Covid-19 eis Oudtshoorn-ikoon
Prof. Johan Olivier, oudraadslid van Oudtshoorn en oudkurator van Arbeidsgenot, tuiste van C J Langenhoven, is Dinsdag 29 Junie in die ouderdom van 82 in Mediclinic Bloemfontein aan die virussiekte oorlede. Hy was ‘n hartlyer en diabeet.
Hy en Susan, sy vrou van nagenoeg 50 jaar, het in 2014 na sowat 31 jaar in Oudtshoorn, na Bloemfontein verhuis. Ten tyde van sy dood het hulle in die Serenitas-aftreeoord in die stad gewoon. Olivier het in 1962 begin skoolhou, in 1970 ‘n pos as dosent by die Oudtshoorn Onderwyskollege aanvaar en in 1981 sy doktorsgraad behaal.
Hy het in 1986 professor aan die Universiteit van Suid-Afrika geword, in 1996 sy emiraat aanvaar en die volgende jaar na Oudtshoorn teruggekeer, waar navorsing, gemeenskapsdiens en politiek hom besig gehou het. Hy het in 2006 as lid van die DA die speaker van Oudtshoorn-stadsraad geword.
Volgens Dianne de Jager, voormalige burgemeester van Oudtshoorn, was Olivier ‘n toegewyde en deeglike persoon wat alles wat hy aangepak het, doelgerig gedoen het. “As raadslid het hy een van die beste wykskomitees gehad - hy het sy wyk se belange op die hart gedra. Hy het geleef vir Afrikaans - die taal, die kultuur en die geskiedenis, ook van die Boere-oorlog. As hy gepraat het, kon jy maar luister,” sê sy.
Volgens haar het hy as voormalige voorsitter van die Arbeidsgenot-komitee en
CJ Langenhoven-gedenkfonds, die skrywer se werk “van A tot Z geken”.
Voor hy na Bloemfontein verhuis het, het hy ‘n waardevolle versameling navorsingsmateriaal, boeke en versamelings aan die CP Nel-museum in Oudtshoorn geskenk. Oudtshoorn Courant het op 28 November 2014 oor dié waardevolle skenking berig.
In 2004 het hy die Sagmoedige Neelsieoorkonde ontvang vir diens gelewer aan die CJ Langenhoven Nalatenskap. Die ATKV het hom in 2014 as ‘Afrikoon’ vereer vir sy navorsing oor Langenhoven. Olivier word oorleef deur sy vrou, Susan, dogters Hannelore Olivier en Sanelle Streicher en vier kleinseuns.
‘n Gedenkdiens word Donderdag om 11:00 uit die NG Kerk Bloemheuwel gehou.