Die klipperige pad van kommunaal tot skoukampioen
Hy is nie ’n oomblik spyt oor die skuif van kommunale na kommersiële boer nie, maar die voormalige Namibiese sokkerheld, beesboer en deesdae skoukampioen mnr. Albert Tjihero doen ’n ernstige beroep op sy regering om die politiek uit die landbou te haal en nuwe boere te help om óók hierdie vreugde te smaak. ‘Ek moes die pad alleen stap, maar as ek weer moet kies, sal ek dit weer doen . . .’
As kommunale boer het mnr. Albert Tjihero weggespring met dertig kommersiële koeie en ’n bul – ’n geskenk van sy ouers. Vandag het hy 200 stoet-Brahmane en 50 stoet-Simmentalers, asook 400 kommersiële vleisbeeste op sy uitgestrekte stuk grond van 9 000 ha.
“Ek moes sélf grond koop en met ’n klein kudde begin boer, en in die proses het ek geval, opgestaan, weer geval en nóg ’n slag opgestaan,” vertel Tjihero op sy plaas Okorusengo 279 by Okahandja in die Otjosondu-gebied.
’n Kommersiële kudde vul sy Brahmanen Simmentaler-stoeterye aan, maar die stoetbeeste voeg die grootste waarde tot die boerdery toe.
“Dit het wilskrag en sweet gekos om hier te kom. Ek sal nooit my wortels in die kommunale gebied vergeet waar ek grootgeword het nie, maar vandag is dit lekker om my stoetbeeste op die skoue te sien presteer.”
Hy het op 2017 se Namibiese Brahmankampioenskap die senior en grootkampioenkoei vertoon en op 2018 se kampioenskappe het sy kampioenbulkalf ook die interras-bulkalfkampioen geword.
Met die Simmentalers het die boerdery ook al die reserwe senior en reserwe senior interraskampioen opgelewer.
Die plaas is nog nie soos wat hy dit graag wil hê nie. “’n Mens wil groei en jou plaas se waarde laat toeneem. Ek wil ook gewasse verbou as die droogte verby is, maar ek het nie ’n trekker en werktuie nie.
“Met mielies kan ek my beesboerdery se insetkoste verminder, want ek kan die mielies vir die beeste voer en só waarde toevoeg. Dit sal my egter miljoene rand kos as ek geld moet leen vir alles wat ’n saaiboer nodig het. Ek is al byna te oud om nóg skuld te maak.”
Dis vandag nie meer moontlik vir iemand om te begin boer en as boer te groei as hy grond- én veeskuld moet aangaan nie.
PLEIT BY REGERING
Nogtans is Tjihero steeds bly hy boer. Hy pleit egter by sy regering om jonger boere
te help om kommersiële boere te word. Anders kan hulle nie plase koop nie, of as hulle dit wel kan doen, kan hulle die plaas nie behoorlik onderhou nie. “Ek weet uit ondervinding hoe moeilik dit is. Help ons jong mense asseblief om ook die vreugde van kommersiële boerderye te smaak.
“Dit sal ook net moontlik wees as politiek uit die landbou gehaal word. Dis baie belangrik, nie net in Namibië nie, maar ook in Suid-Afrika, dat die landbou nie verpolitiseer word nie. Wat ook sal help, is as suksesvolle Suid-Afrikaanse boere toegelaat word om vennootskappe met nuwe Namibiese boere aan te gaan. Dié kapitaal sal help om hulle vinniger te laat ontwikkel.”
Tjihero, ’n Herero, is in 1956 by Okahandja gebore waar hy ook skoolgegaan het. Sy pa, Festus, is reeds oorlede, maar sy ma, Maria, wat eintlik die boer in die familie was, leef nog. Hulle het later na Okamatapati verhuis. Ná skool het hy in Windhoek as klerk by die Namibiese radiostasie NBC begin werk.
Reeds as 19-jarige het hy die nasionale sokkerspan as verdediger gehaal.
“In daardie dae was daar twee Namibiese nasionale spanne, die swart en wit elftal. Later was ek kaptein van die swart span, en nadat die spanne verenig is, het ek tot 1984 vir dié span gespeel.”
In 1984 het Tjihero ná sowat 82 internasionale wedstryde vir Namibië teen buurlande soos Suid-Afrika en Zimbabwe uitgetree. Hy het ook in baie klubwedstryde uitgedraf, onder meer teen die beste spanne van Suid-Afrika.
Ná die einde van sy internasionale loopbaan het Tjihero en sy swaer, mnr. Oscar Mengo, die Namibiese sokkerklub Liverpool Okahandja gestig wat baie suksesvol in die land se sokkerliga was. Hy het toe self vir die span gespeel.
KOMMUNALE NAWEEKBOER
Intussen het hy steeds by die radiodiens gewerk en was sedert 1982 ’n kommunale naweekboer in Okamatapati. “Ek het die reg gehad om vee op kommunale grond aan te hou omdat my ouers daar gewoon het. Van 1990, toe ek by die NBC bedank het, tot 1994 was ek ’n heeltydse kommunale boer.”
Gaandeweg het Tjhihero as boer gegroei en sy veekudde het groter geword. In 1994 het hy die groot stap gedoen om sy eie kommersiële plaas, Okorusengo 279 wat 5 000 ha beslaan, met ’n lening van die Agri Bank by mnr. Jan Tromp van Okahandja te koop “toe die regstellende aksies begin het”.
Toe het hy reeds 280 kruisraskoeie gehad. Die plaas was erg verwaarloos en hy moes sommige van die geboue, krale en lyndrade van nuuts af herbou of herstel. “Die grond is egter baie vrugbaar en die water se gehalte is van die beste. Daarom het ek kans gesien om dié verwaarloosde plaas te koop, al het dit veral aan die begin baie werk gekos.”
Die plaas het hom R200 per hektaar gekos wat alles deur die lening gedek is, behalwe die oordragkoste van R266 wat hy uit sy sak moes betaal. “Dit klink min, maar onthou, ons het toe net R8 per kilogram vir speenkalwers gekry.”
STOETERYE AFSONDERLIK
Die twee stoeterye loop heeltemal afsonderlik op verskillende dele van die plaas sodat ’n bul nie dalk oor die draad kan spring om die ander ras se koeie te dek nie. Die kommersiële koeie loop ook in hul eie kampe.
Die boerdery volg nie ’n dekseisoen nie, want Tjihero wil reg deur die jaar speenkalwers hê om op veilings te verkoop. Dan het hy deur die jaar ’n inkomste.
Die weiding word deur soetveld gekenmerk. Die beeste kry in die somer ’n fosfaatlek en in die winter ’n proteïenlek.
Die water vir die beeste in dié distrik wat as relatief waterryk beskou word, kom uit boorgate waarvan die diepte van ongeveer 9 meter tot 36 meter wissel.
Tjihero het onlangs indringerbosse begin uithaal om die veld se drakrag van 10 ha per grootvee-eenheid (GVE) tot 8 ha/GVE te verbeter. Hy maak houtskool van die bosse wat verwyder word, en verkoop dit om vir die ontbossingskoste te betaal. Sowat 2 500 ha is reeds ontbos. Gelukkig is die bosindringing by hom nie so erg soos in ander dele in die noorde nie.
Die ontbossing word deur werkers met byle gedoen. Hy het al tot 45 werkers op ’n slag gehuur om kampe te ontbos. Die werkers kry sowat R1 300 per hektaar wat ontbos word. Dan kry Tjihero R800-R900 per ton vir die houtskool, na gelang van die grootte van die stukke houtskool.
Hy voer die houtskool na Suid-Afrika uit deur middel van ’n plaaslike inwoner.
VOLWAARDIGE BOER
Sedert hy sy eie plaas gekoop het, kan hy homself as ’n kommersiële boer beskou. Hy het veral aan die begin boeredae en vergaderings van verskillende boereverenigings bygewoon om sy kennis van veeboerdery te verbreed. Die jaar toe Tjihero plaas gekoop het, was hy die enigste swart boer in die omgewing. “Ek het baie gesukkel. Ander boere het my nie veel gehelp nie. Mettertyd het dit baie beter begin gaan namate ons mekaar beter leer ken het.”
In 2008 het Tjihero sy eerste Brahman-stoetbulle by mnr. Fritz Hein van die
‘Wat ook sal help, is as suksesvolle Suid-Afrikaanse boere toegelaat word om vennootskappe met nuwe Namibiese boere aan te gaan. Dié kapitaal sal help om hulle vinniger te laat ontwikkel.’
plaas Okatjeru, Hochfeld, gekoop en die eerste stoetkoeie by die legendariese politikus en boer dr. Dirk Mudge van Omatako-Brahman op Ovikere. Hy het ook koeie by mev. Lorraine van Heerden van Otjiwarongo gekoop.
Sedert daardie beskeie begin met 30 stoetBrahmane het die getalle tot 140 geregistreerde wit Brahmane aangegroei.
“Ek het ál my kennis oor Brahmane by hulle bekom. My kennis van die Simmentaler het ek deur die jare op kommunale vlak gekry. Na my mening is die Simmentaler gekruis met die Brahman die beste kommersiële kruising wat ’n boer in ons Namibiese toestande kan maak. Dit het goed op kommunale vlak gevaar en dit is vandag nog die geval, want dit gee vir my aanpasbare beeste.”
In 2014 het Tjihero ook ’n Simmentalerstoetery begin; óók met 30 koeie en ’n bul wat hy by mnr. Stephan Voigts van Dordabis gekoop het. Dié stoetery staan nou op 60 geregistreerde vroulike diere.
Hy besef die waarde van goeie teeltmateriaal deeglik, soos toe hy R200 000 vir 2012 se Namibiese grootkampioen-Brahmanbul betaal het.
Daarby besit Tjihero sowat 200 kommersiële beeste vir speenkalfproduksie. In die huidige tye is ’n osboerdery nie ’n goeie opsie nie. Hulle behaal basies dieselfde prys, maar dit duur drie jaar vir ’n os om slaggereed te word, terwyl ’n kalf op agt maande gespeen en verkoop kan word.
Die kommersiële kudde is Simbra-tipe beeste wat meer na Brahman neig as gevolg van hierdie ras se gehardheid. Hy het Simmentaler-gene bygevoeg omdat die Simmentaler baie goeie vleiseienskappe het. Dié twee rasse het die grootste getalle in Namibië.
“In my stoeterye én in die kommersiële boerdery selekteer ek vir aanpasbare diere vir die harde omgewing. Die beeste moet ook ver ente kan loop agter weiding aan. Verder moet hulle baie vleis dra – en ek verkies dus mediumraambeeste met goeie vleiseienskappe.”
LEEF VAN BEESTE
“Die beesboerdery is my enigste boerdery en ek het geen inkomste uit ander bronne nie. Ek besef egter dis moeilik vir ’n boer om te oorleef as hy nie ’n bykomende inkomstebron het nie.
“Nog ’n waardevolle les wat ek geleer het, is dat ’n mens minstens 300 koeie en R3 miljoen kontant moet hê as jy begin boer. Watter beginnerboer het soveel geld? Die termyn van 23 jaar om ’n banklening terug te betaal, is kort en die paaiemente is hoog. My volgende generasie moet mos darem sonder skuld erf en met die boerdery kan aangaan. Die afbetaaltydperk en paaiemente kan gerus in die boer se guns verander word.”
Tjihero tree in die bres vir nuwe boere. “’n Mens moet baie speenkalwers of ossies verkoop om die jaarlikse paaiement te kan bybring. Dit is hoekom party plase soos kommunale gebiede lyk, want die mense kan dit nie bekostig om ’n plaas behoorlik in stand te hou nie.”