WEER BLÝ ONSEKERE FAKTOR VIR SAAIBOERE
TEEN druktyd het onsekerheid nog geheers oor reënvaltoestande in die komende maande oor die Swartland en die Rûens, die twee belangrikse wintergraanstreke in die Wes-Kaap.
“Dit lyk tog of voldoende reën in Mei gaan voorkom sodat aanplantings gedoen kan word,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Die grootste risiko is in die noordelike dele van die Swartland en verder noord waar reënvaltoestande minder gunstig gaan wees.”
In die besproeiingsgebiede in die Noord-Kaap en Vrystaat langs die Oranje- en Vaalrivier is die beskikbaarheid van water nie beperkend vir koringproduksie nie.
Daar bestaan egter ander risiko’s, waarvan die belangrikste die risiko van ryp in die reproduktiewe stadium vanaf ongeveer einde Augustus is.
Van den Berg sê daar is ’n neiging in veral die BenedeOranjerivierstreek dat die laaste ryp al hoe later voorkom. Dit het die afgelope 20 jaar met 10-30 dae aangeskuif, veral in die afgelope dekade.
“Dit is dus belangrik dat boere dit in gedagte hou en veral kyk na plantdatums en die regte kultivars. Té vroeë plantdatums verhoog die risiko.”
GEEN KEUSE
Landerye in laaggeleë gebiede kry die meeste skade. Indien moontlik moet hierdie landerye nie in die winter beplant word nie, maar dikwels bestaan daar vir boere nie alternatiewe nie.
In die Vrystaat en Noordwes se droëlandproduksiestreek oorweeg boere vanjaar meer koringaanplantings in veral die mielieproduksiegebiede waar versuipskade vanweë die baie reën voorgekom het. Sulke aanplantings is egter ook nie sonder risiko nie.
“Dit kan help om die oormaat water te verwyder, maar laat ryp, voëlskade en reën tydens oestyd in November, en veral Desember, kan groot skade aan gehalte veroorsaak.”