OMNIA HOLDINGS TERUG OP DIE WINSPAD
OMNIA HOLDINGS is stabiel en op die herstelpad, maar daar lê nog werk voor.
Dít is kortliks die boodskap wat die halfjaarresultate van dié gediversifiseerde chemiese maatskappy oordra.
Die wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot einde September was 49c per aandeel, vergeleke met ’n verlies van 122c per aandeel in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Danksy Omnia Holdings se suksesvolle regte-uitgifte van R2 miljard is sy skuldlas verminder. Dié stap het volgens mnr. Seelan Gobalsamy, uitvoerende hoof, die maatskappy se finansiële posisie verstewig en sy omdraaiplan ’n hupstoot gegee.
“Die onderneming is gestabiliseer, maar nou moet ons Omnia posisioneer vir die ‘nuwe norVolgens maal’, waar klimaatstoestande en die sektore waarin ons sake doen, al hoe onvoorspelbaarder en wisselvalliger raak.”
Dié gediversifiseerde verskaffer van chemiese produkte en dienste aan die mynbou-, landbouen chemiese sektor het 100 miljoen nuwe aandele teen R20 per aandeel uitgereik nadat ongunstige marktoestande en stygende finansieringskoste vir nuwe verkrygings sy wins van R664 miljoen in die boekjaar 2017-’18 tot ’n verlies van R407 miljoen in 2018-’19 laat tuimel het.
Danksy die inspuiting van kapitaal met die regte-uitgifte kon Omnia Holdings ’n gedeelte van sy oorbruggingslening terugbetaal en sy finansiering volgens gunstiger bepalings herstruktureer.
In die halfjaar tot einde September vanjaar het sy bedryfswins met 137% tot R294 miljoen gestyg. Sy nábelaste wins was R35 miljoen vergeleke met ’n verlies van R93 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk.
Dié verbetering is veral te danke aan die goeie prestasie van sy mynbou-afdeling, waar die bedryfswins met 124% tot R234 miljoen opgeskiet het.
Die chemiese afdeling, wat Protea Chemicals en Umongo Petroleum insluit, se koste is laer en sy winsmarges lyk beter danksy ’n omdraaistrategie, hoewel sy netto inkomste van R2,6 miljard steeds op dieselfde vlak as in die vorige ooreenstemmende tydperk is.
Die landbou-afdeling, wat plaaslike en buitelandse bedrywighede insluit, se netto inkomste het met 3% tot R3,5 miljard gedaal. Gobalsamy sê die lae pryse wat boere vir hul graan en ander produkte ontvang, veroorsaak dat kunsmisverkope stram is. Uit die resultate blyk dit dat Omnia se Suid-Afrikaanse
landbou-afdeling in die ses maande tot einde September ’n bedryfsverlies van R46 miljoen gely het. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat kunsmisverkope gewoonlik sterker vertoon in die tweede helfte van die boekjaar omdat boere eers wag vir reën voordat hulle kunsmis koop, sê Gobalsamy.
Oor die weervooruitsigte vir hierdie somer is hy filosofies. “Soos die boere sien ons reikhalsend uit na reën. Ons sal dankbaar wees as daar voldoende reën val, maar ons het almal eintlik begin aanpas by laat en wisselvallige reënpatrone die afgelope jare.”
Daarom het Omnia produkte en tegnologie ontwikkel om boere te help om klimaatsfaktore die hoof te bied.
Omnia Holdings het nie ’n tussentydse dividend aangekondig nie. Die aandeelprys, wat vanjaar reeds tot twee derdes van sy waarde prysgegee het, het ná die aankondiging met 2% tot R30,89 per aandeel verstewig.