Suikerriet diep in Afrika: Agrico wys hoe
Uit die lug is Zambië ’n uitgestrekte, beboste vlakte wat hier en daar onderbreek word deur die klein stukkies grond waarop bestaanboere hul boerderye bedryf. Dit is ook ’n land op die drumpel van aansienlike landbou-uitbreiding wat gekenmerk word deur ko
As jy noordoos beweeg om die uitsteeksel waar die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in Zambië instulp, kom jy by die Zambiese provinsie Luapula, met sy hoofstad Mansa. Dit is ’n tien uur lange rit (800 km) van Lusaka af. Effe verder oos is die nedersetting Chembe op die oewer van die Luapula-rivier, ’n groot massa bewegende water wat die grens tussen Zambië en die DRK vorm.
Enige sake-onderneming wat hier wil belê, sal ’n goeie dosis pioniersgees moet hê, want hoewel die omgewing pragtig is, is Chembe baie ver van enige vervaardigings- en verskaffingsentrum. Infrastruktuur is skraps of bestaan glad nie. Tog is dit die tuiste van Mansa Sugar, ’n ambisieuse projek van die Spin Ventures Group (SVG) om 500 ha suikerriet onder besproeiing te verbou.
Mnr. Bhupendar Rathore, Mansa Sugar se projekleier, sê die projek se lewensvatbaarheid berus op water en ’n plaaslike mark.
Vir so ’n besproeiingsprojek om te kan werk, is ’n ervare verskaffer noodsaaklik wat kan presteer en sy kant bring. Die Suid-Afrikaanse besproeiingsmaatskappy Agrico is heeltemal opgewasse vir die taak, wat twee en ’n half jaar gelede begin het.
Terwyl die voordele vir die SVG as gevolg
van die groot vraag na suiker redelik duidelik is, kan ’n mens vra wat Agrico aanspoor.
UITBREIDINGSGELEENTHEID
“Ons het ’n stabiele, volwasse mark in Suid-Afrika,” sê mnr. Alfred Andrag, Agrico se bedryf-en-bemarkingsdirekteur.
“Dié soort besigheid is die dryfkrag agter Agrico se uitbreiding na die res van Afrika. Doeltreffende bestuur, ordentlike begrotingsbeplanning en bewustheid van bedryfskoste maak dit ’n goeie opsie vir ons maatskappy.”
Volgens Alfred het Suid-Afrikaanse landbou-ondernemings wat geleenthede in Zambië ondersoek, ’n voordeel danksy die korter afstande en reistye tussen die twee lande.
“Dit duur sowat tien dae, waaronder vertragings by die grensposte, om toerusting van Suid-Afrika na Lusaka te stuur.”
’n Goeie reputasie, die nodige netwerk en ’n agentskap in Lusaka het gesorg dat Agrico op die regte tyd op die regte plek was om ’n bod in te sit, en dit te wen, om besproeiingstelsels vir die Mansa-suikerprojek te verskaf.
Agrico het die stelsel ontwerp en die spilpunte vervaardig en geïnstalleer. Hul taak is makliker gemaak deur die gebied se vlak gradiënte. Die Mansa-spilpunte besproei gebiede van sowat 65 ha tot 75 ha.
“Ons vervaardig self baie van wat in die spilpunte gebruik word om te verseker standaarde word gehandhaaf,” sê Alfred.
“Ons sagteware laat gewasbestuurders toe om die besproeiing oor die internet te bestuur van selfone, tablette of rekenaars af, en dit verbeter boere se doeltreffendheid,” sê hy.
KRAG, WATER BESPAAR
Pompe met ’n veranderlike spoed word volgens aanvraag gebruik, pleks daarvan om voortdurend teen die maksimum vermoë te werk, en hulle kan met afstandbeheer verstel word. Só ’n stelsel verseker doeltreffende watergebruik en bespaar krag.
Besproeiing dien as ’n soort gewassekuriteit wat opbrengs verhoog, kwekers teen droogte beskerm en betroubare watervoorsiening tydens enige arbeidskrisis voorsien.
Mnr. Niel Davis is ’n ingenieur en Agrico se toesighoudende bestuurder in Zambië. Hy is ’n man met baie energie, indrukwekkende getuigskrifte en ’n reusehoeveelheid ondervinding. Hy sorg dat die naverkoopdiens by hierdie projek van ’n hoë standaard is.
Die SVG se Zambiese bestuurspan is só tevrede met Agrico dat hy die maatskappy gevra het om die besproeiing vir fase twee van die projek te voorsien en te installeer. Die tweede fase dek ’n gebied van net minder as 1 000 ha suikerriet wat teen die einde van die jaar aangeplant en besproei moet word. In fase twee moet Agrico ses 80 ha-spilpunte en ses 85 ha-spilpunte verskaf en installeer sodat altesaam 990 ha besproei kan word.
“As gevolg van die omvang van die projek en die kort afleweringstyd het ons die bekende besproeiingsmaatskappy Multicrop gevra om met die installering te help,” sê Alfred.
GEWASVEREISTES
Suiker, wat as ’n tropiese gewas beskou word, het ’n rypvrye omgewing met redelike hoë temperature en van 1 100 mm tot 1 800 mm reën per jaar nodig. Die temperatuur langs hierdie deel van die Luapula-rivier wissel van so laag as 8 °C tot so hoog as 36 °C. Wanneer temperature te hoog raak vir fotosintese skep die oorhoofse sproei ’n verkoelende mikroklimaat vir die gewas.
Die droë seisoen, wat tot sewe maande kan duur, eindig gewoonlik aan die begin van
Desember. Chembe se gemiddelde reënval is 1 100 mm, wat laag is vir suikerriet. Nes die geval met baie ander gewasse is die tydsberekening van die reënval belangriker as die seisoen se gemiddelde reënval.
“Die patroon is sowat 15 dae van reën in Desember, min of meer aanhoudende reën in Januarie en Februarie, en dan ’n afname in Maart en April,” sê Bhupendar.
“Jou planttyd hang af van die gewas se siklusduur. Ons kies kultivars met 12 maande lange siklusse wat ons in April plant, maar met besproeiing kan jy enige tyd plant. As jy in die winter plant, duur ontkieming langer, maar jy kan dormansie verbreek deur die steggies in ’n ureumoplossing te doop.”
Die sanderige kleileemgrond van die gebied pas suiker se grondtekstuurvereistes. Dié grond is egter baie suur, met ’n pH van 4, wat nie ideaal vir suikerriet is nie.
“Ons voeg dolomitiese kalk teen 4 t/ha by om nader aan die optimale pH van 6,5 te kom,” sê Bhupendar.
Grondsoorte in die trope is meestal uitgeloog en bevat min kalium, magnesium en kalsium. Die kunsmismengsel wat Mansa Sugar gebruik, is aangepas om vir spesifieke tekorte in grondvoedingstowwe te vergoed. Dit word in die besproeiingswater toegedien, behalwe die kalium, wat altyd op die grond toegedien word.
STREEKSVERSPREIDING
Daar is ’n groot vraag na suiker in die Zambiese mark, en ’n selfs groter vraag uit die DRK, sê Bhupendar.
Lubumbashi, die DRK se naasgrootste stad, is net vier en ’n half uur per pad van Mansa, wat beteken vervoerkoste sal laag wees. Vir Zambiese boere, wat aansienlike bedrae geld daaraan bestee om masjinerie en kunsmis na die land te vervoer, is hierdie nabyheid aan die mark ’n groot voordeel.
Tydens ’n konferensie oor landboubelegging in Afrika in Kaapstad verlede November het mnr. Sebastian Kopulande, LP vir die provinsie Luapula, gesê Afrikane in die algemeen, en Zambiërs in die besonder, moet waarde tot hul lande toevoeg. Die uitvoer van onverwerkte produkte en materiale is die uitvoer van werksgeleenthede, iets wat geen Afrikastaat kan bekostig nie.
Streeksvennootskappe, soos die Mansasuikerprojek waarna Kopulande verwys het, lei tot die ontwikkeling van verhoudings, die skep van werkgeleenthede en die stabilisering van voedselvoorsiening in die streek. Besproeiing word toenemend gesien as ’n manier om gewasproduksie te verbeter. Agrico se dapper uitbreiding dieper in die streek van SuiderAfrika – ongeag die risiko’s – sal hulle die vrugte daarvan laat pluk.