Betaling van begunstigdes nie ’n uitgemaakte saak
Wanneer ’n lid van ’n aftreefonds of uittree-annuïteit voor aftrede sterf, word die uitbetaling van voordele deur die fonds se trustees bepaal. Dit is moontlik dat hierdie toedeling radikaal kan verskil van die oorledene se wense en sy benoeming van begunstigdes.
Belastingbetalers het ’n aftrekking van hul belasbare inkomste vir hul bydraes tot aftree fondse en uittree-annuïteite ingevolge die huidige wetgewing oor inkomstebelasting. Hierdie staatstoegewing het ten doel om belastingbetalers te motiveer om vir hul aftrede te spaar.
Wanneer ’n lid van só ’n fonds voor aftrede tot sterwe kom, word voordele wat ingevolge die fonds betaalbaar raak, aan die oorlede lid se afhanklikes en/of begunstigdes betaal. Daarom is dit uiters belangrik dat kliënte seker maak hul benoeming van begunstigdes op hierdie fondse is gemaak en aangedui en strook met hul huidige omstandighede en wense.
Kliënte behoort ook te verseker dat hulle die implikasies by voortydige dood verstaan en dat hul wense ten opsigte van uitbetaling nie noodwendig deur die trustees gevolg sal word nie. Dit is juis hierdie toedelings wat die meeste van die klagtes aan die Beregter vir Pensioenfondse uitmaak.
Ingevolge artikel 37C van die Wet op Pensioenfondse (Wet 24 van 1956) het die trustees van die betrokke aftree-of uittree annuïteitsfonds’ n diskresie ten opsigte van die finale toedeling van voordele. Die hoofdoelwit van die riglyne wat deur die wet neergelê word, is om te verseker dat iemand
wat van die oorlede lid afhanklik was, nie deur sy afsterwe haweloos gelaat word nie.
Die trustees se uiteindelike besluit wat die toedeling van doodsvoordele betref, word gelei deur die definisie wat aan “afhanklike” in die wet verleen word. Hoewel die trustees ook die oorlede se benoeming van begunstigdes en wense ten opsigte van begunstigdes in ag neem, rus die uiteindelike besluit oor die toedeling by die trustees.
“Afhanklikes” word ingevolge van die wet gedefinieer as:
■ Wetlike afhanklikes, soos ’n gade of kind van die oorledene.
■ Feitlike afhanklikes, dus diegene wat finansieel van die oorlede afhanklik was, hoewel daar nie ’n wetlike verpligting op die oorledene was om hierdie mense te onderhou nie.
■ Toekomstige afhanklikes, naamlik diegene wat die oorledene dalk in die toekoms sou moes onderhou, soos bejaarde ouers. Ná die afsterwe van ’n kliënt het die trustees ’n jaar lank om hul ondersoek te doen na “afhanklikes” wat in aanmerking kom. Diegene wat aan die definisie van “afhanklike” voldoen, sal deur die trustees vir uitbetaling oorweeg word. Tydens hierdie ondersoek moet die trustees oorweging skenk aan die ouderdom, aard van die verhouding en die mate van finansiële afhanklikheid van elke “afhanklike”. Uiteraard duur hierdie proses baie lank en kan jou afhanklikes in hierdie tyd finansieel swaarkry.
’n Minderjarige of wetlik ongeskikte volwassene sal nie regstreekse uitbetalings ontvang nie. Betalings kan aan ’n begunstigde fonds, ’n voog of ouer, of alternatiewelik aan ’n trust gemaak word.
Indien geen begunstigdes binne dié jaar gevind word nie, behoort die trustees die betaling aan die benoemde begunstigde te maak mits die boedel nie insolvent is nie. Andersins moet aftreekapitaal gebruik word om voorsiening te maak vir tekorte in die insolvente boedel. Enige belasting op hierdie bedrae sal in die hande van die oorledene gemaak word.
’n Algemene wanopvatting is dat die bepalings van jou testament die trustees se diskresie oorskryf, maar ingevolge die wet kan die fonds se trustees hul eie toedeling maak.
Aftreebeplanning verteenwoordig vir baie kliënte ’n groot deel van hul welvaart. Dit is belangrik dat kliënte die dienste gebruik van kundiges op hierdie gebied om alle risiko’s vir hul situasies te dek.
Me. Deirdre O’Reilly i s’ n regs-en-sake konsultant van die finansiële dienste maatskappy Allegiance Consulting.