U-vormigekraalvir vinnigeskaapwerk
Sowat die helfte minder werkers is nodig vir skaapwerk met dié vernuftige U-vormige skaapkraal met ’n gang, drukgang en verskeie sorteerkampe. Die grootste deel van die kraal is boonop uit skroot gebou.
Elke minuut tel by die florerende, gemengde Oranjerivierboerdery van die Bothas van Prieska. Die kleinvee-afdeling, wat 28% van die boerdery uitmaak, speel ’n belangrike rol in hul diversifikasie. Die maklike hantering en versorging van sowat 3 000 skape in hul voerkraal is dus deurslaggewend.
Die saadjie vir die hanteringskraal op mnr. Johan Botha se plaas, wat hy saam met sy seuns, Jan-Philip en Johan jr. bedryf, het sy ontstaan aan die internet te danke. Jan-Philip het ná ’n soektog na ’n verbetering op hul bestaande kraal op ’n Australiese webwerf afgekom. Hulle het die U-vormige struktuur met ’n gang reg rondom, ’n drukgang en verskeie sorteerkampe by hul toestande aangepas. Dit maak ook voorsiening vir ’n moderne elektroniese skaal.
Voorheen het die Bothas ’n breë drukgang gebruik waarin die diere in groepe geweeg is – werk waarvoor minstens vyf mense nodig was. In die nuwe kraal hoef net twee werkers skape aan te jaag en is ’n ekstra werker nodig as lammers geweeg, medies behandel en data aangeteken moet word.
Tweedehandse materiaal, soos windpompen besproeiingspype, is gebruik. Die stelsel se bykans 30 hekke het hulle self uit beskik- bare skroot geprakseer. Van die ankerpale en sinkplate moes nuut aangeskaf word. Die 30-jarige Jan-Philip kan gevolglik nie presies bereken hoeveel die kraal gekos het nie, maar hy’s ingenome met hul besparing, aangesien ’n soortgelyke, nuwe kraal jou sowat R150 000 uit die sak sal jaag.
SÓ WERK DIE STELSEL
TWEE INGANGE.
Die skape kom uit twee rigtings in die hanteringskraal, waarna hulle kloksgewys in die sinkplaatbedekte gange beweeg: Van die voerkraal af beweeg die skape deur hekke deur die hanteringspunt
(links onder op die skets). Skape wat by ander telers gekoop is, word van die regterkantste
onderpunt van die kraal van die laaibank langs ingevoer. LOOP MET DIE STROOM. Die sinkplaat langs die drukgange keer dat die skape die omgewing kan sien. “Die skape kan nie deurkyk na ander krale nie en bly saam met die stroom diere voortbeweeg,” sê Jan-Philip. “As die voor-
ste diere beweeg, trek almal agterna.” Sowat 100 tot 120 skape word op ’n slag gehanteer.
VERSKILLENDE KRALE. Die gang wat rondom die kraal aangebring is, laat die hanteerders diere by enige van die binneste krale injaag. Die 120 stuks pas gemaklik in enige van die ontvangkrale van sowat 9 m x 9 m.
GEWEEG IN DRUKGANG. Die hoofdoel is om die skape deur die U-vormige gang, wat met sinkplaat bedek is, deur ’n drukgang
met die skaal te laat beweeg. ’n Elektroniese leser by die skaal registreer die data van die individuele diere vir verwerking op ’n rekenaar.
VOERKRAAL OF BEMARKING? Die verwerkte skape kan na die voerkraal teruggelei word, of as hulle bemark word, na die laaibank aan die onderkant van die struktuur.
ONONTBEERLIK IN SPEENTYD
Die verwerkingskraal is onontbeerlik sodra die ooie se lammers gespeen is, gewoonlik op ’n gemiddelde gewig van 20 kg elk. Die nuwelinge se inname-gewig word bepaal voor hulle in die voerkraal uitgeplaas word. Hul groeivordering word tweeweekliks bepaal om probleme vroegtydig reg te stel.
Jan-Philip-hulle gebruik ’n outomatiese, elektroniese stelsel wat die inligting van individuele diere aanteken terwyl hulle deur die skaal beweeg. Inligting wat vir individue aangeteken word, is die weeklikse gewig en gewigstoename. As ooitjies geklas word, word hul status as een- of meerlinge, soos op die stelsel aangeteken is, ook in ag geneem.