TWYFEL JY NOG OOR HERLEWINGSLANDBOU?
’n 5 000 jaar oue monument wat onlangs tydens die voortslepende droogte in Ierland deur hommeltuig-fotografie ontdek is, is ’n onverwagse stuk geskiedenis, maar ook ’n motivering vir die toekoms van herlewingslandbou.
Mnr. Anthony Murphy, Ierse fotograaf en skrywer van die boek Mythical Ireland, het die vonds van die oeroue monument gemaak op ’n plaas in private besit, sowat 50 km noord van Dublin.
In ’n onderhoud met die tydskrif Time sê hy dat hy al telkemale oor hierdie landery met sy hommeltuig gevlieg het om foto- en videomateriaal in te samel. Hierdie landery is in die Brú na Bóinnewêrelderfenisgebied.
Argeoloë beweer dat die houtstompe waarvan die monument gemaak is, meer koolstof in die grond agtergelaat het en nou, tydens die droogte in Europa, het die grond waar die monument gestaan het, ’n beter waterhouvermoë. Die graan wat dus op hierdie stukke grond staan, groei beter en het dus ’n donkerder, gesonder groen kleur wat die afdruk van die oermonument nou sigbaar maak.
Dr. Hendrik Smith, hoof van Graan SA se bewaringslandbouafdeling, sê dit is net nog ’n goeie bewys van die impak van grondkoolstof
op grondgesondheid en produksievermoë. “Dit sal inderdaad die feit ondersteun dat grondkoolstof ’n goeie korrelasie met produksievermoë het.
“Die ou houtstompe se fisiese impak op die grond behoort interessant te wees. Waarskynlik speel dit dieselfde soort rol as biokoolstof. Dit het gelei tot ’n baie groter en beter habitat vir grondmikrobes, veral swamme. Die gevolg is groter grondwaterhouvermoë, vrugbaarheid, minder siektes en, siedaar, baie beter produksie. Dieselfde soort ontdekking is in die Amasone gemaak met die sogenoemde terra preta-grond, ’n baie donker en vrugbare grond,” sê Smith.
Die donker kleur is afkomstig van die verweerde koolstof.
Die koeëlronde monument het ’n deursnee van sowat 150 m en sal volgens argeoloë wat met Time gesels het, heel moontlik onopgegrawe gelaat word omdat dit op private grond geleë is. Besoek die webwerf www.mythicalireland.
com vir nog inligting.