’n Bloeiende Karoo
van die land se spaargeld. “Die land het ’n verantwoordelikheid om dié bate diensbaar te hou.”
Verder is daar deesdae net twee besige dae per maand op die meeste plattelandse dorpe – die dag waarop die maatskaplike toelaes betaal word en die dag waarop die plaaswerkers dorp toe kom.
Symington sê die toelaes vervul ’n rol in baie mense se lewe, maar dit is uiteindelik die landbouekonomie wat baie dorpe se handelshuise, skole, kerke, klinieke en vulstasies aan die gang hou.
“As dit verdwyn, kan die regering steeds een maal per maand die toelaes kom betaal, maar die mense wat die toelaes kry, gaan met geld sit wat nie bestee kan word nie. Ek kan nie dink dat dit ’n gesonde situasie sal wees nie. Daarom sien ek die sin daarin om te sorg dat die landbou-ekonomie tydens die droogte in stand gehou word. Dit stel die regering in staat om weerlose mense te versorg.”
WAT DOEN AGRI NOORD-KAAP?
Die nood is nóú, maar wat probeer Agri Noord-Kaap vir droogtebeplanning en rampbestuur op die lang duur doen?
Symington sê boere is genoodsaak om nuut en vars te dink oor hoe hulle op droogtes voorberei. Boere moet besef as die droogte verby is, rus die onus op hulle om planne te beraam om op die grond te bly. Agri NoordKaap konsentreer op die ekologie. “As mense in ons wêreld op die regte manier boer, sal boerderye volhoubaarder wees.”
Tweedens beywer die provinsiale landbou-unie hom vir beter vroeëwaarskuwingstelsels. “Ons sit met ’n dilemma. Al het iemand sewe jaar gelede vir ons gesê daar is ’n lang droogte op pad, sou nie een van ons heeltemal kon glo wat die man sê nie, want ons vroeëwaarskuwingstelsels is net nie akkuraat genoeg nie.”
Die derde ding waarvoor Agri Noord-Kaap hom beywer, is voerbanke en ’n rampfonds om boere te help. In so ’n lang droogte is daar min boere wat met hul eie geld genoeg voer vir hul diere sal kan koop. “Dit moet ’n groepspoging wees. Ons moet kyk of ons voerbronne kan opgaar en ’n voerbank vestig.”
Symington meen die droogte is nie die grootste bedreiging vir die voortbestaan van boerdery in die Noord-Kaap nie. “Die grootste bedreiging groei in ons rivierlope. Prosopis het groot dele van ons grond onbruikbaar gemaak. Op plekke staan die bome só dig dat skape wat daar ingaan, nie weer uitkom nie. Dit raak ’n skuilplek vir roofdiere, en laat dorpe sonder water en ons grond waardeloos.”
Hulle is daarom besig om met die regering te praat om ’n soort werk vir waterprojek te kry wat nie net die indringerbome doodmaak nie, maar ook die materiaal in ’n voerbron sal omskep. “Die voerbank wat ons in die vooruitsig stel, is nie net daarop gerig om voer aan boere beskikbaar te stel nie, maar ook om die staat te wys hoe gemeenskappe op droogtes voorberei.”
Dit sal dan ook die departement van finansies die moeite loon om ’n rampfonds vir die landbou in stand te hou. Die staat, boere en sake-ondernemings wat van die landbou afhanklik is, behoort daartoe by te dra. Dit sal help dat boere die risiko van droogte nie alleen hoef te dra nie. Die fonds moet alle boere help.