Landbouweekblad

DAISIES VAN DIE KAROO

- — WILLEM VAN DER BERG

Daar is al gesê dat die Karoo die bes bewerkte halfwoesty­n ter wêreld is. Net onder die bossieveld is goeie en wonderlike water wat al vir jare en jare deur windpompe boontoe gebring word.

Een van die bekendste windpompdo­kters, mnr. Leon Swanepoel, tref jy aan op Carnarvon by Leon Swanepoel Windpomp & Algemene Hersteldie­nste. Die werkswinke­l is sedert 1 Maart 1981 aan die gang en daar hang honderde windpompon­derdele aan die dakbalke.

Swanepoel werk al 59 jaar aan windpompe en het seker al 5 000 windpompko­ppe reggemaak. “En ek het al meer as ’n miljoen kilometer agter pompe aangery.”

Windpompe praat met hom, sê Swanepoel. “As jy langs hom staan, kan jy hom hoor. Hy maak geluide. Hy vra dat jy hom moet help. As hy só klap, dan weet jy daar’s fout met die ratte. As hy só klap, is dit die top rod .Jy moet net luister.”

Sal sonpompe ooit windpompe vervang? Swanepoel trek sy gesig. “Nee wat. Daar is nie ’n goedkoper en beter manier as ’n windpomp nie. En waar sal ’n sonpomp 70, 80 of 90 jaar lank hou?

“As jy vandag windpompe uit die Karoo haal, dan staan hy. Dan gaan hier niks aan nie. Hulle is die daisies van die Karoo. Ons staalblomm­e. Hulle sorg vir ons.”

Maar Swanepoel is nou besig om klaar te maak. Sy besigheid is al geruime tyd te koop. “Daar is ’n groot leemte in hierdie werk. Ons is nie baie wat dit kan doen nie. En die jong manne stel nie juis belang nie.

“Dis ’n eerbare werk. Water is die siel van alles, en ons tipe ouens gee ons lewens vir daai water. Wanneer ’n pomp staan en die diere raak dors en jy maak daai pomp reg en die diere hardloop water toe en staan sommer so om jou en drink. Daai dankbaarhe­id op hul gesigte is iets wat jy nooit kan vergeet nie.”

Die Willistons­e boer mnr. Japie Meyer het van kleins af gehelp met windpompe en het al die truuks geleer. Omdat sy grond maar kleinerig is, het hy met die windpompdi­enste begin om ’n ekstra inkomste te verdien. “En ek is diep dankbaar. Dit is ’n harde job, maar dit hou ons aan die gang. Veral nou in hierdie rowwe droogte. Kyk, ek kry nou baie minder werk omdat niemand hier rond regtig geld het vir pompwerk nie. Maar daar is darem nog altyd iets dringends wat iewers gedoen moet word.”

Dit is juis die Boorgatgog­ga, wat agter sy Ford gehaak is, wat deesdae in aanvraag is. “Die droogte maak dat die ouens nou in ou boorgate, wat lank toegestaan het, gaan kyk vir water. Jong, die manne is desperaat. Dan haal ons wortels, klippe en ou pype uit. Partykeer die snaaksste goed wat kinders daar afgegooi het.”

Die Boorgatgog­ga vat nie nonsens van verstopte of vuil gaaie nie, sê Meyer. “Party ouens laat ’n windpomp loop tot hy breek. Of hulle los die bosse totdat die gat verstop is. As hulle net ’n bietjie aandag gee, na die olie kyk, die briek effens vasdraai en die bosse uitkap, sal hul windpompe jare lank sonder moeilikhei­d loop. Maar nou ja, dan sal ek seker minder werk hê,” sê Japie.

“Daar is min ouens wat hou van windpompwe­rk. Jy hoor nie jong mense sê hulle wil eendag aan windpompe werk nie. Die ouens wat kan, word daarom al hoe minder. Ek weet nie hoe sal dit oor ’n klompie jare gaan nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa