Mossel Bay Advertiser

Gestremdes kla oor toilette

- Louise Karsten

‘n Inwoner van Mosselbaai wat met ‘n loopraam oor die weg kom, Talita de Kock het haar onlangs tot sosiale media gewend omdat die toilette vir gestremdes by ‘n winkelsent­rum gesluit was. De Kock moes die sleutels by ‘n eiendomsag­entskap duskant die ablusieger­iewe kry. “Die toilette vir gestremdes by die winkelsent­rum op Mosselbaai was met ‘n slot toegesluit en ek kan nie met ‘n loopraam by ‘n gewone toilet ingaan nie. ‘n Vrou wat die sentrum skoonmaak het gelukkig na die eiendomsag­entskap gehardloop en vir my die sleutel gaan haal.”

De Kock het die bestuurder van die winkelsent­rum, Lynette Calitz gekontak, wat haar meegedeel het dat die sleutel van die toilette vir gestremdes by die eiendomsag­entskap gehou word omdat die toilette gevandalis­eer word.

Calitz het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die besluit geneem is om die toilette vir gestremdes gesluit te hou omdat daar al voorvalle van vandalisme by die toilette aangemeld is. Volgens Calitz kos dit die sentrum geld en wil sy ook die toilette skoon en netjies vir kliënte hou. Calitz het intussen, na aanleiding van De Kock se ervaring, die slot afgehaal en die besluit geneem om die toilette te alle tye oop te hou. “Ons bedoeling was goed maar ons sal voortaan die toilette oophou en ek sal nog ‘n persoon aanstel om die toilette skoon te hou.”

Dit is egter nie die enigste winkelsent­rum op Mosselbaai waar die toilette vir gestremdes gesluit gehou word nie.

Die Mossel Bay Advertiser het verskeie winkelsent­rums besoek waar die toilette vir gestremdes agter slot en grendel was.

Wetgewing

Volgens die Mosselbaai-munisipali­teit moet enige gebou wat deur die publiek gebruik word aan die vereistes van die Nasionale Bouregulas­ies voldoen.

Enige gebou moet dus voorsienin­g maak vir toiletgeri­ewe en oor ten minste een fasiliteit vir gestremde persone beskik. Bouplannas­iener, Annette Matthee sê die Nasionale Bouregulas­ies word streng toegepas. “Die Mosselbaai-munisipali­teit probeer ook die standaard stel deur ons eie geboue rolstoel/gestremdhe­id-vriendelik te maak, selfs wat bestaande geboue betref. Mosselbaai het egter ‘n ryk geskiedkun­dige agtergrond waar hierdie regulasies nie noodwendig van toepassing was nie. In sulke gevalle kan die vereistes nie afgedwing word nie, maar eienaars word wel aangemoedi­g om aanpassing­s te maak om te voldoen aan huidige wetgewing.”

Volgens Alan Downey van Disablity Info South Africa moet toiletgeri­ewe vir gestremdes in winkelsent­rums oopgehou word. “Daar is egter geen dokumentas­ie wat besighede verplig om dit te doen nie en dit wil voorkom asof elke winkelsent­rum self hieroor besluit.”

Downey sê dat die probleem van geslote toilette is nie slegs op Mosselbaai ter sprake is nie, maar landswyd. “Dit is inderdaad so dat die meeste toilette vir gestremdes gesluit word om vandalisme en die misbruik daarvan te verhoed. Boonop blyk dit nie of daar enige spesifieke regulasie hieroor bestaan nie.”

Downey, wat self in ‘n rolstoel is, sê egter dat dit problemati­es vir persone met gestremdhe­de is, omdat die persoon wat die sleutel hou nie altyd betyds opgespoor kan word nie.

“Deur ‘n toilet vir gestremdes te sluit, word daar inbraak op die menswaardi­gheid en die regte van gestremde persone gemaak. Dit is ironies dat gewone toilette nie gesluit word nie, maar wel toilette vir mense met spesiale behoeftes.”

Hy sê boonop dat baie mense met gestremdhe­de blaasprobl­eme ondervind. “Die probleem met vandalisme moet eerder aangespree­k word deur ‘n sekuriteit­swag aan te stel wat die toilette gereeld patrolleer.”

* Is Mosselbaai ‘n dorp wat na gestremde persone se belange omsien? Stuur u kommentaar na louise@groupedito­rs.co.za

Volgens Alan Downey van Disablity Info moet toiletgeri­ewe vir gestremdes in winkelsent­rums oopgehou word.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa