Wynbedryf bereik breekpunt
DIE wynbedryf is by breekpunt tensy boere R12 000 per ton vir druiwe betaal word.
Dít was mnr. Eben Sadie, bekroonde wynmaker en eienaar van Sadie Family Wines, se waarskuwing op die Philadelphia-boerevereniging se jaarvergadering.
“Suid-Afrika se wynbedryf is by ’n kruispad. Ons weet dis nie winsgewend nie en ouens kan nie meer boer nie, daarom is baie wingerde die afgelope tyd uitgekap. Ons kan nie eens meeding met rooibostee nie, met sitrus val ons heeltemal uit die bus uit en as jy genoeg hektare koring plant, kry wingerd ook pak.”
Hy sê wynboere is prysnemers, wat nie genoeg vir hul druiwe betaal word om duur boerderypraktyke te regverdig nie. Die verlies aan hektare, ’n tekort aan grootmaatwyn en die invloed van die droogte het egter ’n tweede kans gegee om pryspunte te hersien en herstel.
“Net om terug te kom in die spel moet jy nou R12 000 per ton verdien. Dis die syfer wat die somme gaan laat klop; dan raak niemand ryk nie. Met R3 000, R4 000 en R5 000 per ton kan die bedryf nie voortgaan nie,” sê hy.
GEHALTE VERKOOP
Hy het egter beklemtoon dat hoë pryse slegs vir uitstekende druiwe betaal sal word.
“Een van ons swakhede is wingerdbou. Ons wingerde is van die swakkes in die wêreld. Ek wil nie ons boerderypraktyke kritiseer nie, want ek weet as jy nie geld vir jou druiwe kry nie, kan dit nie goed wees nie.”
Hy moedig druiweboere aan om nuwe kultivars en tegnologie te ondersoek. Hyself gebruik onder meer hommeltuie, NDVi en stralingsontledings, en hy werk saam met konsultante sodat hy die beste besluite moontlik kan neem. Hy het die afgelope twee jaar altesaam 35 nuwe kultivars geplant.
“Dis baie moeilik om te sê wat om te plant, maar ek sê altyd: Plant maar die ding wat daar geplant moet wees. Al hoe jy dit gaan weet, is deur proewe te doen.
“Die grootste deel van SuidAfrika is met verkeerde kultivars beplant. As jy die regte druif op die regte grond plant en die kombinasie regkry, gáán jy goeie druiwe hê. En dan gaan mense by jou kom aanklop, want daar is ’n groot tekort aan goeie druiwe in die land. Die groei in die mark is in die boonste segment, nie die cheap
and cheerfuls nie.”
BREËR TENDENS
Sadie se opmerkings kom kort op die hakke van me. Carina Gous, nie-uitvoerende voorsitter van Wines of South Africa (Wosa) se waarskuwing onlangs op die Cape Wine-handelskou in Kaapstad dat Suid-Afrika se bekroonde wyne van hoë gehalte hul goedkoop beeld moet afskud sodat beter na gemeenskappe omgesien kan word en die volhoubaarheid van die bedryf verseker word.
Sy sê uit die twaalf grootste wynuitvoerlande lê Suid-Afrika die laagste op die mededingendheidsindeks. “Suid-Afrika is nie die grootste ten opsigte van liters nie, en ons is die laagste ten opsigte van die euro’s per liter waarteen ons ons wyn verkoop. As die land nie sy posisie op dié grafiek kan verander nie, gaan die bedryf nie volhoubaar wees nie.
“Die bedryf werk hard om die boonste vlak van die mark binne te dring en ons wys die beste wat ons het, maar ons het vennote nodig om waarde in Suid-Afrika op te bou.”
WINSGEWENDHEID
Volgens Gous bly druiweboere se winsgewendheid onder druk. Byna ’n kwart van primêre druiweboere het die bedryf die afgelope dekade verlaat, hoofsaaklik omdat ander landbougewasse winsgewender as wyndruiwe is.
Die wynmaatskappy DGB het ’n video gemaak waarin hy ook sy misnoeë met lae wynpryse te kenne gee. Mnr. Rico Basson, bestu- rende direkteur van VinPro, noem daarin dat nog 10 000 ha wingerd binnekort uitgekap sal word. Dit sal lei tot ’n afname van 120 miljoen liter in wynproduksie in die volgende drie tot vier jaar.
“Tensy ’n strukturele aanpassing van 30% en meer plaasvind, sal die wynbedryf nie weer begin belê nie.”
Mnr. Stephan Joubert, groepwynmaker by DGB, het op Cape Wine gesê 37% van druiweboere het verlede jaar teen ’n verlies geboer. “Net 14% was winsgewend. Die gemiddelde plaasinflasie was 7%. Dis iets wat ons oorsese besoekers nie ken nie. Dis nie volhoubaar nie.”
MEER WERK
Gous sê hoewel wynuitvoer gestabiliseer het op ’n “gebalanseerde” 52% van die totale produksie, is dit kommerwekkend dat die uitvoer van verpakte produkte nie groei nie.
“Ek besef dis makliker om wyn wêreldwyd in grootmaat te verskeep en te botteleer in die land waar dit verkoop word, maar in ’n land waar werkskepping noodsaaklik is, is dit belangrik om die verkope van verpakte produkte aan te moedig.”
Die wynbedryf neem tans 300 000 mense in diens. As deel van die Wise-inisiatief wil die bedryf 75 000 nuwe werkgeleenthede teen 2025 skep.