VLIEG OF VREET?
Die voormalige minister van landbou Hendrik Schoeman se destydse reaksie op ’n parlementêre vraag oor hoe swak die kos op die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) was toe hy as minister van vervoer gedien het, was onomwonde: “Wil die agbare lede vlieg of wil hulle vreet?”
Met hopeloos te min reën wat tot dusver oor groot dele van die land geval het, is dit nou weer ’n vraag wat hard en aanhoudend in die parlement gevra moet word. Pleks daarvan dat die droogte, wat Suid-Afrika al jare lank wurg, hele gemeenskappe op die randjie van ineenstorting gebring het en erge ekonomiese gevolge vir almal inhou, dringend bespreek word, geniet die SAA se voortbestaan eerder voorrang! Dit is dieselfde lugdiens wat oor die jare miljarde rande van produktiewe belastingbetalers se geld opgeslurp het en nou weer R5,5 miljard pasella gekry het kort voor ’n verlammende staking.
Hoekom word al hierdie geld op ’n lugredery uitgegee? Is dit omdat politici en hul families gratis rondkarwei word? In teenstelling met die luukses waaraan die politici gewoond is, duur die onbeskryflik tragiese humanitêre krisis wat al lank in onder meer die Noord-Kaap afspeel, onverpoos voort. Wanneer dit eendag reën, gaan dit jare duur vir plase om te herstel.
Vir baie boere gaan die herstel van hul gemoed nog langer duur. Op sekere plase is daar min om te eet — vir diere én mense. Elders is plaashekke toegetrek. Werkers sit al jare lank op die dorp, en pensioene is aan dierevoer bestee.
Om die lyding van duisende mense en diere in die Noord-Kaap te verlig, het die staat R425 miljoen bewillig, die helfte van wat regtig nodig is. Elders, soos in die Oos-Kaap, is hulp ook onvoldoende.
Prof. Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), sê die landboubedryf dra R60 miljard tot Suid-Afrika se positiewe handelsbalans by en het die ekonomie al ’n paar keer uit die verknorsing gered. Moet ’n mens dankbaar of kwaad wees oor die huidige staatshulp? Met byna 40% van die land se boere wat erge houe weens die droogte vat, is bang miskien die regte reaksie.
Jare lank al word daar gesoebat en gepleit dat die staat sy rampbeplanning agtermekaar kry. Nou is oom Kosie van Zyl, wie se planne Suid-Afrika se saaiboere deur die droogte van 1992 gehelp het, ook oorlede. Oesversekering wat deur die staat gesubsidieer word, sou ’n enorme verskil vir saaiboere gemaak het. Dit is boonop ’n fraksie van die geld en tyd wat op die SAA bestee word.
Intussen wil banke in sekere distrikte in die westelike saaigebiede nie meer lenings oproep nie. Want wat sal dit tog help? Niemand wil grond koop nie. ’n Veiling sonder kopers sal die omliggende grondwaardes net verder afdruk, wat die res van die distrik se skuld onder nóg groter druk sal plaas. Dan praat ons nie eens van hoe dié slegte skuld op landboubesighede se boeke lyk nie.
Terwyl verskeie belanghebbendes die omvang van ’n moontlike katastrofe aan die staat verduidelik, sal die landbou self buite die boks moet begin dink. Dit is ons almal — hierdie tydskrif, die georganiseerde landbou, landboubesighede, insetverskaffers en finansiers — almal wat ’n bestaan uit boere maak. Ons moet kyk na die volgehoue voorsiening van voer, die verskuiwing van kernkuddes, die voorsiening van alternatiewe inkomste en die reël van nuwe werkgeleenthede vir boere.
As ons nie planne maak en geld bewillig nie, gaan oudminister Schoeman se vraag weer in die parlement gevra word — maar dié keer sonder ’n sweempie humor.