Glentana-rower vasgetrek
Die polisie op GrootBrakrivier het ‘n verdagte in hegtenis geneem, kort nadat ‘n inwoner van Glentana met ‘n vuurwapen in haar huis aangehou is. Die slagoffer, in haar 60’s, is op Vrydag, 30 Maart in Seekatstraat deur drie verdagtes wakkergemaak.
Volgens die polisie het die verdagtes toegang tot die huis verkry deur middel van ‘n skuifdeur. Polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais sê die slagoffer is met ‘n kledingstuk gewurg waarna die rowers haar deur die huis geneem het en op onder meer kontant en vuurwapens aangedring het. Die verdagtes het met juwele en elektriese toerusting gevlug.
Die verdagtes het langs die N2 duskant Pienaarstrand gestap toe die polisie met ‘n patrollievoertuig op hulle afkom. “Een verdagte, in sy 30’s, kon nie daarin slaag om weg te hardloop nie en is op die toneel deur die polisiebeamptes in hegtenis geneem. Die slagoffer se gesteelde goedere is in sy besit gevind.”
Die ander twee verdagtes het die bosse ingehardloop, in die rigting van die R102 naby Mosselbos. “Adjudantoffisier Gerhard Crause en ao Leon van der Mescht het die mans agternagesit en ‘n oor en weer skietery het tussen die verdagtes en die polisie uitgebreek. Ons weet nie of een van die verdagtes raakgeskiet is nie. Verskeie skote is op die polisiebeamptes afgevuur.”
Die twee verdagtes kon daarin slaag om te vlug en is steeds op vrye voet. Intussen het een van die verdagtes, Ismael Andela, in sy 30's, op Dinsdag, 3 April in die landdroshof op Groot-Brakrivier verskyn op 'n aanklag van huisroof.