Landbouweekblad

Salaris binne ’n trust is beslis nie ’n goeie idee

Moenie jou ore uitleen aan almal wat raad gee oor hoe om kwansuis minder belasting te betaal nie. Sommige van hierdie voorstelle sal jou van die wal af in die sloot laat beland – en jy sal boonop meer betaal.

- NICO VAN GIJSEN

Iemand wou weet of dit ’n goeie ding is – uiteraard om belastingr­edes – om jou salaris in ’n familietru­st oor te betaal en dan die premies op ’n uittree-annuïteit vanuit die trust te laat betaal. Ek staan soms verstom as ek na van die belastingf­oefies luister wat party mense verkoop, veral as hulle êrens langs die pad ’n trust kan smous, maar hierdie een span die kroon. Dit is ’n simpel idee.

Laat ek verduideli­k ter wille van diegene wat iets wil leer of dalk ’n teenargume­nt soek.

Enige salaris of inkomste wat jou toeval – vergoeding vir werk wat jy gedoen het – is belasbaar in jou hande as inkomste. Die geld word by die bruto inkomste gevoeg, waarna daar sekere vrystellin­gs is, soos rente tot by ’n sekere perk. Daarna volg wettige aftrekking­s. Op dit wat oorbly, word jy belas (ná die primêre korting) teen die heersende belastings­kaal in ’n betrokke belastingj­aar.

Vrystellin­gs en aftrekking­s is die enigste manier waarop jy jou belasting-aanspreekl­ikheid op die inkomste of salaris kan beperk. Vir diegene wat ’n salaris verdien, is die aftrekking­s maar bra min. Bydraes tot ’n aftreefond­s of uittree-annuïteit is een.

Kom ons kyk nou na die idee om jou salaris in ’n trust te laat betaal. Daardie salaris gaan belas word voordat jy dit aan die trust sal kan oordra. Al reël jy met die werkgewer om die geld direk in die trust se rekening oor te betaal, is jy persoonlik belastingp­ligtig op daardie geld. Trouens, jy hoef nie te wag tot die geld aan jou oorbetaal word nie. Jy is aanspreekl­ik vir die belasting op daardie geld die oomblik wat dit aan jou verskuldig is, nie wanneer jy dit ontvang nie.

DUBBELE SLAG

Hier ontstaan die eerste probleem. Die geld is joune en dit is reeds in jou hande belas. As jy dit nou aan die trust wil oordra, moet jy dit skenk (of aan die trust leen, wat dit dubbel so simpel sal maak). Skenk jy dit, is geskenkbel­asting betaalbaar teen 20% op die bedrag wat jy skenk (let daarop dat jy R100 000 per jaar kwytskeldi­ng van geskenkbel­asting kry). As jy dus die “plan” volg, betaal jy eers vir Jan Taks inkomstebe­lasting tot ’n marginale koers van 41%. Op dit wat oorbly, betaal jy ’n verdere 20% as jy dit aan die trust laat uitbetaal – potensieel dus belasting van 52,8%. Nou is die geld in die trust.

Die verdere probleem is dat jy weer die geld uit die trust wil hê (minstens om vir die uittree-annuïteit te betaal) en daarom moet jy eerstens ’n begunstigd­e van die trust wees aan wie geld uitbetaal mag word. Dit kan nogal moeilik wees as daar meer begunstigd­es is en jy kry sulke spesiale behandelin­g.

Hoekom sou jy die premies op die uittree-annuïteit uit die trust wil laat betaal? Die trust gaan geen aftrekking van inkomstebe­lasting op die uittree-annuïteit se premies kry nie. Dit geld net vir natuurlike persone. In elk geval, met ’n uittree-annuïteit word jy ’n lid van die fonds; dit is nie jou eie belegging nie.

As die trust wel jou uittree-annuïteit se premies betaal – en dit is nie uit die inkomste wat jy uit die trust verdien het en wat jy verklaar en waarop jy belasting betaal nie (jy en die trust moet dus ’n werkgewer-werknemer verhouding hê) – is daar vir jou geen belastinga­ftrekking beskikbaar nie. Die aftrekking­s vir premies op ’n uittree-annuïteit is slegs aftrekbaar van inkomste.

Kortom: Pleks dat jy dus die premies kan aftrek vir belasting (tot 27,5% of R350 000 per jaar) en belasting daarop spaar teen tot 41% marginaal, betaal jy tot 52,8% belasting en kry geen aftrekking op die bydraes tot die uittree-annuïteit nie. Los dus liewer maar die trust-idee.

Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhankli­ke finansiële­risiko-bestuursma­atskappy.

NAVRAE: Mnr. Nico van Gijsen, e-pos: nico@finlac. com; tel. 021 461 2067.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa