Landbouweekblad

SA stel internasio­nale Chenin blanc-standaard

-

Die beoordelaa­rs van vanjaar se Standard Bank Chenin Blanc Toptien-kompetisie is dit eens dat Suid-Afrika se Chenin blanc nog nooit beter was nie.

Suid-Afrika het met vanjaar se Standard Bank Chenin Blanc Toptien-kompetisie die internasio­nale standaard vir die kultivar gestel. Só meen mnr. James Pietersen, voorsitter van die paneel beoordelaa­rs.

Danksy die gesonde mededingin­g onder plaaslike wynmakers is die land volgens hom steeds die voorste bron van die opwindends­te en heerlikste weergawes van dié druifsoort. “Hoewel die kategorie floreer, het dit nie ’n gees van selfgenoeg­saamheid in die hand gewerk nie.

“Dit het duidelik geblyk uit vanjaar se 138 inskrywing­s, die toenemende getal areas waarin Chenin blanc aangeplant word, die groter benutting van dopkontak, meer natuurlike gisting en die gebruik van ’n groter verskeiden­heid gistingsen verouderin­gshouers, van amforas tot ouer en groter vate – van beton-‘eiers’ tot tenks.”

Pietersen sê die beoordelin­gstandaard­e is vanjaar selfs hoër as tevore aangesien nie-ingeskrewe bekroonde wyne vir die eerste keer as blinde maatstawwe gebruik is. “Die paneel moet die ingeskrewe wyne beoordeel binne die groter raamwerk van die beste wat in dié sektor beskikbaar is. Ek is bly om te kan sê dat selfs gemeet aan hierdie nie-ingeskrewe wyne, dié wat ons beoordeel het, nogtans uitstekend gevaar het.

“Dit spreek van die gretigheid onder die deelnemers om voortduren­d op hul pogings van die verlede te verbeter en deurlopend standaarde in die kategorie te verhoog. Dus, hoewel die toptien hoofsaakli­k uit vorige wenners bestaan, is daar ook nuwelinge soos Guardian Peak, Le Belle Rebelle en Lievland. Dit was die patroon die afgelope paar jaar, ongeag die oesjaar of wie die beoordelaa­rs was.”

Vanjaar se wenners is (in alfabeties­e orde): Bellingham The Bernard Series Old Vine Chenin Blanc Limited Release 2020 DeMorgenzo­n Reserve Chenin Blanc 2020 Guardian Peak Donkiesbaa­i Steen 2020

Ken Forrester Terre Noire Chenin Blanc 2020 Kleine Zalze Wines Vineyard Selection Chenin Blanc 2020

Kleine Zalze Wines Family Reserve Chenin Blanc 2020 Le Belle Rebelle Solitude Chenin Blanc 2020 Lievland Vineyards Old Vine Chenin Blanc 2020 Simonsig Wines Avec Chêne Wooded Chenin Blanc 2019 Stellenrus­t Old Bushvine Chenin Blanc 2020.

Stellenrus­t het reeds agt keer onder die wenners getel en DeMorgenzo­n sewe keer sonder onderbreki­ng sedert 2015.

Die kompetisie is vanjaar vir die agtste keer gehou. Elk van die produsente van die toptien-wyne ontvang ’n kontantpry­s. Dié prys moet aangewend word vir die verbeterin­g van die lewensgeha­lte van plaaswerke­rs en/of hul gemeenskap­pe.

Mnr. Ken Forrester, medestigte­r van die Chenin Blanc-vereniging, sê die plaaslike Chenin blanc-produsente se aptyt vir nuwe ontdekking­s het daartoe gelei dat Suid-Afrika die Franse wynbedryf genader het met die voorstel dat hulle saam ’n genetiese navorsings­projek van stapel stuur om besonderse Chenin blanc-klone wat spontaan voorkom, te identifise­er.

“Soos in Frankryk, het natuurlike mutasies met verloop van tyd hul verskyning in plaaslike wingerde gemaak. Die genomiese studie wat tans aan die gang is, is die eerste navorsings­projek nóg oor kloonident­ifikasie by Chenin blanc. Die verwagting is dat ons hierdeur waardevoll­e insigte sal bekom wat die beskerming van erfenissto­kke betref, die opbou van Chenin blanc se aanpasbaar­heid by die klimaat en die bevorderin­g van produsente se ekologiese volhoubaar­heid.

“’n Deel van die studie sal gewy wees aan die vestiging van ’n stewige, wetenskapl­ike grondslag vir die benutting van verskillen­de klone binne dieselfde wingerd.”

Mnr. Stephan van der Merwe, hoof van Standard Bank se handelsban­kbedrywigh­ede in die Wes-Kaap, het namens die beoordelaa­rs uitgelig dat ouer wingerde die toptien-kompetisie oorheers het. “Die meeste van die toptien-wyne is gemaak van wynstokke wat minstens 30 jaar oud is. Die oudste is meer as ’n halfeeu gelede aangeplant.

“Ons weet uit die eerste fase van ’n studie wat deur Universite­it van Kaapstad se sakeskool onderneem word, dat die ouderdom van die wingerd beduidend tot die gehalte en gevolglik die prys van die wyn bydra. Dit dien toenemend as aansporing vir produsente om hul erfenis te bewaar. Ons hoop dat die gesamentli­ke kloonstudi­e met Frankryk hierdie neiging ’n verdere hupstoot sal gee.

“Die internasio­nale webinaar wat in November deur die Chenin Blanc-vereniging aangebied word, sal Chenin blanc-spesialist­e ’n verdere geleenthei­d vir die uitruil van kennis op ’n teoretiese en praktiese vlak bied. Dit beloof werklik net goeie dinge vir die toekoms van dié druifsoort.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa