Oudtshoorn Courant

Man voor vir poging tot moord

- GARNETT WICOMB

Die saak teen ‘n man van Smartie Town wat van poging tot moord aangekla word omdat hy ‘n man met ‘n spanhoutji­e oor die kop geslaan en sy skedel gekraak het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel. Die 19-jarige Brandon Fortuin pleit onskuldig en voer aan dat hy die betrokke dag, 2 Desember 2017, uit selfverded­iging opgetree het omdat die klaer, Donovin Langeveldt, hom met ‘n mes wou steek. Hy wou die mes uit Langeveldt se hand slaan toe hy hom per ongeluk op sy kop getref het.

Die staatsaank­laer, Elaine Plaatjies, sê Fortuin is gelukkig dat hy nie op aanklag van moord teregstaan nie.

“Om iemand met ‘n spanhoutji­e oor sy kop te slaan kan tot die dood lei. Die beskuldigd­e moes die moontlikhe­id voorsien het dat hy iemand se dood kon veroorsaak.”

Sy het die hof versoek om sy verweer, dat hy uit selfverded­iging opgetree het, te verwerp omdat die klaer nie ‘n wapen by hom gehad het nie. Langeveldt se regsvertee­nwoordiger, adv. Shaun Ferreira, het die hof om sy vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie. Volgens hom het alkohol die dag ‘n rol gespeel.

Daar was ‘n stryery oor dobbelgeld en die staatsgetu­ies het mekaar weerspreek. Die beskuldigd­e het nie die intensie gehad om die klaer te beseer nie. Hy het self geskrik en weggehardl­oop en toon berou oor wat hy gedoen het.

Die staat daarenteen vra dat indien Fortuin nie van poging tot moord aangekla word nie, hy wel aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind te word.

Die saak dien voor streekland­dros Daniël Boks.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa