Vra vir Kassie
Daar is gewoonlik ’n hele aantal uiteenlopende kwelvrae wat handlaaiers se gedagtes besig hou in hul soeke na kitsantwoorde om handgelaaide patrone nóg beter te laat presteer. Hier volg ’n paar van daardie kwellinge:
VRAAG:
Ek besit ’n .30-06 Springfield wat op ’n K98 Mauser-aksie gebou is. Die geweer word vir jag en algemene skietbaanwerk gebruik. Hoeveel keer kan ’n dop herlaai word voordat dit aan die einde van sy lewensiklus gekom het?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die aantal skote wat ’n dop kan hanteer, hang van ’n paar faktore af. Verskillende vervaardigers se doppe se fisiese eienskappe verskil ten opsigte van materiaalgehalte, die vervaardigingsproses en ook die kwa- liteitbeheer. Hieroor het die herlaaier nie beheer nie, behalwe om ’n spesifieke vervaardiger van sy keuse te ondersteun.
Doppe met die dikste wande, sterkste web/kop en hoogste smeegehalte is waarskynlik die beste keuse vir veelvuldige gebruik. Soms is daar nie ’n keuse nie en moet die herlaaier dít gebruik wat beskikbaar is. Die belangrikste faktor vir die herlaaier wat die maksimum gebruik uit sy doppe wil kry, is waarskynlik hoe hy hulle voorberei en onderhou. Die dop behoort heel eerste gevuurvorm te word om die geweer se kamer behoorlik te pas.
Doppe moet verkieslik gereeld uitgegloei word en moet binne en buite skoongemaak word van koolstofneerslag, voordat dit gevormdruk word. Die vormmatrys moet korrek volgens die geweer se kamerkopspasie opgestel wees en dit moet verseker word dat die dop se binnekant gesmeer is waar die nek en skouer bymekaar aansluit, sowel as op die wrywingsvlakke aan die buitewand.
As hierbenewens matige tot sagte ladings gebruik word, behoort ’n dop minstens 10 keer gebruik te kan word in normale jaggewere. Hoe wyer/groter die geweer se kamer, veral die nekdeursnee, hoe nadeliger is dit vir ’n dop. Dit stel eise aan die herlaaier om die dop na elke skoot te inspekteer en uit te gloei. Klein geweerkamers is meer vergewensgesind en dra by tot langer dopleeftye. Ekself het die geleentheid gehad om ’n stel doppe in rotasie, gemiddeld 77 (sewe-en-sewentig) keer elk te herlaai vir ’n lae-toleransie kompetisiegeweer.
Sommige mense beweer dat doppe se lewe verder verleng kan word deur slegs nekvorming toe te pas, in plaas van volmaatvorming. Dis egter ’n feit dat doppe wat behoorlik onder- hou word, al word hulle volmaat gevorm, ook baie lank kan hou. Met slegs nekvorming maar geen verdere onderhoud nie, sal doppe ook nie lank hou nie.
Ek dink dis billik om te verwag dat ’n standaard-jaggeweer se doppe wat behoorlik onderhou word, minstens 10 keer herlaai kan word, met tot 30 skote nie ’n onmoontlikheid nie. Vir gewere met nou kompetisiekamers, is 50 skote per dop nie vreemd nie.
Daar bestaan regtig min rede om doppe wat vir ’n geweer gekondisioneer is, op sigwaarde te vervang. Doppe wat nekkrake opgedoen het, strekmerke of krake/perforerings bokant die web toon, waarvan die slagdophulse gerek is, of waarvan die kopdeursnee sodanig geswel het dat die patroon moeilik of glad nie kamer nie, se lewenstyd is egter verby.
VRAAG:
Ek verstaan dat vormdrukmatryse, veral karbiedmatryse ( carbide sizing dies), nie teen die dopskoentjie moet druk tydens die vorm van doppe nie. Is dit so en wat is die rede daarvoor?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die gewoonte om volmaatmatryse tot teen die dopskoentjie te stel (soos wanneer die pers se hefboom ten volle afgedruk is om die dop te kan hervorm) en die matrys dan ’n sestiende tot agste draai verder in te draai, kom waarskynlik van die gebruik van perse wat ontwerp is om net voor die handvatsel heeltemal afgedruk is, op ’n hoogtepunt te cam. Wanneer die matrys dan tot teen die »
» dopskoentjie gestel en gesluit word, veroorsaak die cam- aksie addisionele drukking tussen die dopskoentjie en die matrys tydens die vormsiklus. Om dieselfde addisionele drukking te verkry met perse wat nie cam nie, het die gebruik moontlik ontstaan om die matryse effens dieper as die dopskoentjie se hoogte te stel. Die enigste logiese verklaring wat ek hiervoor het, is dat dit gedoen word om te kompenseer vir die ongelyke druk wat die herlaaier moontlik op die hefboom van die pers met opeenvolgende dopvormings doen. Hierteenoor sorg die cam elke keer dat eenvormige druk plaasvind as gevolg van die meganiese aksie daarvan.
Myns insiens behoort ’n mens nie die vormmatrys dieper as die kontakpunt met die dopskoentjie te stel nie, omdat dit geen regverdigbare doel dien nie. Die gevaar bestaan dat die pers se hefboomskakels eerder hierdeur oor die langtermyn beskadig kan raak. As die geweer se kamerafmetings dan ’n korter kopspasie verg en dit nodig word om die matrys dieper te laat sak as die kontakpunt met die verhewe dopskoentjie, behoort die afwerking van die matrys se onderkant eerder oorweeg te word. Dit sal verseker dat die doppie se skouer tot op die regte maat teruggedruk word.
’n Karbiedmatrys het ’n baie harde gepoleerde ring aan die onderkant van die volmaatmatrys. Die gepoleerde tungsten-karbied benodig geen smering vir die doppie se vorming nie. Die karbiedring kan egter splinter wanneer dit onder druk teen die dopskoentjie, wat ook verharde staal is. Dit is om hierdie rede dat vervaardigers van sulke matryse spesifiek adviseer teen kontak tussen die dopskoentjie en die matrys.
VRAAG:
Wanneer ek skiet is daar ’n groot oranjekleurige flits by die tromp van die geweer sigbaar. Dit is veral duidelik tydens skemer en laeligtoestande. Van my vriende is van mening dat dit onverbrande kruit is wat dan buite die loop brand en nie bydra tot konstante skootprestasie nie, tog verkry ek redelik goeie groeperings. Wat kan ek doen om beter kruitverbranding te verkry?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die trompflits word nie eintlik deur onverbrande kruit veroorsaak nie, maar deur die warm gasse wat deur die ontbranding van die dryfmiddel veroorsaak word en dan agter die koeël, by die tromp uit, as deel van die drukgolf ontsnap.
Onverbrande kruit vlieg as vaste partikels by die tromp uit en kan as swart spikkels op ’n skerm gesien word as die skerm so twee tot drie meter voor die tromp opgestel word. In die geval van sekere dryfmiddels, veral die “vinnige” tipes vlokkiedryfmiddels vir handwapens en haelgewere, kan kruit wat nie in die loop verbrand het nie, egter wel tot ’n mindere mate bydra tot die trompflits. Van die bymiddels, soos byvoorbeeld kalsiumkarbonaat, kaliumsulfaat, potasnitraat en andere wat by dryfmiddels gevoeg word, inhibeer die helderheid van trompflits. Baie vervaardigers gebruik die flits-inhibeerders as ’n chemiese lagie wat om die kruitstafies of korrels aangebring word.
Ander gebruik die inhibeerders as deel van die bindmiddels om die grootte van die kruitpartikels te “koek”. Die tipe flitsinhibeerder bepaal hoe effektief die flits in bepaalde looplengtes gekontroleer word. So mag dit wees dat ’n dryfmiddel in ’n kort loop ’n groot en helder flits vertoon, maar in langer lope omtrent geen flits vrystel nie. As ’n groot of helder flits om taktiese redes onaanvaarbaar is, kan met verskillende dryfmiddels geeksperimenteer word tot ’n aanvaarbare dryfmiddel gevind word wat ook goeie skietresultate lewer.
Dis om hierdie rede dat dryfmiddels wat vir militêre ammunisie gebruik word, so ontwikkel word dat dit die minimum trompflits veroorsaak. Die trompflits behoort egter nie die skietre- sultate te beïnvloed nie. As jou resultate swak is, gebruik jy moontlik nie die regte dryfmiddel nie, of nie die regte kombinasie van dryfmiddel, slagdoppie, looplengte en koeëlprofiel nie.
VRAAG:
Hoe word trompsnelheid beïnvloed as dieselfde ammunisie uit eenderse lope van verskillende lengtes geskiet word?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Langer lope lewer meestal hoër trompsnelhede as eenders gelaaide patrone uit verskillende looplengtes geskiet word. Dis omdat die drukgolf agter die koeël gekanaliseer bly en bydra tot die versnelling van die koeël terwyl dit in die loop is.
Toetse wat deur Chuck Hawkes in die VSA gedoen is, dui daarop dat die toename in looplengte nie ’n liniêre toename in spoed tot gevolg het nie. Die spoed neem eksponensieel minder toe hoe langer die loop is en teenoorgesteld as die loop korter word. Om egter ’n vinnige riglyn te gebruik, kan die volgende basiese formule gebruik word om die toename/afname te bereken:
Vir die eerste vier duim (ongeveer 10cm) wat ’n loop langer is, kan ’n snelheidstoename/ afname van 1% per duim bereken word. Vir die volgende vier duim kan 0.75% per duim (2.54cm) afgetrek/bygetel word en vir die volgende vier duim, ongeveer 0.5% per duim. Dis egter nie ’n betroubare berekening nie, maar bloot ’n vinnige praktiese aanduiding. Hierdie verskynsel beïnvloed natuurlik die keuse van groefdraaiverhoudings wanneer lope van verskillende lengtes gekies word om bepaalde akkuraathede met dieselfde koeëls oor dieselfde afstande te behaal.
Meer hieroor in ’n volgende rubriek. Dit is egter interessant dat verskillende looplengtes nie ’n noemenswaardige verskil aan interne drukvlakke vir dieselfde patrone maak nie.
BEWAPEN JOUSELF MET GENOEG KENNIS!