NOGTANS IS ONS DANKBAAR . . .
Vanjaar is dit hier op die grens van die Boesmanland ’n jaar van tande kners, planne prakseer, moed bymekaarskraap en vasbyt. Die soveelste jaar agtereenvolgens sonder goeie reënneerslae. Die ergste in die 44 jaar wat hy boer, sê my man.
“Dit gaan goed, net nie so goed soos ons sou wou hê nie,” is sy gereelde antwoord op die gebruiklike beleefde vraag. Ons was bevoorreg om einde verlede jaar ’n koringoesie te kon afhaal waarvan die stoppels steeds goud werd is vir skaapvoer saam met die gannabossies.
Tog is daar dele van ons distrik, aangrensende distrikte en heelwat verder ook waar moedverloor dik loop. Ons hoor van boere wat hul skape verkoop en hul hekke sluit. Maak ’n einde aan hul voortbestaan – op meer as een manier . . .
Veral die jong boere hier is raadop. Hoe lank kan ’n mens maar net so aangaan en aangaan? vra hulle. Hulle het nog nie eintlik ’n noodgeldjie kon opbou in die onlangse tye nie en nou moet hulle feitlik weekliks voer aankoop. Dit maak hulle baie onseker oor die bedryf en hul toekoms hier.
Die breër prentjie wat landsake betref – polities, ekonomies, maatskaplik-ekonomies – dra tans boonop niks by tot gemoedsrus nie. Oral is daar groot probleme. Plaasaanvalle en -moorde beklem.
Weer- en natuurgewys ervaar ons vreemde dinge in dié tyd, soos ongewone dieregedrag. Dassies, springhase en selfs bokkies kom tot op die plaaswerf om enige groenigheid te kom afvreet. Daar’s nie ’n kans om vanjaar ’n groentetuin te maak nie, want klein dassies klim deur die jakkalswerende heining se openinge om te kom verorber wat hulle kan. Hulle beklouter tot die suurlemoen- en granaatbome en vreet die blaartjies op dun, dun takkies af. Hulle vreet die skille van die suurlemoene af dat net die huisies van die vrug daar bly hang! Enige eetbare bas aan enige boom word deur die ystervarke gestroop.
Geen dier steur hom veel aan die plaashonde nie. Honger dryf hulle, want daar is nie eintlik meer iets in die veld oor nie.
Droogte en dood loop saam. Van die 76 springbokke wat daar was, is nog net vier oor – selfs al word daar vir hulle voer uitgesit. Talle ooie weier om voer te kom vreet. Hulle karkasse word uiteindelik weggery.
Grondwater raak kol-kol ’n probleem. Windpompe trek uit of pype moet toegevoeg word. Waar moontlik en bekostigbaar, word nuwe are ontgin.
Geselsies draai om verliese, beklemming en onrus. Almal hou die weervoorspellings en reënvooruitsigte dop. Praat mekaar moed is. Hou hul oë op die wolke.
Almal maak somme – soveel in, soveel uit. ’n Kleiner veestapel is gelyk aan ’n kleiner inkomste. Daar is sprake van 12 kg-lammers wat vir slag bemark word. Ook dragtige ooie.
Maar dan is daar ook die wonder van die baie skenkings wat inkom – voer en geld vir vervoer. Boere en ander mense met oop harte en hande wat só tonne voer na ons wêreld laat kom en daardeur ons bekommernis versag en gewaardeerde uitkoms bied. Ons eer hulle en hul onbaatsugtigheid. Mag hulle seën ontvang.
Hierdie moeilike tyd maak dat ons ons eie seëninge weer soveel fyner bekyk. Dit maak dat ons besef dat dit wat ons steeds het, soveel meer is as dit wat ons dalk tans ontbeer. Geliefdes, belangstellendes, goeie gesondheid en veral geloof is eers genoeg om met hoop dag tot dag voort en vorentoe te gaan. Dit maak dat ons nie anders kan as om vol dank te wees nie – ook vir hierdie hoewel-nogtans-tyd.
Die Vader sorg steeds.