PROF. KARAAN: GROOT LEEMTE GELAAT
Ek kry die tyding van prof. Mohammad Karaan se afsterwe met groot skok en hartseer toe ek op 13 Januarie by die huis op my Karooplaas instap. Verskeie boodskappe en oproepe. Binne ’n kwessie van 10 minute ná die tyding sak daar ’n ordentlike donderbui uit asof al die engele saam begin huil het – ’n volle 28 mm en strome water.
Die skok van Mohammad se heengaan was vir my besonder erg omdat daar so ’n sterk intellektuele band tussen ons bestaan het. Ons het mekaar se gedagtegang verstaan en mekaar aangevul en mekaar se denke gestimuleer. In vergaderings, in beplanningsessies.
Daar was altyd een of ander idee wat ons bespreek het – altyd met die land se belang in gedagte. Daar was idees vir artikels, idees vir grondhervorming, oor landboubemarking, optredes by die Woordfees, akademiese programme, die mentorskap van jong landbou-ekonome, die landbou-ekonomie-vereniging, die rol van boere in die landboutransformasieproses en meer onlangs idees oor die ideale toekoms vir die landbou-ekonomiese dissipline in Suid-Afrika en hoe die Universiteit Stellenbosch ’n rol hierin kan speel.
Mohammad se kritiese, filosofiese en strategiese denke was altyd iets besonders. Hy kon die politieke ekonomie en mense se gevestigde belange en vrese baie goed lees, en kon met radikale voorstelle kom wat mense onder normale omstandighede nie sou oorweeg nie. Hy het die vermoë gehad om deur konserwatiewe boere én radikale politici en kaders aanvaar te word. Dit het hom in staat gestel om uiteenlopende groepe met mekaar te laat praat.
Mohammad en sy pragtige Afrikaanse idioom kon op ’n spesiale manier deurdring tot baie van die blanke boere en daardeur hul rol in die transformasieproses help uitbeitel. In hierdie proses was hy ook ’n brugbouer tussen verskillende groepe en het verskeie gesprekke tussen politici en georganiseerde landbou gefasiliteer.
Mohammad was die afgelope vier jaar ook lid van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se advieskomitee waar sy nugtere denke en insette van onskatbare waarde was. In dié tyd het hy gereeld by die buro kom inloer om strategiese gesprekke in die veilige tuiste van die buro te voer.
Daar was onder meer gesprekke oor grondhervorming as deel van sy insette tot die president se adviespaneel oor grondhervorming. Baie van hierdie idees is in die finale verslag opgeneem. Weer eens het Mohammad die idee gehad en het dan vir my en Nick Vink gevra om die idee te verwoord en lyf te gee. Dit was ’n wonderlike en stimulerende ervaring.
In die laaste maand voor die vakansie het ek nog ’n fantastiese vergadering met hom gehad oor ’n proses om die vordering met die nasionale ontwikkelingsplan te meet. Nogal ’n tawwe oefening, maar iets waarvoor Mohammad kans gesien het. In die vergadering net meer as vier weke gelede het Mohammad soos van ouds fantastiese idees gehad hoe ons die resultate moet kommunikeer. Ek gaan beslis hierdie vertroue, denke en versiendheid mis.
Sy heengaan is ’n groot verlies vir die landbou, landbou-ekonomie en landboupolitiek in Suid Afrika. Waar gaan ons weer sulke rasionele en vooruitstrewende denke kry? JOHANN KIRSTEN
Professor in landbou-ekonomie, Universiteit Stellenbosch