DIE ANDER SÊ
SUID-AFRIKA se debakel met geboortesertifikate wat vereis word vir kinders wat oor die grens reis, het Suid-Afrika ’n fortuin gekos aan verlore toerisme. Die oplossing, hoe laat ook al – ’n kwytskelding is eers vroeg November onderteken ná die verandering maande gelede reeds gemaak is – is welkom. Dit is egter kenmerkend van hoe pynlik stadig en omstrede hervormingsprosesse is, en hoe breed die gaping kan wees tussen veranderinge wat pres. Cyril Ramaphosa belowe ten einde die ekonomie aan te help, en die toepassing daarvan (of nie) deur staatsdepartemente.
Die visumkwytskeldings was minstens ’n begin, en daar was onlangs ander, sterker verrassings – veral Okosa wat skielik begin het met die langverwagte opveiling van hoëfrekwensie-breëbandspektrum. ’n Agt jaar lange gesloer met waterlisensies is ook net voor die beleggingskonferensie verbreek, wat nuwe landbouprojekte moontlik sal maak.
Een meganisme wat baie gehelp het, is die maandelikse werkberaad-vergadering onder leiding van Ramaphosa, wat gebruik word om ministers verantwoordbaar te hou oor hoekom hulle nie beloofde hervormings ’n werklikheid gemaak het nie. Nog een is ’n nuwe projekkantoor wat binne die president se kantoor gevestig is om die hindernisse binne die regering uit die weg te probeer ruim.
Die nuwe daeraad wat Ramaphosa beloof het, blyk egter ’n stadige reaksie te wees tot ’n ekonomie wat in ’n krisis verkeer. Die gebrek aan sigbare dringendheid is besig om die president heelwat van die geloofwaardigheid te kos wat hy vroeg in sy ampstermyn opgebou het.