Melkboere, span saam vir groter bedinging
Om onder die huidige markstremming te oorleef, moet boere skaalvoordele benut, gesamentlike ondernemings met ’n groter bedingingsmag stig en by die verdere suiwelwaardeketting betrokke raak.
Laer produksie in belangriker uitvoerlande, matige internasionale vraaggroei en laer intervensievoorrade lei tot beter internasionale pryse. Ongelukkig kan Suid-Afrikaanse melkboere nie uitsien na beter pryse nie.
Volgens die pas gepubliseerde World Dairy Situation-verslag van die Internasionale Suiwelfederasie (ISF) het koeimelkproduksie in 2018 met 2,1% gegroei. Dis effens vinniger as die 2% per jaar vanaf 2010 tot 2018. Vinnige produksiegroei in Indië (+7,8%) en tot ’n mindere mate in Pakistan en Turkye was hoofsaaklik vir die groei in produksie verantwoordelik.
Melkproduksiegroei het in die eerste helfte van 2019 in verskeie lande stadiger geword. In die belangrikste suiweluitvoerlande is produksiegroei oor die algemeen laer as in die vorige jaar ( TABEL 1 ).
Vir 2019 verwag die ISF lae produksiegroei van sowat 1,8%. Die International Farm Comparison Network (IFCN) verwag egter slegs 1,1% groei in 2019 en 2,1% in 2020. Melkproduksiegroei in 2019 is op ’n rekordlaagtepunt, vergelykbaar met 2013 en 2016.
SUIWELVRAAG GROEI STEEDS POSITIEF
Die wêreldbevolking het in 2018 met 85 miljoen tot 7,6 miljard vermeerder en die gemiddelde per kapita-verbruik van suiwel in dié jaar het met 1,3% tot 113,7 kg per persoon gestyg. Vanaf 2010 tot 2017 het per capita-verbruik met meer as 12 kg gestyg.
Die VLO-OESO-basislynprojeksie dui aan dat suiwelverbruik op die lang termyn met 1,7% per jaar sal groei. Internasionale handel in suiwelprodukte het in 2018 met 5% toegeneem.
Oor die afgelope dekade het internasionale handel reeds met meer as Nieu-Seeland se jaarlikse produksie toegeneem.
PRYSVOORUITSIGTE
Die belangrike Global Dairy Trade- geweegprodukprysindeks het verhoog van 846 in November 2018 tot 1 086 in Mei 2019, die hoogste vlak sedert Junie 2017. Hierna het pryse effens teruggesak tot 1 010 op die mees onlangse veiling aan die begin van Oktober vanjaar.
Die VLO-OESO se langtermyn-basislynprojeksies dui aan dat produkpryse steeds hoër gaan neig oor die volgende tien jaar. Die gaping tussen die pryse van melkvet en ander bestanddele gaan waarskynlik voortduur.
Die daling in voorraad van Europese afgeroomde melkpoeier en laer produksiegroei kan egter veroorsaak dat dié gaping effens vernou.
Termynmarkte dui op ’n internasionale produsenteprys van tussen $38 en $39 per 100 kg melk vir 2020. Die IFCN verwag dat produkpryse op ’n produsenteprysvlak van tussen $35 en $38 per 100 kg melk sal beweeg. Teen die verwagte rand-dollar-wisselkoers van R14,60 vir die laaste kwartaal van 2019 is dit gelykstaande aan ’n Suid-Afrikaanse produsenteprys van tussen R4,93 en R5,35.
Indien die rand verder verswak, kan die pryse verder styg.
SUID-AFRIKAANSE SITUASIE
Die plaaslike vraag het wel toegeneem ondanks die swakker ekonomie. In die 12 maande tot einde Junie het die vraag na Suid-Afrikanse suiwelprodukte, soos aangedui in die mees onlangse Sampro-verslag, met die uitsondering van die varsmelkkategorie, positief gegroei (sien TABEL 2 ). Met die uitsondering van botter en maas het die toename in vraag ook teen hoër pryse plaasgevind.
Die skerp styging in verkope van langlewemelk teen hoër pryse, dui op ’n verskuiwing in die vraag na langlewemelk. Die negatiewe groei in die varsmelkkategorie veroorsaak dat produsentepryse traag op markseine reageer.
In die verlede was dit gewoonlik die kleiner varsmelkverwerkers wat eerste tekorte ervaar en dan pryse verhoog het om hul inname te verhoog. Dit het dan ’n siklus van prysverhogings tot gevolg gehad, waar die groter kopers gedwing is om hul pryse aan te pas. Hierdie belangrike aansitter van prysverhogings is tans afwesig.
Plaaslike suiwelverwerkers het ten volle in die styging in pryse gedeel. Die produksieprysindeks van vervaardigde suiwelprodukte en die prys wat melkverwerkers vir hul produkte ontvang, het sedert die sewejaarhoogtepunt wat in Mei 2018 bereik is, effens gedaal en is tans 0,5% laer as die hoogste vlak nog. Daarenteen daal produsentpryse skerp vanaf November 2017 tot ’n laagtepunt in Desember 2018.
Ná ’n effense verbetering tot April 2019 daal pryse weer en kopers het reeds vanaf Oktober prysverlagings aangekondig. Die verloop van pryse op produsente- en exde
fabrieksvlak gegrond op die amptelike syfers van Statistieke SA en soos ook maandeliks deur Melk SA aangedui, word in die meegaande FIGUUR aangedui. Dit wys dat produsentepryse meer veranderlik as ex-fabriekpryse is en dat dit nie met die styging in ex-fabriekpryse tred gehou het nie.
In Suid-Afrika is die vinnige produksiegroei in 2018 opgevolg deur veel stadiger produksiegroei in 2019. In die eerste agt maande van 2019 is daar, aldus Melk SA, 2 126 miljoen ton melk in Suid-Afrika aan verwerkers gelewer. Dit is 0,15% minder as in die ooreenstemmende tydperk in 2018.
Melkboere se winsgewendheid is steeds onder druk. Die droogte in verskeie gebiede het daartoe gelei dat boere wat in die verlede grootliks van weidings af melk geproduseer het, nou verplig is om melkkoeie meer konsentrate te voer. Hoewel dit produksie oor kort termyn bevorder, is dit nie op lang termyn volhoubaar nie. Geringe graanprysstygings en die pas aangekondigde produsenteprysverlagings lei daartoe dat die melk-tot-voerprysverhouding nou ’n kritieke vlak van minder as 1,2:1 bereik het.
Die oplewing in melkproduksiegroei gaan waarskynlik nie voortduur nie. Terwyl melkverwerkers steeds genoeg melk kry om aan hul vraag te voldoen en dit gou met invoer kan aanvul, indien daar enige gevaar van ’n moontlike tekort ontstaan, gaan die plaaslike produsentepryse onder druk bly.
GROTER SAMEWERKING BELANGRIK VIR OORLEWING
Internasionale suiwelverbruik groei as gevolg van die bevolkingsaanwas en ’n toename in per capita-verbruik. Produksiegroei gaan sukkel om aan die vraag te voldoen. Pryse gaan dus matig styg.
Die Suid-Afrikaanse mark groei en verdere groei gaan tot verwerkers en kleinhandelaars se voordeel wees. Hoër ex-fabriek- en kleinhandelspryse gaan nie tot beter produsentepryse lei nie. Die Suid-Afrikaanse melkboer nie sonder meer in die wins wat buite die plaashek gemaak word, deel nie.
Veral boere wat melk aan kopers lewer wat net in die varsmelkmark sake doen, gaan stagnante pryse ervaar wanneer die kopers baklei vir markaandeel in ’n krimpende mark.
“Get big or get out” was een van die landbou-ekonoom prof. Eckardt Kassier se minder gewilde sêgoed. Ongelukkig is dit waar dat produksiegroei noodsaaklik vir oorlewing is. Die groei hoef nie net individueel te wees nie.
Daar is baie voorbeelde van boere wat gesamentlike ondernemings gevestig het om die regte skaalvolumes te bereik. Die gesegde moet verander word na “Get big, get together or get out”.
Kleiner melkprodusente sal net oorleef deur self waarde toe te voeg en ’n nismark te bedien. Groter melkprodusente wat skaalvoordele ten volle kan benut, sal oorleef, hoewel winste onder druk gaan bly.
Daar is heelwat voorbeelde van melkboere wat of op hul eie of as groepe met groot sukses by die waardekettings buite die plaashek betrokke geraak het. Daar was wel gevalle waar die boerbeheerde besigheid misluk het. Dié gevalle behoort ander boere nie af te skrik nie.
Dr. Koos Coetzee is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.