70 JAAR GELEDE
Uit: Landbouweekblad, 21 Februarie 1951 VOER VIR 3 MILJOEN BEESTE GAAN JAARLIKS IN TRANSVAAL VERLORE
Ongeveer 4 500 000 ton veldhooi — genoeg om 3 000 000 beeste deur die vier moeilikste maande van die jaar, naamlik Junie tot September, te help — sal binne die volgende paar maande in Transvaal grootliks as verlore beskou moet word, volgens mnr. J.P. Botha, weidingsdeskundige aan die Pretoriase Universiteit.
Hierdie verlies is ’n jaarlikse verskynsel en sal aanhou totdat die boere self besluit om ’n einde daaraan te maak. As ’n mens in aanmerking neem dat duisende stuks vee jaarliks regstreeks of onregstreeks aan honger beswyk, kan hierdie verskynsel kwalik goedgepraat word.
Mnr. Botha se berekening berus op die feit dat daar in Transvaal ten minste 40 000 vierkante myl gras is wat vir veldhooi gesny behoort te word. Hiervan kan een kwart jaarliks afwisselend gesny word, met ’n gemiddelde opbrengs van 11/2 tot 2 ton per morg, ’n totale opbrengs dus van minstens 4 500 000 ton goeie veldhooi.
Die praktyk om goeie veldhooi te maak, is gelukkig besig om veld te wen. Al hoe meer boere begin besef dat dit nie alleen ’n goeie boerderypraktyk is nie, maar wat vir die boer van meer belang is, is dat dit vir hom harde kontant in die sak bring. Die vooroordeel teen die maak van veldhooi, wat ongelukkig so dikwels by boere aangetref word, berus op ’n groot misverstand en is ongegrond. Die bewering dat die hooi-opbrengs te laag is om die praktyk ekonomies te maak, berus op ’n onvolledige begrip van goeie veldbeheer.
Veld wat gesny word, lewer nie alleen waardevolle hooi nie, maar verskaf in die daaropvolgende seisoen meer en beter weiding.
Veldhooi kan in enige deel van die Unie, waar snybare grasvelde voorkom, gemaak word en in al die grasstreke kan dit, na gelang van die soort veld, aanbeveel word. Die maak van hooi in die suur- en gemengde grasstreke is van baie groter belang as in die bos- en ander soetveldstreke.
Die suurveldgras verloor sy smaaklikheid en in ’n groot mate ook sy voedingswaarde sodra die volwasse groeistadium bereik word. Suurveld is dus gedurende die wintermaande van weinig waarde, tensy die gras gedurende die somer gesny en in die vorm van hooi bewaar word.