DIE ANDER SÊ
MNR. TERENCE CORRIGAN, ’n projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge, meen mnr. Bheki Cele, minister van polisie, hou weinig getuienis voor ter ondersteuning van sy stelling dat die spanning en vyandigheid in Normandien in KwaZulu-Natal deur arbeidsgeskille, rasse-“spanning” en onsekerheid oor grondhervorming veroorsaak is.
Ons weet inderwaarheid weinig oor die motivering vir plaasaanvalle. ’n Verslag uit 2003 het gevind “arbeidsverwante” dispute het in 1,6% van aanvalle ’n rol gespeel het, “politieke” of “rasverwante” faktore 2%, “intimidasie” 7,1% en “roof” 89,3%. Rasoorwegings het dus in skynbaar minder as 4% van die aanvalle ’n rol gespeel.
Hierdie inligting is oud, maar dis die beste wat ons het. As die minister enige ander inligting het, moet hy deursigtig wees daaroor. In ’n onderhoud met News24 het hy niks meer as vae anekdotes voorgehou nie, veral skynbaar ongetoetste bewerings oor een boer wat aan hom oorgedra is. Die anekdotes bewys weinig, en verteenwoordig ’n narratief wat meer te doen het met vooroordeel oor boere en ’n ideologiese wêreldblik as werklike getuienis. ’n Mens kan nie help nie om die implikasie te sien dat die boere op ’n manier die geweld oor hulself bring deur hul eie optrede.
Te veel amptelike retoriek en beleid werk egter téén wedersydse respek en samewerking tussen gemeenskappe – hetsy in beweringe van arbeidsvergrype deur boere, die gereelde smeekbede van “ons mense”, teenoor, wel… ander. Hoe bevredigend dié gebruik as politiek kan wees, dit vererger net die land se krisisse.