Nuwe generasie: ‘Hierom is daar ’n toekoms in landbou’
Opvolgbeplanning het nie een resep nie. Nadat mnr. Zander Ernst van die Allesbeste-boerdery meer as ’n dekade gelede afgeraai is van ’n toekoms in die landbou en nie gedink het hy sou boer nie, vertel hy hoekom hy vandag een van die gelukkigste boere in Suid-Afrika is.
In die landbou word gereeld ’n onderskeid getref tussen klein en groot boerderye, tussen kommersiële boerdery en familieboerdery, en talle ander. Tog glo ek die meeste boerderye is ’n kombinasie hiervan, en definisies is subjektief. Ons eie boerdery wil ek byvoorbeeld graag sien as ’n mediumgrootte kommersiële familieboerdery.
Waarom is dit vir my belangrik? Want dit getuig van visie, trots en waardes. Dit lei my mening tot die onbeantwoorde, flaterbestande resep vir die voortbestaan van ons besighede. As ek kan raai, is die meeste boerderye in Suid-Afrika derdegeslagboerderye of selfs ouer. Selfs jonger boerderye of eerstegeslagbesighede wat van niks af opgebou is, wil almal hê die trots van hul harde werk moet in ’n gemeenskaplike visie voortleef. Daar is waarskynlik ook ’n klompie boere wat graag uit die graf wil regeer.
Hier moet ek myself korrigeer en vir die doel van die gesprek nie van ’n boerdery praat nie, maar van ’n landboubesigheid. Hoewel die meeste boere steeds na “ons boerdery”
verwys, het baie reeds die transformasie deurgegaan na ’n landboubesigheid met winsgewendheidsverwagtinge op lang termyn, planne vir die lang, medium- en kort termyn, en funksionele sakegebiede wat produksie, bemarking en tegnologie behels.
SKOOLSTELSEL REM WÊRELD VAN BEROEPSMOONTLIKHEDE
Terug by die probleem. Met ’n gebrek aan begrip van die moderne skoolsillabus en presies wat elke vak behels, wil ek graag die volgende volgens ’n 2004-matriekbegrip stel. Iewers in jou skoolloopbaan word jy gekonfronteer met die vraag wat om ná skool te doen.
Die enkelvoudige manier waarop dit gebeur, is een van die grootste tekortkominge van Suid-Afrika se opvoedkundige stelsel. ’n Skolier wat puik is in rekeningkunde, droom outomaties drome van geoktrooieerde rekenmeester wees, ’n wiskundige uitblinker mik na ’n aktuaris, en ’n biologie-uitblinker wil ’n veearts, dokter of tandarts word. Só kan die lys aangaan.
Ons laat ons kinders drome droom oor beroepe en die leefstyl wat met van hierdie beroepe gepaardgaan. Só word baie mense ook depressief in hul beroepe of selfs voor hulle dit bereik vanweë drome wat nie waar word nie.
Om die kroon te span, dra die onafwendbare millenniërprobleem van kitsbevrediging by om die las te vergroot. Daar is ’n legio beroepe waarvan ons nie eens bewus is as ons in matriek is nie. Buiten dít is sommige ouers of skoliere se verwagting ook om ’n Springbokrugbyspeler te word, terwyl daar tegnies net 22 rugbyspelers is wat uit die beste rugbyspelers van meer as 10 jaargroepe gekies is. Ons verwagtinge is onrealisties en ons skoolstruktuur beperk ons bewustheid van die wonderlike droomwêreld van ’n groot verskeidenheid beroepe wat bestaan.
DROOM GROOT
As kind het ek beslis nie genoeg gedroom oor die landbouleefstyl of beroepsmoontlikhede in die landbou nie. Of dalk het ek nie ’n ordentlike begrip gehad nie. Met ’n blote gelukskoot en sterk leiding van my pa het dit my eers laat in my universiteitsjare getref. Veertien jaar gelede was die norm nie om
iemand met ’n B.Com.-graad in bemarkingsbestuur in ’n mediumgrootte familieboerdery aan te stel nie.
Wat het my laat besef ek het ’n plek in die boerdery en die droom begin droom? Eerstens ’n pa met visie en geduld. Tweedens die geleentheid om gesprekke te hê oor die moderne behoeftes van ’n boerdery, die probleme van ’n moderne boerdery, en ’n droom dat ek met unieke kennis unieke waarde kan toevoeg om so ’n besigheid te bevorder en gereed te kry vir die volgende 50 jaar.
Vir die eerste keer kon ek sien dat boerdery nie net die produksie van ’n gewas volgens die boek is nie, maar ’n kreatiewe, interaktiewe sakegebied met verskeie funksionele dele en doelwitte wat ruimte kan skep vir mense uit bykans elke aanlegsveld en persoonlikheidsprofiel. Dit is ’n unieke private besigheid waar jy van ’n ingenieur tot ’n geoktroieerde rekenmeester, landboukundige, genetikaspesialis, ekonoom en IT-spesialis kan gebruik. ’n Lang lys beroepsvelde kan hierby gevoeg word. En dis nie bloot vir gebruik nie, maar uiters nodig.
Ja, die droom is groot, en dit is die punt. Inspireer.
NIE BEPERK TOT JOU OPLEIDING
Die volgende stap tot waardetoevoeging is ’n tweeledige proses. Die eerste deel daarvan is dat mense met spesifieke kwalifikasies nie noodwendig in daardie beroep beland nie.
Ek het bemarking gestudeer, en vandag is my hoofverantwoordelikhede die produksiebestuur van heelwat avokadoboorde, die bemarking van die wêreld se eerste avokadokultivar met sy eie geregistreerde handelsmerk en selfs die bestuur van ’n gemeenskapsprojek. Ek is verder verantwoordelik vir produksienavorsing van tegnieke, soos opleistelsels, wat baanbrekerswerk in die internasionale avokadobedryf is.
My broer, Edrean, met ’n landbou-ekonomiegraad, help ons met ekonomiese berekeninge, maar ontwikkel toerusting en sagteware vir presisieboerdery by vrugtegewasse en skep masjienleermodelle saam met ’n selfopgeleide elektroniese ingenieur en rekenaarprogrammeerder – mense wat met diegene met universiteitsgrade kan meeding of hulle selfs ore aansit.
Spog ek? Nee, ek is net besonder trots!
HOE HET DIT GEBEUR?
Weer eens moet ek my pa uitsonder – iemand met baie visie wat groot drome droom. Hy het ons die vryheid gegee om uit te blink op ons belangstellingsgebiede. Ons kon vindingrykheid ontbied.
Van dag een af kon ons deelneem in waarneming en gevolglik besluitneming. Ons kon kreatiewe oplossings bied vir ons besigheid en gevolglik beheer oor afdelings neem, pleks van om geduldig te wag tot ons die boerdery kan “oorneem”. Wil ons oorneem of deelneem? Jy wag dalk 20 jaar tot 30 jaar om oor te neem, terwyl ons van dag een af deelneem.
Natuurlik moet alles nie net in jou skoot val nie. Ons moes ook hard werk. Dit was noodsaaklik dat ons die waarde van elke sent in die boerdery of groter besigheid besef; elke druppel sweet wat op die aardkors val, kon waardeer. Harde werk bly bepalend vir sukses.
Ongetwyfeld skiet my pa se eie vindingrykheid nie tekort nie, hoewel hy baie na homself verwys as tegnies en glad nie kreatief nie. Tog is elkeen van sy sake-idees ’n uitvloeisel van kreatiewe denke. Dit is danksy my pa se tegniese kennis dat ons vandag die klonale avokadobome van die hoogste gehalte ter wêreld kweek. Hy het besef dat daar ’n tegniek beter as die bestaande kan wees en kon aan ’n kreatiewe oplossing en tegniek dink.
Die tweede deel is dat dit noodsaaklik is dat elke mens sy eie en die ander se sterk en swak punte verstaan, die nodige respek vir almal het, en mekaar se swak punte ondervang.
Só bou jy ’n sterk, onwankelbare besigheid en verhoudings waar ons besef ons het mekaar nodig en saam ’n gedeelde, onverdeelbare toekoms bou. Ons besigheid is nie daar om in die volgende geslagte onderverdeel te word nie.
Die afgelope paar jaar het ons baie moeite gedoen om ál ons bestuurs- en administratiewe personeel psigometriese toetse te laat ondergaan met behulp van mnr. Johann Fourie en Career Direct. Só kon ons dit regkry om selfs die vlakke van respek en ondersteuning verder uit te brei as die tradisionele “binnekring”. As daar een ding is wat ek vir alle besighede kan aanbeveel, is dat elke mens deur hierdie proses gaan. Dit is ’n ongelooflike proses van persoonlike verryking vir almal en voeg kritiese waarde tot die boerdery toe.
VERKOOP DIE DROOM
Die kritiese waarde wat ons wil skep, is ’n boerdery met mense wat puik is in elke funksionele area, en leiers in hul afdeling is – nie net in ons besigheid nie, maar ook in die internasionale avokadobedryf en in die landbou as geheel. Hierdie waarde kan net deur vrye denkers geskep word wat binne die perke van streng sakebestuursreëls die vryheid gegun word om skeppend en innoverend te funksioneer.
Suid-Afrika se beste boere – of hulle eerstegeslag of multigeslag is – is boere wat vindingryk en leiers op hul terrein was.
Die droom is om dus ’n boerdery te hê met sulke innoveerders in elke funksionele area. So ’n besigheid is onwrikbaar. Bowenal, so ’n boerdery of besigheid kan nie anders as om ’n beroepsdroom van vryheid en leefstyl te verkoop nie.
Ons het in die landbou ’n unieke voordeel bo die meeste ander besighede. Hoewel ons baie deur die regering beïnvloed word, is daar min regulering waarom ons nie kan kom nie, veral as jy vindingryk is.
Ons het die voorreg om ons eie toekoms te skep, ongeag die beperkinge wat die regering of derde partye op ons pad plaas. Ons kennis, deursettingsvermoë en veral vindingrykheid help ons om die grense en beperkinge te versit en ons omstandighede te verbeter.
Tien jaar gelede het volwassenes – my dosente, rolmodelle en medestudente – vir my gesê ek is gek om in die landbou te gaan werk, terwyl die politieke klimaat en grondbesit so delikaat is. “Daar is nie ’n toekoms in die landbou nie,” moes ek telkens hoor.
Wel, waar staan ons tien jaar later? Die Suid-Afrikaanse landbou het in die afgelope tien jaar sy mees vooruitstrewende jare beleef wat uitbreiding by veral subtropiese gewasse betref. Ons eie boerdery het gegroei tot ’n veelvlakkige, internasionale besigheid met belange in elke avokadobedryf ter wêreld.
Ons het ’n leier, my pa, met groot visie. As innoverende, kreatiewe denkers is ons geïnspireerd om deel van ’n groter doel te wees. Ons elkeen besef as ons hard werk, is ons landboutoekoms nie beperk deur eksterne faktore nie, maar deur wat ons bereid is om te doen. Omseil pessimisme en tree vroegtydig op. Droom groot en verkoop dié droom tot voordeel van die toekomstige geslag.
Die Allesbeste-boerdery van die Ernst-familie van Tzaneen word as die wêreld se voorloper beskou wat avokado-ontwikkeling betref.