal se vermoë om ’n langdurige greep rondom die koeël te verseker.
Bogenoemde beteken nie dat matryse met nekbussies nie deur kompeterende skuts met fabrieks- of pasmaakgewere gebruik behoort te word nie. Ek dink ons moet net ’n bietjie ons laaigewoontes en die benutting van matryse hersien. Dis dalk ook die moeite werd om weer ’n keer te dink oor hoe ons die “standaard”-matrys se eienskappe beter kan benut en selfs die ontwerp daarvan bekyk en vergelyk voordat ons sommer net goedsmoeds die verkeerde keuses maak.
Skuts soos ons wat daarna streef om aanhoudend raak te skiet, moet dalk kyk na kombinasies van goeie koeëlplaasmatryse en goeie strekknoopvormingsmatryse. Daar bestaan matryse met karbiedstrekknope en nekknypmatryse (collet dies) wat dit onnodig maak om doppe se binneskouers te smeer vir die vormingsproses. Hieroor mag daar dalk verdere vrae by herlaaiers ontstaan, wat ons dan later sal behandel.
VRAAG:
Op die advies dat ek ’n chronograaf tydens ladingontwikkeling gebruik, het ek ’n MagnetoSpeedchronograaf aangeskaf. Ten spyte daarvan dat die regte, aanbevole trompsnelheid registreer, en die interne ballistiese data volgens QuickLOAD binne die para- meters van gesonde balans is, kan ek nie konstante groeperings skiet nie. Kan dit moontlik wees dat die chronograaf wat aan die geweer se loop geheg is, tot hierdie probleem bydra?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Baie beslis ja. Die MagnetoSpeed is ’n wonderlike instrument wat in enige ligtoestand betroubare trompsnelhede registreer. Dit het verder die eienskap dat data maklik bestuur en direk op ’n rekenaar afgelaai kan word vir rekorddoeleindes. Ek het egter gevind dat ’n mens die MagnetoSpeed anders moet gebruik as wat jy gewoond was om te doen met die bekende fotosel-chronograwe wat op ’n staander voor die geweer geplaas word. Meegaande foto’s dui op die verskille wat ek geregistreer het met die groeperingspatroon op 100m, met ’n MagnetoSpeed aangeheg, en ook daarsonder. Dieselfde ladings is gebruik. Die geweer ter sake is ’n Howa-model 1500 in 6.5mm Creedmoor wat aan Gerhard van der Walt behoort. IMR 4350kruit en CCI 200-slagdoppies is saam met Norma-doppe en 139gr Lapua Scenar-koeëls gebruik. Die trompsnelheid met die MagnetoSpeed gemeet was 2 743vps met ’n snelheidsverspreiding van 14vps.
Foto 1 wys die groepering met die MagnetoSpeed aangeheg, terwyl foto 2 dieselfde lading se groepering sonder die chronograaf aandui.
Ek het dieselfde vergelyking met ’n MagnetoSpeed aan ’n baie swaar- en dikloopgeweer gedoen, maar ongelukkig nagelaat om foto’s daarvan te neem. In die geval van die baie dik/ swaar loop was die verskil nie so dramaties nie, maar die verplasing van die groepe was steeds daar, sowel as die grootte en konstantheid van die groepe. Hoe ligter en dunner die geweer se loop, hoe meer dramaties is die effek van die MagnetoSpeed op die loop se vibrasie, modulasie en golfpatroon.
My ervaring tot op hede is dat die MagnetoSpeed ’n uitstekende chronograaf is, in alle ligtoestande goed werk en nie deur die lugslag van buurman se skote beïnvloed word nie. Sodra die lading egter stabiliteit in spoed wys en die drukvlakke reg is, moet die MagnetoSpeed verwyder word vir die finale fynere verstelling van lading en patroonlengte, sodat die geweer se groeperingsvermoë bevestig kan word. Die gemiddelde spoed vir die beste groep wat geskiet word, kan (nadat die lading gefinaliseer is) vir rekorddoeleindes weer met die MagnetoSpeed bevestig word. As die herlaaier daarvan hou om deurgaans sy skote deur ’n chronograaf te skiet, is dit beter om ’n losstaande chronograaf of radarspoedmeter te gebruik.
GENIET DIE ONTDEKKINGSREIS, DIT IS ONS PAD VAN VOORUITGANG. * Kassie kan gekontak word by Dave Sheer se fasiliteit in Montana, Pretoria by 010-300-1222, of kassie@davesheer.com