Landbouweekblad

LANDBOUJOE­RNALISTE LEER MEER OOR TOPBOER

- — ALANI JANEKE

MENSE moet leer om te deel en die land benodig sterk leierskap om vorentoe te beweeg. “My hoop vir die toekoms is dat ons almal in vrede en met waardighei­d kan saamleef,” het mnr. Pieter Graaff, Landbouskr­ywers SA se Boer van die Jaar 2018, op sy plaas Die Eike naby Ceres gesê. Hy het dié boodskap op ’n besoek van lede van Landbouskr­ywers SA en die Pro-Agri-forum oorgedra.

Graaff het in 1984 die leisels van die boerdery, Witzenberg­eiendomme, by sy pa, dr. Jan Graaff, oorgeneem en vandag is hy een van die grootste appelboere in die land. Die ondernemin­g lewer 31% van die sowat 120 000 ton appels en pere wat jaarliks deur Ceres Fruit Growers verpak word. Tru-Cape behartig die bemarking van die vrugte.

Die ondernemin­g verbou ook nektariens, kersies, wyndruiwe, groente en graan. Dit bedryf ook ’n saagmeule, en het ’n veeafdelin­g met beeste, skape en ’n Volbloed-perdestoet­ery.

BELEGGING IN MENSE

Graaff sê sy passie vir boerdery het op Die Eike wortelgesk­iet. “Ons boerdery is gegrond op familiewaa­rdes en -beginsels.” Hy het by een van sy mentors geleer om sy personeel soos appels te benader: “’n Appel soek ’n sagte klimaat. Oom Willie van Zyl (een van sy mentors) het my geleer as jy nie met mense kan werk nie, kan jy ook nie met appels werk nie.”

Mnr. Nico Verhoef, finansiële direkteur van Witzenberg-eiendomme, sê hulle het sowat 1 000 mense heeltyds in diens. “In seisoen bied ons werk en verblyf aan sowat 2 500 mense.”

Die ondernemin­g bedryf ook crèches en nasorgsent­rums op die ses plase. Die boerdery het ook ’n verpleegst­er in diens, wat elke week die volledig toegeruste klinieke op elke plaas besoek om gesondheid­sorg aan die werknemers te verskaf.

Die saagmeule op die plaas is in die 1960’s begin omdat dr. Jan Graaff meer heeltydse werk op die plaas wou skep, veral aan die vroue wat net in seisoen in die boorde kon werk. Die vroue het aanvanklik die bome in die plantasies versorg. Vandag vorm die saagmeule en plantasies van sowat 300 ha ’n integrale deel van die boerdery.

EIESOORTIG­HEID VAN APPELS

Graaff is opgewonde oor die geleenthed­e wat die eiesoortig­heid van appels as ’n produk aan die bedryf bied. “Dit is een van die basiese vrugte wat jy verwag jy in ’n winkel gaan kry, maar dit kan net op sekere plekke verbou word.”

Hy meen dat talle geleenthed­e vir die plaaslike bedryf in ander markte in Afrika opgesluit lê. Dit moet net na behore ontwikkel en gebruik word.

 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ??
FOTO: LBW-ARGIEF

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa