Mosselbaai 2024 Eisteddfod ook deel van Kunstemaand
Reëlings vir die 2024 Eisteddfod is in plek en Mosselbaai kan homself gereed maak vir optredes uit die boonste rakke. Die dansbeoordeling vind reeds volgende week plaas en ’n groot dans-extravaganza vind in Augustus, as deel van die Mosselbaai Kunstemaand, plaas.
Dans beoordeling
Die beoordeling van hierdie gewilde dans-afdeling vind vanaf Dinsdag, 14 tot Donderdag, 16 Mei vanaf 14:00 tot18:00 in die Mosselbaai-stadsaal plaas. Ouers en die publiek is baie welkom om die sessies by te woon. ’n Toeskouersfooi van R20 per volwassene per dag is betaalbaar, kinders is gratis.
Danswerkswinkels
Op 17 Mei bied Nichelle Rusza en
Joubert Jonker, twee ervare dansers en dansonderwysers, werkswinkels by die Mosselbaai-stadsaal aan. Alle dansgenres sal baat om hierdie geleentheid by te woon en dansers word sterk aangeraai om dit by te woon.
Die aanbieders gaan hulle kundigheid en ondervinding op ’n pro-aktiewe, lewendige en prettige manier aan studente en onderwysers oordra. Vir dansers tot by 12-jarige ouderdom begin die werkswinkel om 14:30. Die tweede sessie, vir dansers 13 jaar en ouer, vind om 16:30 plaas. Die inskrywingsfooi is R150 en kan direk by Abé Meintjes (083 268 3718) gedoen word.
Extravaganza
Op 17 Augustus om 19:00, gebeur PZAZZ in die Mosselbaai-stadsaal: ’n skitterende kaberet en showdance extravaganza deur ’n geselskap van Suid-Afrika se top dansers in hulle manjefieke kostuums, spesiaal vanaf Gauteng ingevlieg.
Dit is ’n professionele, energieke en lewendige produksie wat die gehoor na hulle asems sal laat snak. Toegang is R150 - maar moenie die early-bird special teen R130 misloop nie. Besprekings kan by Abé Meintjes (083 268 3718) gemaak word.
Visuele-kuns
Frans Venter open die visuelekunsuitstalling op Sondag, 28 Julie.
Dit begin om 15:00 en vind in die NG Moederkerk se Klipkerk plaas. Hierdie uitstalling duur tot 2 Augustus. Sertifikate en kommentaar sal dan ook aan deelnemers oorhandig word.
Die tema vir hierdie jaar is Red ons Planeet/Natuurbewaring. Daar word ook sterk gefokus op komposisie, en in hierdie verband is daar heelwat inligting in die Visual Art Prospectus op die Mossel Bay Eisteddfod Faceboekblad beskikbaar. Inskrywings sluit op 14 Junie en kunswerke sal op 3 Augustus ontvang word.
Drama en musiek
’n Goed-ondersteunde en suksesvolle drama-werkswinkel vir onderwysers is in Maart aangebied.
Drama-beoordeling is tussen 29 Julie en 2 Augustus, en die musiek word tussen 5 - 9 Augustus beoordeel. Beide vind in die NG Moederkerk (in die Klipkerk in Kerkstraat) plaas. Inskrywings kan tussen 13 Mei en 14 Junie op die Mossel Bay Eisteddfod Faceboekblad gedoen word.
Navrae kan aan Abé Meintjes (083 268 3718) gerig word.