Is vee regtig skobbejakke met klimaat?
DIT het mode geword om herkouerdiere en diëte wat diereproteïen insluit, die skuld te gee vir die meeste kweekhuisgasvrystellings en klimaatsverandering.
Navorsers in ekstensiewe veegebiede sê egter dit is darem nie só eenvoudig nie.
’n Verslag wat pas bekend gestel is, waarsku dat foutiewe aannames wat op intensiewe en industriële veeboerdery gebaseer is, die prentjie van herkouers as klimaatbooswigte skeeftrek.
Voorstanders van die sogenoemde proteïenoorgang wil hê dat die mensdom na ’n plantgebaseerde dieet oorskakel, terwyl ander wil hê meer van die grond wat vir veeweiding gebruik word, moet aan bewaring, die vestiging van wild of bosbou toegewy word.
Volgens die verslag Are livestock always bad for the planet? wat op 27 September uitgereik is, ignoreer dié debatte oor die toekoms van voedsel die miljoene mense wat vir hul bestaan van ekstensiewe veeboerdery afhanklik is.
Ekstensiewe veeboerderye benut sowat die helfte van die aardoppervlakte waar hulle marginale veld vir die produksie van vleis, melk en ander diereprodukte gebruik.
Miljoene mense, waarvan heelparty arm mense is, maak só ’n bestaan.
DENKFOUTE
Die verslag is opgestel deur PASTRES (Pastoralism, Uncertainty and Resilience: Global Lessons from the Margins), ’n Britse navorsingsprojek oor die maniere waarop veeboere op onsekerheid reageer en die lesse wat dit inhou.
Die verslag identifiseer tien foute in die manier waarop oor veeboerdery gedink word.
Die foute is onder meer die gebruik van data van intensiewe veeboerdery in nywerheidslande om afleidings oor die hele wêreld te maak, planne om bome in grasweivelde te plant wat eintlik meer skade gaan aanrig, en die feit dat wilde diere selfs meer kweekhuisgasse vrystel as ekstensiewe herkouers.
Dit sluit ook die onvermoë in om in te sien watter rol ekstensiewe produksiestelsels in die mens se bestaan speel en hoe dit eintlik ’n voordelige rol in ekostelsels speel.
Eweneens kan die voeding
van kinders ondermyn word deur groot veranderinge aan hul dieet omdat voedsel van dierebronne proteïene en ander belangrike voedingstowwe verskaf.
Die verslag stel voor dat ’n stelselbenadering gevolg word om te keer dat nadelige hulpmaatreëls en beleid ingestel word.
“Dit moet tussen verskillende produksiestelsels differensieer en nie net op die produkte konsentreer nie.”
Alle vee stel kweekhuisgasse vry, maar party praktyke in ekstensiewe stelsels kan met koolstofvaslegging help. Daarbenewens kan ekstensiewe veeboere die veld tot voordeel van biodiversiteit bestuur, ’n bestaan maak en kulturele praktyke en tradisies help bewaar.
–