Oudtshoorn Courant

Keer vermeende verkragter aan

- HANNES VISSER

'n Man wat daarvan beskuldig word dat hy verlede Dinsdagaan­d 'n vrou verkrag en met 'n mes gesteek het, is Woensdag deur gemeenskap­slede opgespoor en aan die polisie oorhandig.

Die man (24) het Maandagogg­end in die landdrosho­f op Uniondale verskyn en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 3 Februarie. Sy regshulppr­okureur, W. Nomdoe, het gesê sy kliënt wil nie om borgtog aansoek doen nie.

Die hofsaal was volgepak met mense uit die gemeenskap. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het dit geblyk dat gemoedere hoog loop en dat die verdagte waarskynli­k uit vrees vir die gemeenskap verkies om in aanhouding te bly. Volgens dominee Steven Anthony, van die niewinsgew­ende maatskappy UNIEP, het die gemeenskap Woensdag besluit om self na die verdagte te gaan soek nadat hulle aanvanklik die verkeerde naam gehad het.

Anthony het gesê die slagoffer en haar vriendin het Dinsdagaan­d oor 'n oop stuk veld gestap toe hulle deur die man met 'n mes voorgekeer is. Die vriendin het daarin geslaag om weg te kom en het by die polisiesta­sie hulp gaan vra. Toe sy saam met die polisie op die toneel kom was die slagoffer reeds verkrag en vier keer met 'n mes gesteek. Die aanvaller het blykbaar op die vlug geslaan toe sy haarself verdedig het.

Die slagoffer het Maandag aangedui dat sy met die media sou praat, maar het later die dag gesê sy sien nie kans om oor die voorval te praat nie. Volgens Anthony het ongeveer 300 mense Woensdag op Uniondale na die verdagte begin soek.

"Die groep waarvan ek deel was, het 'n klomp kinders by die rivier gevra of hulle die man gesien het, want almal ken hom omdat hy gereeld daar rondhang. Hulle het vir ons gesê dat hy verder met die rivier langs gestap het en ons het hom toe gaan soek." Hy vertel dat hulle kinderstem­me gehoor het en gedink het dis kinders wat in die rivier swem, maar voordat hulle nader kon gaan het hulle die verdagte tussen die bosse gesien en hom geroep.

"Ons het hom toe vasgehou en ek het die polisie gebel, maar die persoon aan diens het gesê hulle het nie 'n voertuig nie en ons het die man toe met my kar polisiesta­sie toe gevat."

Dit het minute later bekend geword dat die verdagte dieselfde dag probeer het om nog 'n slagoffer van tussen 14 en 16 te verkrag voordat hy deur die groep mense aangehou is. Die meisie het kort nadat die verdagte aan die polisie oorhandig is, by die polisiesta­sie opgedaag. Die sake word deur die eenheid vir gesinsgewe­ld, kinderbesk­erming en seksuele oortreding­s op Oudtshoorn ondersoek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa