SA Jagter Hunter

Nog ’n la(a)ng skoot

- Pieter Pretorius

Vir die afgelope 64 jaar was ek ’n stapjagter. So het my pa my geleer. Van wind en son. Van loop en kyk, en kyk en loop. Van bloed wat ’n bolletjie rol. Van spoor vat en nog baie ander dinge van die bos.

Dit beteken egter nie dat ek nog nooit vanaf ’n bakkie met of sonder ’n lig geskiet het nie. Ook nie dat ek nooit op die rivier se walle weggekruip het nie, of dat ek nooit springbokk­e voorgesit het nie. Inteendeel: As ons vir die mark of slaghuis moes uitdun dan het ons dit só gedoen. Ek was vyf jaar oud toe ek my eerste springbok in die Kalahari geskiet het. En daarna? Nou ja, meer as ’n paar bokke.

In September verlede jaar is ek met longkanker gediagnose­er. ’n Groot gedeelte van my linkerlong en die hele longvlies is verwyder, waarna chemoterap­ie en bestraling gevolg het. My stapvermoë was iets van die verlede.

Toe Meimaand se jagweek kom, het die seuns gesê: “Pa gaan saam. Reël só dat die bestraling ’n paar dae aangeskuif word. Ons weet nie of dit die laaste keer is nie.” So gesê, so gedoen. »

Die jagveld, soos die lewe, gee jou soms vir oulaas ’n kans.

» Vir die eerste twee dae het ek maar saamgery met die af- en oplaai en ek moes natuurlik sorg dat daar iets te ete was as die manne terugkom by die kamp. Op die derde middag het Burger jr, daar van Zeerust af, gesê: “Oom Piet, ek het vir jou ’n stoel en ’n boom wat platlê daar in die kamp waar die wildebeest­e met die geel tags loop – my teelbulle. Niemand word daar toegelaat nie, maar oom kan gaan.” En nadat Burger my afgelaai het, was sy laaste woorde weer: “Oom Piet, as Oom ’n geel tag skiet, gaan oom betaal. Lank betaal.”

Met dié gedagte voor in my kop het ek maar gewens die geel tags bly weg en ek het my sit en vertroos met die rooiborsla­ksman wat hom min aan my gesteur het bokant my in die boom. Die paartjies patryse wat so pik-pik, stert-op, stert-af tot by my geloop het, het die tyd opgevreet. Die enigste bok wat ek gesien het was ’n ou duikerramm­etjie wat net so grys soos ek was en hom maar min aan die patryse gesteur het.

Dit was al sterk skemer toe ek oppak, seer gesit en sonder sukses. Daar naby was ’n ou ronde krip en dit het toe my nuwe sitplek geword – net hoog genoeg vir maklik sit en opstaan.

Diep gedagtes wat op ver bospaaie loop, het my besig gehou. Wat my laat opstaan en omkyk het, sal ek nooit weet nie. Dalk maar ’n bietjie bangheid, wie weet, maar toe ek kyk, staan daar ’n troppie blouwildeb­eeste net drie meter van my af, met daardie gesigte so swart dat jy net die blou sien. Chaos! Wie die grootste geskrik het sal ons nooit betwis nie! Die troppie het soos een man omgevlieg en die pad gevat. Met dié het ek gelaai en agter die muurtjie op my knieë gesak – dooierus op my elmboë. Tot my verbasing het die klompie net so 15 meter genael, omgevlieg en seker probeer uitwerk waar daardie ding by die dam heen is, want hulle het reguit na my staan en kyk (of daar waar ek moes wees).

“Geel tag of te not, nou skiet ek!” het dit deur my kop geflits. Gelukkig is teleskope beter as ’n mens se oë en al kon ek nie die koppe mooi sien nie, was die lywe die hele lens vol en ek het die een wat regs gestaan het, geskiet. Die bok het trap-trap hier langs my verbygesto­rm. “Hartskoot!” kon ek my pa hoor sê. ’n Paar treë verder het hy egter omgevlieg en die bos ingehardlo­op. Maar toe die takke kraak, toe weet ek: hy lê! Aan ’n prys wou ek nie dink nie... nie tóé nie. Sit en wag was toe die beste opsie totdat Burger my kom oplaai.

Burger se eerste woorde was: “Nou vir wat skiet Oom so in die amper-donker? Ek het Oom mos gesê nie dié met ’n geel tag nie. Oom gaan betaal.” Ek het niks gesê nie, maar in my kop begin uitwerk hoe ek vir die volgende klompie maande gaan afbetaal.

Burger is toe daar in die bos in na waar ek beduie het. Hy het ’n entjie met sy selfoon se lig aan geloop, maar na so 30 meter omgedraai en gesê dat daar niks is nie en dat dit te donker is. “Ons sal môre kom kyk.”

Hy het gewag totdat ek ingeklim en die deur toegemaak het, en dis tóé dat hy begin lag. “Oom,” het hy gesê, “hy lê daar, ’n gróót bul!”

“En die tag?” wou ek weet. “Nee Oom, hy’s skoon!”

Wie die blyste was, weet ek ook nie. Jy kan maar raai, maar dat ek weet dat dit my naaste skoot ooit was, is seker. Reg van voor, in die hart op 20 meter. Ek dink dit was nader, maar dan sal die mense sê ek las by, soos ons maar maak met die ver skote. Die belangriks­te is egter dat daar biltong in die kas hang as bewys.

NS: My behandelin­g is voltooi en my kanker is in remissie. Genade onbeskryfl­ik groot! Ek en my seuns kan vir nog ’n keer of wat weer bos toe gaan.

 ??  ??
 ??  ?? Hier poseer Pieter (links) met die blouwildeb­ees wat hy teen skemer op kortafstan­d geskiet het.
Hier poseer Pieter (links) met die blouwildeb­ees wat hy teen skemer op kortafstan­d geskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa