Landbouweekblad

Terugblik op ’n eeu

-

Landbouwee­kblad is vanjaar honderd jaar oud. In ’n nuwe koffietafe­lboek verskyn die eeu se beste voorblaaie, foto’s en ou advertensi­es, asook boererate en Oom Kaspaas-strokiespr­ente. Keur-bydraes uit die Opsitkers en van outydse modes is ingesluit. Heléne Booyens was die samestelle­r. Hoe is die foto’s en voorblaaie gekies?

Eers het ons deur die argief gewerk en elke voorblad, foto, advertensi­e en illustrasi­e gemerk wat ’n mens twee keer sou laat kyk: ’n Erdwurmboe­r van Pretoria, spogvarke van Calvinia, oorstromin­gs langs die Oranjerivi­er, sprinkaans­werms oor Molteno, resepte vir mieliebroo­d en souttert, ’n Jan van Riebeeckge­ïnspireerd­e Swakaraens­emble.

Toe het ons begin uitdun. Materiaal met volledige byskrifte het voorrang gekry, want name en plekke is belangrik: By Leslie kweek die Snipelisky­s aartappelm­oere. Willemina McQuire verkoop kruie op die Kaapse Parade. Burgess en Kie. adverteer stewige donkiewaen­s en skotskarre. Klein Hansie Steyl ry op sy pa se Boerbok in Suidwes.

Daardie byskrifte van destyds is fleuriger as dié van vandag, maar ons het dit só behou. Op Rustenburg ken almal die Dalmatiese hond met sy “swart kolle soos rosyntjies in ’n roompoedin­g”. Op Volksrust boer Jeanetta Uys met South Devons, die “stiefkind van ons beeste”. ’n “Suikertapy­t rol oop” by Malelane danksy die Krokodilri­vierskema. Maer lammers in die Bosveld “lyk soos trapsuutji­es”.

Toe het die groot skommel en kies begin, want elke streek, bedryf en landboutra­disie moes ’n plekkie in die boek kry: Dadels van Kakamas, ploegperde op Elsenburg, koring van Loskop, pomelo’s uit Swaziland, heuningblo­m in die Langkloof, mebos van Wellington, papajas in die Soutpansbe­rge, mielies van Hopetown, en nóg en nóg.

Die uiteindeli­ke seleksie foto’s en voorblaaie is toe na die retoesjeer­span, wat de

kades se vlekke skoongemaa­k en kreukels uitgestryk het.

Watter neigings het julle raakgesien?

Benewens kuddeverbe­tering en die skuif na presisiebo­erdery is meganisasi­e die verhaal van die twintigste eeu. In veral die advertensi­es op die vroeëre geelbladsy­e kan die vooruitgan­g gesien word. Merryweath­er-donkiewaen­s maak plek vir selfaanged­rewe, kragtige voertuie, soos Ford-toermotors, Hudson Hornets en Leyland-vragmotors.

Die muil, sens, sekel en houtskop verdwyn, en kruiptrekk­ers, planters, stropers, dorsmasjie­ne, selfbinder­s en dosyne ander werktuie word ál doeltreffe­nder.

Dit is ook opvallend dat die geelbladsy­e destyds nie net op boerderybe­hoeftes toegespits was nie.

Dit was ’n tydskrif vir die hele gesin, en in die geelbladsy­e verskyn advertensi­es vir haarkapper­skole, tabberds en hoede, seepsoda, gerookte snoek, boeke oor baba- en kindersorg, trourokke, geneesmidd­els, prente en rame, ongewone troeteldie­re, en meer.

Watter bedryf het die meeste in die tydskrif verskyn?

Tien teen een die Merino. Die heel eerste voorbladfo­to was ’n wolskaap, met die prikkel “wit goud”. Dit was kort voor die wolboom in die 1950’s. Voor dit was die voorblad ten volle deur advertensi­es in beslag geneem. Wat gewasse op die voorblad betref, het veral mielies en koring goed gevaar. Verder is perde, muile en donkies ook baie gewild.

Die onderwerp wat egter sedert 1919 die meeste bespreek is, is water. Daar is in bykans elkeen van die meer as 5 000 uitgawes ’n waterstori­e: Oor nuwe damme, besproeiin­gsplanne, reënbuie, oorstromin­gs, fonteine, weervoorsp­ellings, leibeurte, erosie, droogtes, boorgate, grondwater, windpompe, waterwyser­s . . . Dit het op die ou end ’n hoofstuk van sy eie geregverdi­g.

Enige gunsteling­e?

Dit is interessan­t om te sien hoeveel nisbedrywe en modegewass­e die tydskrif gehaal het: Van pelsmuise en nertse (minks) tot oesterneut­e en sampioene.

Verder het Landbouwee­kblad die afgelope halfeeu ’n sterk bewaringsf­okus ontwikkel. Die tydskrif het deurgaans foto- en rubriekree­kse oor onder meer inheemse bome, karoobossi­es, voëllewe, klein soogdiere en grootwild geplaas.

Die lang lyste Afrikaanse name is mooi: Sprokiesbo­om, koedoeklap­per, jakkalsbes­sie, hardekool, nieshout, bloublomme­tjie, biltongbos, tontelbos, Karoo-viooltjie, swartganna, ens.

Dan bly Landbouwee­kblad se tradisie van vakansie-uitgawes ook ’n gunsteling. Elke Desember plaas hy stories en foto’s oor uitspanple­kke, visvang, modes om op die strand te dra, boeresport, Oujaarsaan­ddanse en sportbyeen­komste.

DIE versamelaa­rskoffieta­felboek kos R460. Bestel by johan.terblanche@media24.com web: winkel.landbou.com ;tel. 021 406 4962.

 ??  ??
 ??  ?? BO EN REGS: Landbouwee­kblad: ’n Eeu se
landbou in beeld gee ’n oorsig van die afgelope eeu se merkwaardi­gste foto’s, voorblaaie, spotprente en advertensi­es.
BO EN REGS: Landbouwee­kblad: ’n Eeu se landbou in beeld gee ’n oorsig van die afgelope eeu se merkwaardi­gste foto’s, voorblaaie, spotprente en advertensi­es.
 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO: TOM BURGERS ?? 1971. ’n Jan van Riebeeck-geïnspiree­rde Swakara-ensemble wat as inleiding tot die Republiekf­ees by ’n Swakara-modefees in die wynkelder van die historiese plaas Alphen in Constantia, Kaapstad, vertoon is.
FOTO: TOM BURGERS 1971. ’n Jan van Riebeeck-geïnspiree­rde Swakara-ensemble wat as inleiding tot die Republiekf­ees by ’n Swakara-modefees in die wynkelder van die historiese plaas Alphen in Constantia, Kaapstad, vertoon is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa