Lesotho maak u-draai oor wol- en sybokhaarhandel
BOERE verwelkom die hoër invoertarief van R1 008,60/t op koring, wat op 25 Oktober afgekondig is, al gaan dit glo nie veel help nie. Die vorige tarief was R664,70/t.
Mnre. RD Erasmus van die plaas Fonteinskloof by Caledon en Niekie Mouton van Eendekuil sê daar is afwaartse druk op die koringprys omdat die kopers weet boere is so onder druk dat hulle hul koring nou móét verkoop.
Die oes is nêrens juis goed nie. Volgens Mouton is daar boere in sy omgewing wat skaars ’n halfton koring per hektaar oes. Hy het min moed dat hulle ná drie ondergemiddelde jare nóg ’n swak jaar kan oorleef.
Erasmus sê die gars se vetkorrels is laag “en toe kry ons nog reën ook. Party boere se gars loop op die lande uit.”
Garsopbrengste van 1,5 t/ha tot 2,5 t/ha is algemeen in ’n gebied wat volgens Erasmus gewoonlik 3,5 t/ha tot 4 t/ha kry. “Die gelykspeelpunt is by 2,8-2,9 t/ha.”
GOEIE GRADE
Boere by Caledon en Hermanus het einde Oktober 50 mm tot 80 mm reën gekry. Erasmus sê die weidings het “nogal mooi bygekom ná die reën. Ons gee nog
’n bietjie voer, maar dit sou ’n veel groter uitgawe gewees het as dit nie gereën het nie.”
Die koring se grade was goed omdat die hektolitermassa reg was en die proteïenvlakke hoog, maar ná die reën sukkel hulle met die hektolitermassa.
GARS LOOP UIT
Mnr. Koos Blanckenberg van die plaas Klipheuwel by Durbanville sê hulle ervaar dieselfde probleme. “Dit sukkel maar. Ons het ’n klomp reën gehad wat ons grade benadeel het. Dit reën nou weer en daar is reën vir volgende week voorspel. Ons wil nou maar net mooi weer hê.”
Hulle kon nie al hul gars voor die reën klaar oes nie. Hulle het groot skade gely met gars wat ná die reën uitgeloop het en as voergars teen ’n baie laer prys verkoop moes word.
Dr. Johann Strauss, wetenskaplike in volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou, sê hulle het vanjaar gemengde welslae in hul proewe behaal. “Op Riversdal het ons 50 mm reën in Maart gekry en 100 mm in die oestyd, en ons het 2,7 t/ha koring, 3,3 t/ha gars en 1,9 t/ha kanola geoes. Op Napky het ons hooi gemaak, want die plaaseienaar het voer nodig gehad, maar ons het 90 mm reën gehad en sou kon oes.”
Die Swartlandse proewe het ook deurgeloop onder die droë, warm Augustus en September. Van einde Julie tot oestyd het hulle net 28 mm reën op die navorsingsplaas Langgewens gekry, maar hulle het 3,6 ton koring per hektaar geoes, die meeste daarvan was supergraad. “By ons proef buite Hopefield het dit die hele seisoen 167 mm gereën, maar Augustus was droog en in September het dit 16 mm gereën. Ons het 2,5 t/ha koring, 3,2 t/ha gars en 1,3 t/ha kanola geoes.”