Veeverslag
EIENAARS van vee word ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) verplig om alle redelike stappe te doen om siektes en parasiete by hul diere te bekamp en die verspreiding daarvan te voorkom. Dit beteken ’n eienaar mag nie willens en wetens besmette diere koop en by sy ander vee plaas nie, sê dr. Trudie Prinsloo-van der Heever, veearts en regsadviseur, in ’n artikel wat sy vir die brucellosestuurkomitee van die nasionale dieregesondheidsforum geskryf het.
Vee-eienaars is ook verplig om diere te behandel as hulle wel besmet word, waar behandeling moontlik en toelaatbaar is.
As ’n eienaar boonop vermoed sy diere het ’n beheerde siekte, is hy verplig om dit onmiddellik by die verantwoordelike staatsveearts aan te meld.
Dié voorskrifte is ook vervat in die Septemberverslag oor dieresiektes en toestande wat by dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), aangemeld is, en handel spesifiek oor die bekamping van brucellose.
Dit is die nasionale en provinsiale veeartsenydienste se mandaat om die wet toe te pas.
’n Vee-eienaar kan verplig word om sy diere te toets, selfs al is daar net ’n vermoede dat die diere besmet kan wees.
As ’n eienaar nie saamwerk nie, kan beamptes ’n bevelskrif op hom beteken wat hom verplig om sekere stappe te doen. Hulle het ook die mag om ’n perseel of voertuig te betree en inspeksies uit te voer.
Indien ’n eienaar, of iemand wat namens die eienaar optree, hierdie wet oortree, kan strafregtelike klagte gelê word.
In uiterste omstandighede mag beamptes selfs beheer oor ’n perseel oorneem om siektebekamping uit te oefen, terwyl die koste die eienaar se verantwoordelikheid sal wees.
Die staat probeer egter altyd eers om die samewerking van die eienaar te kry en sal hierdie stappe slegs in hoogs uitsonderlike gevalle doen, sê sy.
Die doel van die wet is immers om die nasionale kudde én mense te beskerm en nie om as strafmaatreëls te dien nie.