Bospos – Sê jou sê
E-pos na Eunia.Barnard@media24.com
ITALIAANSE PASSIE
Toe ek in die artikel, Rizzini se
Rhino, in SA JAGTER/HUNTER (Maart-uitgawe) lees van die passievolle Italiaanse voëljagters, het ek teruggedink aan iets wat die skryfster Anna M. Louw in haar boek, Agter My
’n Albatros, ons matriek voorgeskrewe boek in 1963, geskryf het...
“Voor die ristourante sit daar vanoggend drie sulke jagters en wyn drink. Hulle motorfietse staan en wag buite onder die bome. Aan die handvatsels is die gewere vasgehaak en die ‘wild’ wat hulle in die loop van die dag geskiet het; bossies klein, klein voëltjies, so groot soos mossies en swaeltjies en bosduifies. ‘Waarom sou hulle dié goedjies skiet?’ vra ek verwonderd. ‘Hulle kook glo sop van die voëltjies’, sê Hans. ‘Het jy dan nie gehoor van die kwessie tussen die Noord-Europeërs en die Italianers juis oor voëltjies nie? Die Noord-Europeërs neem die Italianers dit bitterlik kwalik dat hulle die voëltjies, as hulle in die herfs suidwaards na Italië vlieg, so uitroei.’”
Ek het toe ’n bietjie navorsing gedoen om te sien wat die posisie 55 jaar later is...
“Wildlife protection organisations claim: Bird species including the tufted duck, pintail duck and lapwing are already at risk of extinction because Italians shoot too much and badly. Once the autumn migrants cross the Italian border on their route to Africa, they fly into a hail of lead from thousands of hunters.
A total of 36 bird species can be legally hunted in Italy – the majority of them short and long distance migrants such as skylarks, turtle doves and a variety of waders. The authorities permit each of the 710 000 registered hunters a shooting bag of 30 birds on 60 hunting days per year. This results in the death of more than 17 million birds in Italy.”
Verder word daar ook uitgewei oor die Italianers wat wil hê die jagseisoen moet langer wees en hoe hulle die bag limits verontagsaam. Nou ja, so roei party van ons die voëls passievol uit en ander roei weer die renosters uit om passievol te wees. JOACHIM WILLEM DU
PLESSIS • Joachim wen ’n Safari & Outdoorgeskenkbewys ter waarde van R500.
DRANKMISBRUIK
Ek het ’n jaggeweer, asook ’n haelgeweer aangeskaf, nie net vir jaggeleenthede nie, maar ook om deel te hê aan die toepaslike aktiwiteite wat jagverenigings aanbied. Ek het dus by die vereniging aangesluit en met groot afwagting ’n vergadering van die plaaslike tak bygewoon. Ek was bewus van die reëling dat daar na die vergadering genoeg geleentheid sou wees om sosiaal te verkeer.
Die vergadering is met die gebruiklike skriflesing en gebed geopen. Groot was my skok toe dit vir my lyk asof ek in ’n kroeg ingestap het. ’n Groot getal van die lede het gedurende die verrigtinge, asook tydens die verloop van die vergadering drank gebruik. Ek het die vergadering verlaat en weereens besef dat ons Suid-Afrikaners hulself nie kan handhaaf sonder drank nie.
Is drank die maatstaf van die jagvereniging? Wat is die situasie gedurende skietkompetisies? Ek sidder om te dink wat in die jagveld plaasvind...
Ek wil dit duidelik stel dat elke persoon sy eie besluite mag neem oor sy doen en late, dit sluit natuurlik die gebruik van drank in. Daar is egter ’n perk. Gelukkig is dit my keuse om nie met sulke gebruike te assosieer nie. In die lig hiervan, stel ek nie daarin belang om verder ’n lid van die jagvereniging te wees nie.
JOHAN NEL
GIDSE SE WANGEDRAG
Ek wil graag kommentaar lewer na aanleiding van die artikel Jagters se wangedrag deur André van der Merwe (SA JAGTER/HUNTER, Maart 2015).
Ja, ek stem 100% saam dat die gedrag van sommige jagters dit baie moeilik maak vir ander etiese jagters. Boonop is hulle die oorsaak dat boere hul wildpryse verhoog.
Die probleem lê egter nie altyd by die jagter nie...
Ons is ’n groep van ses, soms agt jagters wat nou al vir ’n hele klompie jare saam jag. Twee jaar gelede het ons in Barkley-Wes se omgewing gejag. Ek en my seun het eers laataand op die plaas aangekom. Met die aankoms was dit duidelik dat die PH alreeds goed beskonke was.
Ongelukkig het hy ook bedags gedrink sodat dit regtig onaangenaam was. Ek het ongelukkig ’n bok gekwes, maar dadelik teruggegaan kamp toe om dit te rapporteer en ons is as groep veld toe om die kwesbok te soek. Die beskonke PH het sommer met die afklimslag ’n rigting ingevaar, ’n denkbeeldige spoor gevolg en toe voorgegee dat hul die bok gesien het – met baie bloed aan die blad (Ek het nie na die blad geskiet nie.)
Nodeloos om te sê, ons het nie die bok gekry nie. Ek het wel vir die bok betaal omdat ek gesien het hy val. Ek het vermoedelik ’n horing raakgeskiet. Die slegte sy van die saak is dat daar ’n gewonde dier rondloop.
Wangedrag van sogenaamde professionele jagters, wat die voorbeeld moet stel, professioneel moet optree, eties moet wees en die reëls moet neerlê, kan ’n groot verleentheid wees vir die bedryf. En die etiese biltongjagter trek dan weer aan die kortste end.
HENNIE VAN DER MERWE