DIE ANDER SÊ
TALLE eng rasgebaseerde organisasies wil ons wysmaak dat ons minder “polities-korrek” en verdraagsaam moet wees. Indien die landbousektor ooit dié polariserende diskoers van konserwatiewe Afrikaner-organisasies aanvaar, sal die grond debat en enige oplossings gedrewe gesprekke onmoontlik raak, waarsku mnr. Dan Kriek, voormalige voorsitter van Agri SA. Die gevolge sal rampspoedig wees en ons sal nooit wedersyds voordelige raakpunte of ’n resep vind om te begin saamwerk vir sukses en voorspoed vir alle Suid-Afrikaners nie.
Ons het almal’ n verantwoordelikheid om die gemeenskaplike waardes van die Grondwet ’n werklikheid te maak. Die Grondwet gaan nie oor vergelding nie, maar oor transformatiewe geregtigheid, inklusiwiteit en geleenthede vir almal. Pogings tot volhoubare grondhervorming ná 1994 het egter klaaglik misluk.
Politici maak weliswaar beleid en veroorsaak groot ontsteltenis met populistiese opmerkings en besluite, maar gewone burgers kan verandering aanvuur deur klein te begin in ons eie gemeenskappe, deur mekaar te erken, deur bande met mekaar te smee en gemene belang te vind in hul alledaagse lewe. Daar is meer as genoeg welwillendheid onder gematigde Suid-Afrikaners om oplossings vir ons probleme te vind én suksesvol toe te pas.
Vertroue en samewerking tussen boere-organisasies en die regering sal deurslaggewend wees in die toekoms. Vennootskappe tussen wit kommersiële boere en swart boere, kommunale boere en tradisionele leiers sal bepalend wees vir ekonomiese herstel.