Verval van plaaslike hoenderbedryf tref wyd
Die hoenderbedryf is die grootste landbouvertakking in Suid-Afrika. Die gevolge van ’n inkrimping daarvan gaan na ander bedrywe oorspoel.
Die agteruitgang in die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf bly in die nuus – dermate dat die ANC selfs meen dat die staat sukkelende hoenderplase moet oorneem om werksgeleenthede te beskerm. Dit wys net weer die gebrekkige begrip by plaaslike beleidsmakers van die werklikhede van die moderne wêreld. Internasionale en plaaslike markte is ongenaakbaar en ander lande (en die invoeragente) gee nie ’n snars om vir enigeen buiten hulself nie.
Die groot probleem is dat Suid-Afrika nie ’n gekoördineerde landboubeleid het wat in pas met ’n gekoördineerde, internasionale handelsbeleid is nie. Dit wil voorkom asof die Regering nie die nodige vasbeslotenheid het om die hoenderbedryf te stabiliseer met gepaste invoertariewe en invoerbeheermaatreëls nie.
Natuurlik speel ’n komplekse stel faktore ’n rol. In die jongste jaar of wat is heelwat navorsing gedoen wat duidelik toon hoe die plaaslike bedryf benadeel word. Die aantyging dat plaaslike hoenderprodusente op tegniese produksievlak onmededingend is, is as onwaar bewys. In sekere opsigte is hulle selfs voor hul mededingers.
Die dilemma kan teruggevoer word daarna dat plaaslike verbruiker hoofsaaklik ingestel is op “bruinvleis”, dus hoenderboudjies en -vlerkies. Daarteenoor is die mark in Amerika en Europa hoofsaaklik vir “witvleis”, oftewel borsvleis en ontbeende hoendervleis.
Gevolglik sit Amerika en Europa met groot volumes onverkoopte hoendervleis wat teen ’n lae prys na Suid-Afrika uitgevoer word.
Die Suid-Afrikaanse bedryf word egter met allerlei maatreëls kunsmatig daarvan weerhou om “witvleis” of selfs heel hoenders na daardie lande uit te voer.
Dit is beslis nie ’n gelyke speelveld vir handeldryf nie.
WINKELPRYSE
Die invoerders regverdig die invoer van die goedkoop hoendervleis deur aan te voer dat dit goedkoop voedsel vir plaaslike verbruikers is. Die bevrore produkte word teen sowat R15/kg ingevoer vergeleke met plaaslike
se prys van sowat R25/kg.
Die laer prys vind egter nie sy weg na die winkelrak nie. Die invoerders en kleinhandelaars maak na bewering groot wins op die invoer en dit is waarom hulle so heftig gekant is teen pogings om behoorlike invoertariewe in te stel. Die plaaslike hoenderbedryf het bereken dat die invoertarief effe meer as 30% moet wees om die speelveld gelyk te kry, maar die staat was net bereid om ’n tarief van sowat 13% einde verlede jaar in te stel.
Omdat die verbruiker min voordeel uit die goedkoop invoer kry, sal ’n tarief van 30% nie juis ’n uitwerking op die winkelrakprys hê nie, maar wel plaaslike produsente beskerm. Dit sal egter die middelmanne se wins knou.
In GRAFIEK 1 word die verloop van invoerpryse gegrond op Amerikaanse hoenderstuk- ke teenoor die plaaslike produsenteprys vir bevrore en vars, heel hoenders aangetoon. Die dilemma is duidelik. Die invoerpryse bly daal omdat die verstewiging van die rand invoer goedkoper maak.
BELANGRIKHEID VAN BEDRYF
Die hoenderbedryf is die grootste landboubedryf in Suid-Afrika. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye raam dat die hoenderbedryf se bruto waarde van produksie in die derde kwartaal van verlede jaar sowat R38,5 miljard was. Die waarde van die beesvleisbedryf was R31,5 miljard, die mieliebedryf R27 miljard en die hele groentebedryf R22,5 miljard.
Die hoenderbedryf verskaf werk aan groot getalle mense, maar dit krimp. Dié inkrimping het nie net ’n uitwerking op die veevoermark nie, maar op die hele waardeketting.
Provinsiale regerings het in die jongste paar jaar groot bedrae geld bestee om geriewe daar te stel vir opkomende hoenderboere, wat dit nog moeiliker vind om met die ingevoerde hoendervleis mee te ding as die groot boere. Verskeie van hierdie projekte het daarom skynbaar begin ondergaan.
In GRAFIEK 2 word die verloop van die plaaslike hoendervleisproduksie en die invoer vergelyk. Invoer word geraam op bykans 500 000 ton hoendervleis met ’n waarde van sowat R7 miljard.
Die plaaslike produksie het reeds met sowat 15-20% gekrimp namate invoer groei. Veral die kleiner produsente verlaat die bedryf en hulle sal moeilik kan terugkeer.
Die inkrimping van die hoenderbedryf gaan mielieboere se binnelandse mark erg laat krimp en hulle dwing om meer mielies uit te voer.
Die groot volumes hoendervleis wat ingevoer word, is regstreekse mededinging vir rooivleis. Ja, die prys van rooivleis is tans besonder sterk omdat veeboere hul kuddes ná die droogte bou, maar wanneer die aanbod gaan toeneem, gaan die rooivleisbedryf vind dat hy markaandeel aan ingevoerde hoendervleis afgestaan het.
Dit kan tot drie jaar kos om die produksie van hoenders weer op dreef te kry as die bedryf begin groei. Die oorblywende proprodusente
dusente wat ’n langertermynsiening inneem, span nuwe tegnologie in om onder meer duur arbeid te vervang. Intussen vererger die skade wat aan ’n wye front aan die landbou en plattelandse ekonomie aangerig word.
VOERMARK
In GRAFIEK 3 word die verloop van die plaaslike geelmielieprys en die produsenteprys van bevrore hoenders aangedui. Een van die faktore wat die plaaslike hoender- en veebedryf knel, is dat plaaslike mieliepryse weens wisselvallige reënval van een seisoen na die ander skerp wissel vanaf uitvoer- na invoerprysvlakke. Mielies maak sowat 60% van die hoenderbedryf se produksiekoste uit.
In Amerika en Suid-Amerika is die voerpryse permanent op uitvoerprysvlakke, wat aansienlik goedkoper as Suid-Afrikaanse mieliepryse is.
Die Veevoervervaardigersvereniging sê sy lede het in 2015-’16 sowat 2,8 miljoen ton hoendervoer vervaardig. Na raming maak mielies sowat 80% van hierdie voer uit. Dit is dus nie vergesog om te raam dat die hoenderbedryf sowat 2,2 miljoen ton mielies per jaar verbruik nie. As ’n mens verder raam dat sowat 1,8 kg voer nodig is om 1 kg hoendervleis te lewer, beteken dit die ingevoerde hoendervleis verplaas ’n groot deel van die moontlike binnelandse mark vir geel mielies en oliekoek.
As die mark met net 20% inkrimp, beteken dit dat Suid-Afrika se mielieboere bykans 400 000 ton meer geel mielies sal moet uitvoer, want die binnelandse voermark is dan baie kleiner.
Dit is moeilik om enige wenners in die situasie te sien buiten die invoeragente. Dit sal interessant wees as ’n mens kon bepaal watter maatskappye hoendervleis invoer.
Die inkrimping van die hoenderbedryf is nie tot voordeel van die land se ekonomie en sy boere nie. Dit is egter onwaarskynlik dat die Regering die moed sal hê om beleidstandpunte in te neem, want die ANC is te besig met binnegevegte om hom veel oor die landsekonomie te bekommer.