SÓ KAN STAMSIEKTES IN OLYFBOORDE VERSPREI
OPPAS om sommer net die takke wat uit olyfboorde gesny word, op te kerf en as grondbedekker te strooi. Dit kan die bron van verdere siektes wees, het navorsers van die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Universiteit Stellenbosch luidens die vaktydskrif Plant Disease gewaarsku.
Hulle het die voorkoms van die swam Pseudophaeomoniella globosa in gevestigde Suid-Afrikaanse olyfboorde bestudeer. Dit is eers onlangs in Suid-Afrika geidentifiseer as een van die oorsake van olyfstamsiekte, danksy die studies van dr. Meagan van Dyk, een van die navorsers.
Van Dyk het gesnoeide takke uit boorde reg oor die Boland ondersoek en die swam gevind op 37,5% van gesnoeide takke uit Paarlse boorde, 61,9% van Stellenbosse bome en 39,3% uit boorde rondom Worcester.
Blokke van ouer as ’n dekade was meer besmet as moederblokke van jonger as vier jaar oud.
Plaaslik bekamp olyfboere olyfstamsiekte deur dooie hout of takke wat tekens van siekte toon, te snoei, en om snoeiwondbeskermer aan te wend om nuwe besmettings te keer. Daarna word die takke dikwels brandhout, of dit word opgekerf om as grondbedekker te gebruik.
“Boere moet besef dat hul oesreste inokulumbronne
vir sekere patogene organismes kan wees. Daar is ’n risiko verbonde daaraan om dit byvoorbeeld op te kerf vir grondbedekking,” sê prof. Francois Halleen van die LNR, ook een van die betrokke navorsers.
“Ja, die plantmateriaal breek mettertyd af. Tog is daar meer as genoeg tyd vir die patogene organismes om vrugliggaampies of swamdrade te vorm wat duisende spore kan vrystel om dan weer plante te besmet.”
Voorheen is oesreste vanuit wingerde al suksesvol in kompos omskep of chemies behandel om van siekteveroorsakende swamme ontslae te raak. Hierdie metodes is egter nog nie formeel vir olyfboomhout getoets nie.