SKOOL TREE VIR TREE NADER AAN SONKRAGSTELSEL
TERWYL die meeste mense gedurende die laaste naweek van Augustus onder komberse weggekruip het vir die koue front wat dele van die land met ’n sneeukombers bedek het, het 90 leerders en ondersteuners van die Laerskool Calvinia die grondpad tussen Calvinia en Ceres aangedurf tydens die Kilo’s vir Calvies-wedloop.
Die doel was om geld in te samel sodat ’n sonkragstelsel by die skool geïnstalleer kan word.
Altesaam 38 leerders van die skool het aan die wedloop deelgeneem. Die jonger leerders het aflosse van 2,5 km gehardloop, terwyl die ouer leerders aflosse van 5 km gehardloop het. Ouers, oudskoliere en ander ondersteuners van die Laerskool Calvinia het ook deelgeneem.
Die oudste deelnemer, Charl van der Merwe (75), het saam met sy kleinseun Charl, ’n graad 2-leerder, ’n aflos van 2,5 km voltooi.
Die jongste deelnemers, Emma Nel en Christina van der Merwe (albei 5), het onderskeidelik 2,5 km en 200 m afgelê.
Inalene Nel, een van die organiseerders, sê deelnemers het die Donderdagmiddag by die skool weggespring.
“Dit is die langste pad tussen twee dorpe. Vanweë die erge koue front en sneeu wat voorspel is, het ons organiseerders besluit om veilig te wees. Ons is nie oor die Theronsbergpas na die Paarl toe soos beoog is nie, maar het 7 km anderkant die Tankwa-padstal teruggedraai na Calvinia toe. Ons het steeds ons doelwit van 362 km afgelê en Saterdagmiddag weer by die Laerskool Calvinia teruggekom.”
Nel vertel toe die wedloop begin het, was die weer heerlik en het hulle ’n pragtige sonsondergang onder die Bloukranspas sowat 32 km buite Calvinia gehad. “Vrydagoggend was ’n heeltemal ander prentjie. Dit was 10 °C en het liggies gereën by tye. Ons het om 06:00 weggespring. Rondom 11:00, toe die wolke bietjie begin lig, is ons verras met sneeu reg rondom ons op die Roggeveldberge en die berge rondom Ceres. Later die dag het die son sy gesig gewys, maar die windjie was snerpend.
“Heinrich Gabler, ’n voormalige Mnr. Suid-Afrika, het net ná 19:00 by ons aangesluit en 20 km voltooi. Daarna het ons gestop vir aandete. Die atlete het om 22:00 weer in die pad geval.
“Die ondersteuning deur die nag was maar min en by tye het die kwik aan 4 °C geraak. Daar was ook ’n groep atlete wat in ysige reën gehardloop het rondom 01:00, maar niks kon die atlete stuit nie en almal het hul deel gedoen. Saterdag het die son lekker geskyn en in die Tankwa-Karoo was die weer heel aangenaam, maar teen die plato uit het die wind ons weer na baadjies laat gryp.”
Ondanks die weer was die atmosfeer en gees by die wedloop volgens Nel onbeskryflik. “Covid-19 het soveel geleenthede by ons en ons kinders kom steel. Ons het besef hoe groot die behoefte is om saam as ’n skoolgemeenskap aan iets groters te kon meeding en dit deur te kon voer. Daar was lag, kuier, vrolike kinderstemme en ’n wonderlike gevoel van samehorigheid.”
De Wet Nel en Nica Visagie, die skool se hoofseun en hoofmeisie, het die laaste 5 km gehardloop en die groep wat saam gereis het, het die laaste 1 km ook ingeval. “By die eindstreep het die onderwysers en medeskoliere ons ingewag met rose, vonkelwyn en ‘Chariots of fire’ wat gespeel het. Die vreugde was groot en die trane ook naby. ’n Onvergeetlike oomblik!”
Nel sê hulle staan nog verstom oor die groot hoeveelheid mense wat die sonkragprojek ondersteun en groot bydraes daarvoor gemaak het.
“Dit was ’n groot sukses en ons wil dit graag ’n jaarlikse instelling maak. Ons besef ons sal nie met een geleentheid genoeg geld kan insamel vir die stelsel nie. ’n Gedeelte van die geld stoot ons in die huidige begroting in weens die gebrek aan ander geldinsameling-projekte, soos die Hantam Vleisfees, en ’n deel daarvan gaan ons in ’n sonkragtrust belê.”