Bome sover moontlik beskerm
Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs met ‘n projek in Ou Kaapweg begin vir die konstruksie van ‘n nuwe parkeerterrein by Laerskool Park om nege nuwe parkeerplekke en ‘n stop-en-ryfasiliteit as ‘n veilige sone te skep vir ouers wat hul kinders by die skool besorg.
Dié inisiatief is deel van ‘n groter projek wat die parkeersituasie by die skool aanspreek, veral in Ou Kaapweg en wat, in ag genome beskikbare befondsing in die toekoms, nog verder geïmplimenteer gaan word.
Mosselbaai-munisipaliteit neem kennis van besorgde inwoners se besware oor die waterbessiebome (nie melkhoutbome soos daar gemeen is nie) wat tydens die fase beïnvloed word.
Tydens die projekbeplanning is probeer om soveel moontlik van die bome te beskerm en te behou en slegs waar funksionaliteit en verkeersveiligheid dit nie anders toelaat nie, die bome in lyn met wetlike vereistes te verwyder of te snoei.
"Daar moet kennis geneem word dat waterbessiebome nie beskermd is nie en, volgens ons rekords ook geen historiese status geniet nie.
"Die munisipaliteit sal probeer om, waar moontlik, die bome in die konstruksiegebied te behou, maar indien nie moontlik nie, sal addisionele inheemse bome elders geplant word tydens landskapering, of op ‘n ander terrein. Mosselbaai-munisipaliteit probeer deurentyd die nodige wetlike vereistes nakom vir die beskerming van plantegroei, sowel as konstruksie- en verkeersregulasies betreffende veiligheid."
Addisionele toegang
Laerskool Park het aangedui dat ‘n addisionele toegangshek voorsien gaan word direk aangrensend tot die nuwe parkeerarea om toegang na die skoolterrein te vergemaklik. Die koste van die projek beloop ongeveer R650 000. As deel van die projek word daar ook voorsiening gemaak vir stormwaterdreinering.
Kontak Rowena Hendricks (044 660 5226 of rhendricks@mosselbay.gov.za) met navrae.