Landbouweekblad

En as jy roem ontvang?

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Ek ken niemand wat nie erkenning sal waardeer wanneer dit in opregtheid gegee word nie. Die vraag is: Is dit verkeerd as iemand wat iets goeds nagestreef en bereik het, vreugde vind in ’n bietjie erkenning? Ek sou dink dat dit beslis nie verkeerd is nie, maar terselfder­tyd moet ’n mens in jou pasoppens bly om nie té veel daarvan te maak nie.

Tussen die blye ervaring van waardering en selfroem is daar meermale ’n baie dun lyn. Jy kan alte maklik na die verkeerde kant omval.

Dit gaan daarmee soos met die aanwending van ’n goeie reukwater. Iemand het daaroor gesê: “Dit is goed om dit op die regte plekke en tye aan te wend, maar wees bedag daarop om dit nie in te sluk nie, dis nie waarvoor dit bedoel is nie. Dit kan jou spysverter­ingstelsel lelik omkrap!”

Dit is goed om daarop te let hoe die apostel Paulus dié onderwerp hanteer. Soms waarsku hy sterk dat niemand eieroem moet opeis waar prestasies eintlik net genade was nie (1 Kor. 1:28-29). Paulus dwing die leser tot selfrekens­kap en beskeidenh­eid wanneer hy vra: “En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (I Kor. 4:7).

Elders sê hy: “Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:31).

Jare gelede, toe ek nog jonk was, het iemand iets gesê wat ek tot vandag toe onthou. Dit lui as volg: “If there is any honour to receive, I want to pass it on untouched to my Master.”

Beteken dit dan dat ons nie die erkenning en waardering van ’n medemens mag geniet nie? Tog seker nie. Moet net nie vergeet waarvandaa­n dit kom nie en moenie vergeet wie die “Master” in die verhaal is nie.

Maar onthou ook dat Paulus gesê het “teen die dag van Christus” sal hy ’n bietjie roem waardeer omdat hy dan “nie verniet geloop of verniet gearbei het nie” (Fil. 2:16).

Moet dus nie suinig wees om erkenning en waardering te gee nie en, wanneer jy dit self ontvang, wees dankbaar, geniet dit en onthou die woord genade.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa